Geestelike Dissiplines en Evangelisasie Voorbeeld

Spiritual Disciplines & Evangelism

DAG 4 VAN 9

  

DAG 4: GEBED

Martin Luther het eenmaal gesê: "Om 'n Christen te wees sonder om te bid, is net so onmoontlik as om te lewe sonder om asem te haal." As ons na Jesus as ons model kyk, sal dit inderdaad onmoontlik wees om die belangrikheid van gebed te verwyder van 'n eerlike prentjie hoe die lewe met God lyk. Jesus was daarvoor bekend dat hy dikwels alleen gebid het en ook saam met ander. Sy lewe was 'n volledige prentjie van verbondenheid aan God, sy Vader. In Matteus 6:5-8 sê Jesus vir ons hoe om te bid:

"Verder, as julle bid, moet julle nie soos die skynheiliges wees nie. Hulle hou daarvan om in die sinagoges en op die straathoeke te staan en bid sodat die mense hulle kan sien. Dit verseker Ek julle: Hulle het hulle beloning klaar weg. Nee, as jy bid, gaan na jou kamer toe, maak die deur toe en bid tot jou Vader wat jy nie kan sien nie. Jou Vader wat sien wat verborge is, sal jou beloon. Wanneer julle bid, moet julle nie soos die heidene 'n stortvloed van woorde gebruik nie. Hulle verbeel hulle hulle gebede sal verhoor word omdat hulle baie woorde gebruik. Moet dan nie soos hulle maak nie, want julle Vader weet wat julle nodig het, nog voordat julle dit van Hom vra."

Gebed begin met die regte geestesingesteldheid. Hoekom bid ons? Vir ander? Vir onsself? Uit skuldgevoel? Nood? Die waarheid is, daar is 'n rede vir elke daad. Terwyl ons dieper delf na wat in die wese van ons harte verskuil is, moet ons met God eerlik wees. Eerlike en opregte gebede is die enigste soort gebede wat God begeer. 

Hierna raak ons betrokke by gebed wat betekenisvol en kreatief is. Dit is aanbidding en lofprysing, dit is voorbidding en belydenis. In Matteus 6:9-13 gee Jesus sy dissipels leiding:

"So moet julle bid: Ons Vader wat in die hemel is, laat u Naam geheilig word; laat u koninkryk kom; laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel. Gee ons vandag ons daaglikse brood; en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe wat teen ons oortree; en laat ons nie in versoeking kom nie maar verlos ons van die Bose."

Sien jy wat hier gebeur? Jesus begin deur te sê: "So moet julle bid." Net so. Dit is 'n modelgebed wat lofprysing, voorbidding, versoeke, belydenis en smeking insluit. Daar is nie 'n regte of verkeerde manier om te bid nie, maar ons moet altyd opreg en uit die hart bid. Of dit 'n tradisionele ortodokse gebed is of een wat spontaan uit jou gedagtes en hart voortspruit, die dissipline van gebed moet ons altyd en ewig nader aan die hart van Jesus en sy liefde vir 'n verlore en sterwende wêreld trek.

Gebed bou passie. Die 24-7 Gebedsbeweging het 'n Visie Gedig wat 'n radikale siening van gebed uiteensit om alles te verander. Hierdie woorde kom daarin voor: "Met bloed en sweet en baie trane, met slapelose nagte en vrugtelose dae, bid hulle asof alles van God afhang en lewe asof alles van hulle afhang." 

Hierdie visie van die gebedslewe trek ons reguit terug na Jesus en sy modelgebed. Terwyl ons vir ons wêreld voorbidding doen, kom ons harte nader aan hulle wat as nikswerd beskou word, die gebrokenes, die verlorenes. Ons "Hoe lank, o Here?" verander in dade as ons nie langer met die gedagte kan saamleef van hulle om ons wat sonder die Een ding lewe wat alles sal verander nie: Jesus. Charles Spurgeon het sy begeerte op hierdie manier uitgedruk: "As sondaars verdoem is, laat hulle ten minste bo-oor ons liggame hel toe gaan. As hulle ondergaan, laat hulle ondergaan met ons arms om hul knieë. Laat niemand daarheen gaan sonder waarskuwing of gebed nie."

Geloofwaardige, werklike, opregte gebed laat ons harte bars om die goeie nuus van Jesus met almal te deel wat nog in die donker is.

Vrae vir Oordenking: 


  • Hoe beskou jy gebed?
  • Watter gebedsmodel werk die beste vir jou om naby God te kom?
  • Op watter maniere kan jy gebed by jou daaglikse lewe insluit?
  • Hoe kan jy jou gebedstye gebruik as geleenthede om jou passie vir evangelisasie te bou?

   

Dag 3Dag 5

Aangaande hierdie leesplan

Spiritual Disciplines & Evangelism

Die geestelike dissiplines speel 'n spesifieke rol in die Christelike ervaring — dit lei gelowiges om meer soos Jesus te word in hul gedagtes, woorde en dade. Hoe maak dit deel uit van ons roeping om die liefde van Jesus aan ander te toon en te bewys? Hierdie leesplan sluit agt van die geestelike dissiplines in om jou te help groei in geloof, sodat dit na ander toe sal oorloop!

More

Baie dankie aan The Billy Graham Center by Wheaton College wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting, besoek gerus: http://www.billygrahamcenter.org