Geestelike Dissiplines en Evangelisasie Voorbeeld

Spiritual Disciplines & Evangelism

DAG 7 VAN 9

  

DAG 7: OPOFFERING

Wanneer jy die woord "opoffering" hoor, wat kom in jou gedagtes op? Die woordeboek gee ons hierdie definisie: die handeling, proses of daad om iets waardevol prys te gee. Hier, is "waardevol" die woord wat ons moet verstaan. Iets kosbaar en van groot waarde. Twee kort gelykenisse in Matteus 13 raak die kern hiervan aan: die gelykenis van die verborge skat en die gelykenis van die kosbare pêrel:

"Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met 'n skat wat in 'n saailand onder die grond lê. Wanneer iemand dit kry, maak hy dit weer toe; en omdat hy baie in sy skik is, gaan verkoop hy alles wat hy het, en hy koop daardie land." “Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met 'n handelaar wat op soek is na goeie pêrels. As hy 'n baie waardevolle pêrel raakloop, gaan verkoop hy alles wat hy het, en koop die pêrel" (Matteus 13:44-46).

In die dissipline van opoffering moet ons dus almal begin deur te erken dat ons dinge verafgod. Ons voel almal deur ander goed as God self aangetrokke. Wat trek jou aan? Ons moet die goed op die naam noem wat ons verafgod en bo ons liefde vir die Verlosser plaas, want dit is 'n kritiese stap na die verdieping van ons verhouding met God. Is ons eerste liefde geld, om deur ander geprys te word, ons kinders of ons werk? Hier vat dit ons terug na die dissipline van belydenis. Ons bely dat ons God nie so liefgehad het as wat ons moes nie. 

God vergewe, maar dit hou nie daar op nie. Hoe begin ons dan om God weer die middelpunt van ons lewens te maak? Ons kan dit nie alleen doen nie. Die dissipline van opoffering smag dat die Heilige Gees in ons harte sal werk. Galasiërs 2:20 sê: "en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe. Die lewe wat ek nou nog hier lewe, leef ek in die geloof in die Seun van God wat sy liefde vir my bewys het deur sy lewe vir my af te lê." As lewende offers, wik en weeg ons nie; inteendeel, ons gee onsself gewillig oor aan die wil van God en sy gesag om in ons lewens te werk. Christus in ons. Kom Heilige Gees. Here kom. Ons het God se krag nodig om ons geneigdheid te oorkom om ons na ander goed as na Hom te wend.

Wat is die ware opoffering wat God begeer? Jesus vertel ons in Matteus 9:13: "Gaan leer wat dit beteken: ‘Ek verwag barmhartigheid en nie offers nie.’ Ek het nie gekom om mense te roep wat op die regte pad is nie, maar sondaars.” Opoffering word in die herskepping van ons harte gevind. Opoffering word sigbaar op die wyse waarop ons ons lewens leef en hoe ons teenoor ander reageer. Kortliks, is ware opoffering om ander hoër as onsself te ag. Ten diepste is dit ook evangelisasie. 

Die dissipline van opoffering moet altyd eindig met die uitleef en deel van Jesus se liefde in 'n gebroke en hartseer wêreld. Dit raak ontslae van afgode soos vrees, selftevredenheid, die eie ek, en bied Jesus se liefde met geopende arms aan. As Christus nou in ons is, dan begeer Hy om Homself aan ander bekend te maak. Ons offer aan God is om Hom toe te laat om dit deur ons te doen. Ons word oop kanale van genade vir 'n wêreld wat in sonde en hartseer verdrink. 

Vrae vir Oordenking: 


  • Ontsenu of troos die idee van opoffering aan God jou? Hoekom?
  • Wanneer jy aan opoffering dink, wat kom by jou op as jy oor jou lewe dink? Op watter maniere het jy ander goed bo God geplaas?
  • Hoe kan jy ten beste van die afgode in jou lewe ontslae raak?
  • Hoe kan jy op 'n selfopofferende wyse jou tyd, talente of hulpbronne gee om 'n getuie vir Christus te wees?


Dag 6Dag 8

Aangaande hierdie leesplan

Spiritual Disciplines & Evangelism

Die geestelike dissiplines speel 'n spesifieke rol in die Christelike ervaring — dit lei gelowiges om meer soos Jesus te word in hul gedagtes, woorde en dade. Hoe maak dit deel uit van ons roeping om die liefde van Jesus aan ander te toon en te bewys? Hierdie leesplan sluit agt van die geestelike dissiplines in om jou te help groei in geloof, sodat dit na ander toe sal oorloop!

More

Baie dankie aan The Billy Graham Center by Wheaton College wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting, besoek gerus: http://www.billygrahamcenter.org