Die Here sluit ’n mens mos nie vir altyd uit nie. Hy maak ’n mens wel seer. Omdat sy liefde so groot is, kry Hy ons ook weer jammer. Die Here verneder nie graag mense nie. Hy laat hulle ook nie verniet seerkry nie. Die Here sien dit raak as gevangenes mishandel word. Hy sien wanneer mense verontreg word, teen die wil van die Allerhoogste. Hy kyk hoe mense in die hof onbillik behandel word. Kan enigiemand iets laat gebeur as die Here nie daarmee instem nie? Kom die slegte en die goeie dinge nie maar alles van God daar bo nie? Waaroor sal ’n mens kla wanneer hy lewe al het hy verkeerd gedoen? Kom ons gaan kyk hoe ons pad geloop het en dink ’n bietjie na oor wat ons gedoen het. Dan kan ons omdraai na die Here toe. Laat ons ons hart en ons hande na die Here in die hemel uitsteek. Laat ons met alles wat ons het tot Hom bid: “Here, U kan ons nie vergewe nie, want ons was hardkoppig en opstandig teenoor U. “U was so kwaad vir ons dat U ons agternagesit het om ons sonder genade dood te maak. U het agter die wolke ingegaan sodat nie een van ons gebede by U kon uitkom nie. U het ons die ashoop van die wêreld gemaak waarop al die gemors gegooi word. Al ons vyande beledig ons en sê van ons net wat hulle wil. Ons is bang en vasgekeer. Ons is verwoes en eenkant gegooi.” Ek huil lang trane omdat my volk in duie gestort het. Ek sal aanhou huil, ek sal nie ophou nie totdat die Here afkyk uit die hemel en my raaksien. Ek is baie hartseer as ek sien wat met die dogters in Jerusalem gebeur het. Mense wat sonder enige rede my vyande geword het, jaag my asof hulle ’n voël probeer vang. Hulle het my in ’n waterput gegooi om my te laat verdrink. Hulle het dit met klippe toegepak. Die water het oor my kop gegaan en ek het gedink: Nou is dit verby met my. Daar onder in die put het ek na U begin roep, Here. En U het gehoor toe ek roep: “Moet asseblief nie u ore toedruk wanneer ek roep dat U my moet kom help nie.” Die dag toe ek na U geroep het, het U vir my kom sê: “Hou nou op om bang te wees.” U het soos ’n prokureur in die hof vir my saak geveg en my lewe gered. Gee tog uitspraak in my guns, want U sien hoe hulle die wet verdraai om onreg aan my te doen. U sien tog al die plannetjies wat hulle maak om my terug te kry. U hoor watter planne hulle alles maak om my te beledig. Hulle wat teen my gekant is, sit heeldag en sleg praat oor my. Waar hulle ook al kom, sing hulle liedjies waarin hulle met my die spot dryf. Betaal hulle terug, Here, vir elke ding wat hulle aan my gedoen het. Laat hulle al slegter word en straf hulle dan daarvoor. Sit hulle agterna met u woede en roei hulle heeltemal uit op die aarde.
Lees Klaagliedere 3
Deel
Vergelyk alle weergawes: Klaagliedere 3:31-66
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's