Stilte: Die Krag en Noodsaaklikheid DaarvanVoorbeeld

Stilte: Die Krag en Noodsaaklikheid Daarvan

DAG 11 VAN 13

Stilte: die krag en noodsaaklikheid daarvan (11)

Johannes 8:6-8 - "Dit het hulle gevra om Hom uit te lok, sodat hulle iets kon kry waaroor hulle Hom kon aankla. Maar Jesus het gebuk en met sy vinger op die grond geskrywe. Toe hulle aanhou om Hom te vra, het Hy regop gekom en vir hulle gesê: “Laat die een van julle wat ’n skoon gewete het, eerste ’n klip op haar gooi.” Daarna het Hy weer gebuk en op die grond geskrywe."

Jesus het stilswye gebruik om mense tot besinning te bring. Toe die geestelike leiers die owerspelige vrou in Johannes 8 wou stenig, het Hy met sy vinger op die grond geskryf en nie ’n woord gepraat nie. In daardie stilte het God Homself in die gewete van hierdie leiers geopenbaar.

Die Fariseërs en Skrifgeleerdes was gedryf deur hulle eie kodes en "kerkkultuur". So word ons samelewing, veral die Westerse samelewing, deur vyf konsepte (emosies) gedryf. Daar is meer. Maar vir nou is dit voldoende om vyf te noem:

  • Woede, frustrasie en kritiek
  • Gierigheid, afguns en jaloesie
  • Geld en mag (power)
  • Ondeurdagte, sinnelose en onwyse woorde
  • Wellus

Dit lei tot sinneloosheid. Frustrasie. Onvergenoegdheid. Opstandigheid. Gevoelens van verwerping. Doelloosheid. Magteloosheid. Niemand-is-lief-vir-my-nie. Ek is onaanvaarbaar. Redelose verbitterdheid. Ek voel onveilig. Ek is kwaad (maar ek weet nie vir wie nie). Ek weet nie wat om met my mislukkings en sonde te doen nie (al gee ons dikwels ander name aan sonde). En dit gebeur met Christene en nie-Christene.

Al hierdie woorde is die gevolge van bogenoemde samelewing-gedrewe emosies en begeertes.

Stilte konfronteer hierdie gevoelens. Dit bring hierdie emosies na die oppervlak. Die erkenning van hierdie emosies is die begin van bevryding. In die stilte kom die Heilige Gees en help ons om die regte vrae te vra en om antwoorde op die regte plekke te gaan soek.

In die stilte kan ons die vrae vra wat ons andersins nie durf vra of erken nie – ons hoogmoed en arrogansie laat ons nie toe om daardie vrae te vra nie. Sonder dat ons dit weet of erken, openbaar ons woorde hierdie emosies. Ons woorde is so dikwels "Godlose" woorde, water geskep uit onrein fonteine, verwarrende en verwarde woorde sonder wysheid en betekenis – leë woorde.

Dag 10Dag 12

Aangaande hierdie leesplan

Stilte: Die Krag en Noodsaaklikheid Daarvan

Almal het stilte nodig. Soms weet ons dit nie, maar sodra daar tye van stilte kom, kom vreemde vrede. Daar word die stemme van die wêreld en die stemme van my eie gedagtes uitgedoof. In daardie stiltes kom God dikwels en begin met ons praat. Mag hierdie leesplan jou by dieper intimiteit met God bring.

More

Ons wil graag Disciple4 bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://disciple4.comv