KLAAGLIEDERE 3:31-66

KLAAGLIEDERE 3:31-66 NLV

Want die Here laat ’n mens nie vir altyd eenkant nie. Hy bring wel hartseer, maar Hy het ook medelye omdat sy troue liefde so groot is. Hy geniet dit nie wanneer mense seerkry of hartseer is nie. Die leiers van sy volk het gevangenes mishandel. Hulle het mense se regte vertrap in die teenwoordigheid van die Allerhoogste. Hulle behandel mense in die hof onbillik. Hulle dink Hy sien dit nie raak nie. Kan daar iets gebeur as die Here dit nie toelaat nie? Is dit nie die Allerhoogste wat een mens help en ’n ander vernietig nie? Waaroor sal ons kla wanneer ons gestraf word omdat ons oortree het? Laat ons eerder gaan kyk na wat ons gedoen het en daaroor nadink sodat ons kan omdraai na die HERE toe. Laat ons ons harte en hande uitsteek na God daarbo en sê: “Ons was opstandig teen U en het nie na U geluister nie. U het ons nie vergewe nie. “U was so kwaad vir ons dat U ons agternagesit het om ons genadeloos uit te roei. U het agter wolke gaan staan sodat ons gebede U nie kon bereik nie. Tussen die nasies het U ons gemors en vullis gemaak. Al ons vyande rek hulle monde oor ons. Ons is bang. Ons sit vasgehok. Ons is verwoes en eenkant toe gegooi.” Ek huil omdat my volk vernietig is. Ek huil onophoudelik. Dit sal nie ophou voordat die HERE my van bo af raaksien nie. Ek is ontsteld oor die vroue van Jerusalem. My vyande het jag gemaak op my, sonder rede. Hulle wou my vang soos ’n voël. Hulle wou my in ’n waterput verdrink. Hulle het klippe van bo af op my gegooi. Waters het oor my kop gegaan en ek het gedink: “Dit is verby met my.” Van onder in die put, o HERE, het ek na U begin roep. U het my hoor roep: “Moet asseblief nie u ore toedruk wanneer ek roep dat U my moet kom help nie.” Toe ek na U geroep het, het U nadergekom en gesê: “Moenie bang wees nie!” U het my saak verdedig en my lewe gered. U het gesien ek is veronreg. Gee tog uitspraak in my guns! U het gesien watter planne hulle teen my smee. U het gehoor hoe hulle my beledig. U weet van al die planne wat hulle teen my gesmee het. Hulle sit heeldag en sleg praat oor my. Oral waar hulle kom, sing hulle spotliedjies oor my. Betaal hulle terug in eie munt, o HERE, vir alles wat aan my gedoen is. Maak hulle hardkoppig en straf hulle dan daarvoor. Vervolg hulle in u woede. Roei hulle uit van die aarde af.

Gratis leesplanne en oordenkings oor KLAAGLIEDERE 3:31-66