KLAAGLIEDERE 3:31-66

KLAAGLIEDERE 3:31-66 AFR83

Die Here verstoot 'n mens nie vir altyd nie; as Hy beproewing oor 'n mens gebring het, ontferm Hy Hom weer, want sy liefde is groot: dit is teen sy sin dat Hy mense in ellende en beproewing bring. Dat al die gevangenes in die land mishandel word, dat iemand se reg vertrap word voor die Allerhoogste, dat 'n mens in 'n regsaak veronreg word – die Here sien dit raak! Wie kan iets beplan, en dit gebeur, as die Here nie die bevel gee nie? Is dit nie op bevel van die Allerhoogste dat die kwaad sowel as die goeie te voorskyn kom nie? Wat kla 'n mens oor sy lewe? Hy moet liewer sy sonde oorwin. Laat ons ons doen en late deeglik ondersoek en ons tot die Here bekeer, laat ons met ons hele hart ons hande na God in die hemel uitsteek en bely: “Ons het sonde gedoen en was opstandig; U het nie vergewe nie.” U toorn het ontvlam en U het ons agtervolg, U het 'n slagting aangerig en nie genade betoon nie. U het U met 'n wolk omhul sodat geen gebed na U kon deurkom nie, U het ons die uitvaagsel gemaak, die skuim onder die volke. Al ons vyande rek hulle mond oor ons; angs en benoudheid het oor ons gekom, verlatenheid en verwoesting. Die trane loop in strome uit my oë oor die vernietiging van my volk. My trane sal aanhou vloei, dit sal nie ophou nie, totdat die Here uit die hemel afkyk en dit raaksien. Wat my oë sien, maak my hartseer oor al die dogters van my stad. Mense het op my jag gemaak soos op 'n voël, hulle is sonder rede vyandig teenoor my, hulle het my in 'n put gegooi en klippe op my afgerol om my dood te maak; die water het tot by my kop gestyg, ek het gedink dit is klaar met my. Ek het na U geroep, Here, uit die dieptes uit. U het gehoor hoe ek smeek: “Moet tog nie afsydig staan nie, gee uitkoms en red my!” U het na my toe gekom toe ek geroep het, U het gesê: “Moenie bang wees nie!” U verdedig my saak, Here, U red my lewe. U sien die onreg teen my, Here, lewer tog uitspraak in my guns, U sien hoe hulle my haat, hoe hulle teen my saamspan. U hoor self hoe hulle my beledig, Here, hoe hulle teen my saamspan, hoe hulle heeldag oor my praat en spot. Of hulle sit en of hulle staan, hoor hoe sing hulle spotliedjies oor my. Straf hulle, Here, volgens wat hulle gedoen het, laat benoudheid hulle oorval, tref hulle met u vloek, agtervolg hulle in u toorn en verdelg hulle, weg onder u hemel uit.

Gratis leesplanne en oordenkings oor KLAAGLIEDERE 3:31-66