Man Van God: Hoe Lyk 'n Man Van God?Voorbeeld

Man Van God: Hoe Lyk 'n Man Van God?

DAG 7 VAN 8

‘n Man van leef ooreenkomstig die waarheid en bevele van die Woord (2)

Ons het manne soos Daniël nodig wat"geliefde man" genoem word (Daniel 10:11). Verskeie Engelse vertalings beskryf hom as“a man highly esteemed, a man who was treasured, a man highly precious, a man greatly loved.”

Dit is manne wat as dit nodig sou wees, alleen in die wêreld sal staan en nie kompromieë sal aangaan nie – net soos die apostels, profete en die manne van God deur die eeue soms alleen moes staan.

Manne van God soek nie groot dinge vir hulleself nie, maar begeer om beskikbaar te wees dat God sy werke deur hulle kan doen, alleen tot sy eer.

Manne van God leef in die werklikheid van God se opperheerskappy en voorsiening. Hulle weet dat alles wat met hulle gebeur onder die beskermende hand van God is – dat alles wat gebeur ten goede meewerk vir hulle vir wie God lief is (Romeine 8:28).

Dit is manne wat hulle blydskap in die Here vind en hulle in Hóm verbly, sý eer soek en vol van die vreugde van die Here is.

Godsmanne lewe in geloof, maak nie staat op hulle eie vermoëns nie, maar stel hulle vertroue in die Here. Hulle lewe in die krag van God en is nie bang om Hom te volg nie – ongeag die omstandighede.

Hulle is vrygewig en gee hulle tiendes met blydskap – hulle gee offervaardig om die nood van mense te verlig en die koninkryk van God uit te bou (1 Korintiërs 6:9-11). ‘n Man van God is nie suinig nie.

Hulle leef heilig te midde van goddeloosheid en rebellie teen God. Hulle leef sonder om kompromieë aan te gaan in ‘n samelewing wat slawe van genot geword het, vir hulleself lewe en afgode in hulle harte toegelaat het.

Manne van God sien die lewe en omstandighede vanuit 'n hemelse perspektief en met die ewigheid in gedagte. Hulle laat hulle nie beïnvloed deur menslike waardestelsels nie.

Godsmanne onderskei tussen wat uit die Gees en wat uit die vlees gebore is. Hulle streef daarna om die Woord van God onder leiding van die Gees reg te verstaan en in gees en in waarheid vanuit die Woord te lewe.

Godsmanne staan as priesters van God voor sy troon en bid sonder ophou (Openbaring 1:6; 1 Petrus 2:9). Hulle herinner God aan sy beloftes en weet dat hulle enigste toegang tot die troon van God, die Naam en verdienste van Jesus Christus is.

Hulle eie nood is vir hulle minder belangrik as die nood van 'n stukkende en verlore wêreld.

Dag 6Dag 8

Aangaande hierdie leesplan

Man Van God: Hoe Lyk 'n Man Van God?

Ons het Godsmanne in die kerk nodig. Dit is manne wat ten volle aan God oorgegee is en in die krag van die Heilige Gees lewe. Daar is vandag 'n gebrek aan sulke manne en vaders. In hierdie leesplan probeer ek verduidelik hoe die lewe van 'n man van God behoort te lyk en hoe dit kan lyk indien iemand homself aan God oorgee.

More

Ons wil graag Disciple4 bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://disciple4.com