Nie Gemaak Om Alleen Te Wees Nie - Gemaak vir Gemeenskap in 'n Eensame WêreldVoorbeeld
God is Met Jou
Lees: Deuteronomium 31:1–8
SOAP: Deuteronomium 31:6
”Hou moed en wees dapper! Moenie bang wees nie, moenie vir hulle skrik nie, want die Here julle God gaan saam met julle. Hy sal julle nie in die steek laat nie, julle nie alleen laat nie.”
Oordenking
God het vir ons 'n pragtige voorsmaak van gemeenskap gegee deur ons 'n verhouding met Homself te gee. Om 'n Bybelse gemeenskap te vind beteken om 'n groep mense te ontdek wat God liefhet en Hom gehoorsaam, wat sy beeld aan die wêreld rondom hulle weerspieël terwyl hulle mekaar aanmoedig om elke dag naby Jesus te bly. Dit gaan nie oor eksklusiewe kleingroepe, klieks of gewildheidskompetisies nie, maar om ander te vind, beide mans en vroue, wat daartoe verbind is om hul verhouding met God te prioritiseer en wat jou wil help om dieselfde te doen.
Wanneer ons God liefhet en Hom gehoorsaam, wanneer ons naby Jesus bly, kan ons vashou aan die belofte dat Hy met ons sal wees. Hy sal ons nie verlaat of ons in die steek laat nie. In vandag se leesstuk, alhoewel Moses nooit die beloofde land sou binnegaan nie, het God aangehou om sy beloftes na te kom. Hy was by die Israeliete en Hy sou voor hulle uitgaan om die pad oop te maak. Moses het die volk beveel om nie bang te wees nie. Maak nie saak wat hulle in die gesig gestaar het nie, God was nie net voor hulle uit nie, maar Hy was ook by hulle. God sal sy mense nooit verlaat nie en Hy sal hulle ook nooit in die steek laat nie.
Die woord gemeenskap kom van die Latynse voorvoegsel ‘con-‘ (wat ‘saam’ beteken) en die woord ‘munis’ (wat te doen het met die uitvoering van dienste). Dit is 'n gevoel van kameraadskap met ander, as gevolg van die deel van gemeenskaplike gesindhede, belangstellings en doelwitte. God kon eenvoudig voor ons uitgaan, die pad oopmaak en ons toelaat om Hom te volg. Maar Hy kies om ook by ons te wees, in gemeenskap, om saam vorentoe te beweeg terwyl ons ons volgende stappe neem om nader aan Hom te groei en om te groei en te verbind met diegene rondom ons.
Kameraadskap. Saam, met. Ons verhouding met God is aktief, naby en persoonlik, nie ver en koud nie. En ons belofte-houdende God sê weereens vir ons dat Hy ons nooit in die steek sal laat, of ons sal verlaat nie. Moenie bang of moedeloos wees nie!
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Nog nooit tevore in die geskiedenis van die wêreld was mense meer met mekaar “verbind” as ons huidige generasie nie, en tog voel so baie van ons meer eensaam as ooit. God het ons ontwerp om in gemeenskap met Hom en met mekaar te leef. In hierdie vier-weke lange studie gaan ons leer hoe ‘n Bybelse gemeenskap lyk en hoe om dit in ons lewens te kweek.
More
Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.lovegodgreatly.com/Afrikaans