Klaagliedere van Jeremia 3:31-66

Klaagliedere van Jeremia 3:31-66 AFR20

My Heer verwerp beslis nie die mens vir ewig nie; maar as Hy iemand bedroef het, ontferm Hy Hom met die volle omvang van sy troue liefde. Hy verdruk en bedroef mensekinders teen sy sin. Dat al die gevangenes van die aarde vertrap word; dat die reg van 'n mens voor die Allerhoogste geskend word; dat enige mens se regsaak verydel word – sien my Heer dit nie? Wie sê iets en dit gebeur as my Heer dit nie gebied het nie? Kom sowel die goeie as die slegte nie uit die mond van die Allerhoogste nie? Wat kla 'n mens terwyl hy nog leef, 'n jong man oor die straf op sy sonde? Laat ons ons handelswyse ondersoek en toets, en laat ons na die HERE terugkeer. Laat ons ons harte saam met ons hande ophef na God in die hemel. Ons het oortree; ons was opstandig. U het ons nie vergewe nie. U het U in toorn gehul en ons agtervolg; U het genadeloos doodgemaak. U het U afgeskerm met 'n wolk waardeur geen gebed kan dring nie. Uitvaagsels en vullis het U ons gemaak onder die volke. Al ons vyande het hulle mond vol oor ons. Angs en afgrond het ons lot geword, verwoesting en ineenstorting. Uit my oë vloei strome water oor die ineenstorting van die dogter van my volk. Sonder onderbreking, sonder einde, bly my trane loop, totdat die HERE uit die hemel neerkyk en dit sien. Hoe pynlik om al die dogters van my stad so te sien! Verbete en sonder rede het my vyande my soos 'n voël gejag. Hulle het my lewe in 'n opgaarput uitgedoof en klippe op my gegooi. Die water het tot oor my kop gestyg en ek het gedink ek is verlore. Ek roep u naam, o HERE, uit die diepste put. U het my stem gehoor. Moet tog nie u ore sluit vir my geroep om uitkoms nie. U het na my toe gekom op die dag toe ek na U geroep het. U het gesê: “Moenie bang wees nie.” U, my Heer, het my regsaak behartig; U het my lewe gered. U, HERE, het die onreg wat my aangedoen is, gesien; lewer 'n regverdige uitspraak oor my. U het al hulle wraakgierigheid gesien, al hulle planne vir my. U het hulle uittarting gehoor, HERE, al hulle planne teen my, alles wat oor my teenstanders se lippe kom, en hulle geskinder oor my die hele dag. Of hulle sit en of hulle opstaan, kyk tog, hulle spotlied gaan oor my. U, o HERE, sal hulle volgens die werke van hulle hande vergeld. U maak hulle harte onbeskaamd; mag u vloek oor hulle kom! U sal hulle in toorn vervolg en hulle uitroei onder die hemel van die HERE.

Gratis leesplanne en oordenkings oor Klaagliedere van Jeremia 3:31-66