Geestelike Dissiplines en Evangelisasie Voorbeeld

Spiritual Disciplines & Evangelism

DAG 6 VAN 9

  

DAG 6: BELYDENIS

Dit is nie lekker om te erken ons is verkeerd nie, veral wanneer ons iemand diep seergemaak het. In 'n 1993 uitgawe van Today in the Word, kom hierdie storie voor: 

In die badkamer van sy Londense klub het die Britse koerantuitgewer en politikus, William Beaverbrook, toevallig vir Edward Heath, toe nog 'n jong parlementslid, raakgeloop. Beaverbrook het 'n paar dae tevore 'n beledigende hoofartikel oor Heath gepubliseer. "Ek het weer daaroor nagedink, en ek was verkeerd. Hier en nou wil ek jou graag om verskoning vra." "Goed so," het Heath geknor. "Maar ek hoop volgende keer beledig jy my in die badkamer en vra verskoning in jou koerant." 

Die enigste manier hoe ons teenoor God en ander reg kan optree, is deur die regte pad te loop. Soms mag ons dalk nie vergifnis van mense ontvang wanneer ons belydenis doen nie. Met God is dit nooit die geval nie. In 1 Johannes 1:9 staan: "Maar as ons ons sondes bely – Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid." God vergewe altyd.

Die dissipline van belydenis, begin met 'n nederige hart wat vergewe wil word. In Psalm 32:3, sê Dawid: "Toe ek oor my sonde geswyg het, het my liggaam uitgeteer soos ek heeldag om hulp geroep het." Ons erken dat ons tekortskiet van wat God ons gemaak het om te wees. Soms lyk dit of ons sonde meer diepgaande en lelik is; ander kere, is dit subtiel en stil. Albei beledig God. Albei moet ons op ons knieë dwing. Ons moet eenvoudig met God regmaak.

A.W. Tozer stel dit in Knowledge of the Holy, so: 

"Totdat ons onsself sien soos God ons sien, sal toestande om ons, ons nie sommer omkrap nie, solank dit net nie so ver buite beheer raak dat dit ons gemaklike manier van lewe bedreig nie. Ons het geleer om met onheiligheid saam te leef en ons beskou dit as natuurlik en wat jy kan verwag."

Wat egter wonderlik is, is wanneer ons teenoor God bely, want Hy vergewe altyd. Altyd. Net 'n paar verse later in Psalm 32, word Dawid beweeg tot aksie: "Toe het ek my sonde bely, my oortreding nie weggesteek nie. Ek het gesê: 'Voor die Here bely ek my opstandigheid;' en U het my skuld vergewe" (vers 5). Ons slaak 'n sug van verligting wanneer ons bely en weet ons is vergewe. God verwyder ons sonde so ver as wat die ooste van die weste is. Vir ewig vergewe

Watter soort God is dit wat nooit 'n wrok koester nie en nooit weer ons tekortkominge ophaal nie? Dit is die God wat ons wil hê almal moet ken. Dit is die Verlore Seun se Vader. Wanneer ons eers ten volle die vryheid van vergifnis ervaar het, gee ons gewillig vergifnis en genade aan ander. Ware belydenis wat lei na volledige vergifnis, beïnvloed alles wat ons doen en elke verhouding waarin ons is. Ons dra dan vrylik die vrugte van vriendelikheid en goedheid en sagsinnigheid.

Laastens, die dissipline van belydenis bemagtig ons om die evangelie boodskap uit te lewe en te deel met die wat nog nie vir Jesus ken nie. Die oorkoepelende vertellings in die Bybel, loop oor van gebeure waarin God genade en vriendelikheid betoon teenoor die wat teen Hom gesondig het. Ons begeer dat almal moet weet hulle is werklik in Christus geliefd en vergewe vir wat hulle verkeerd gedoen het. Ons praat van die liefde wat skuld en skaamte vir ewig bedek.

Vrae vir Oordenking: 


  • Vind jy dat belydenis jou ontsenu of troos? Hoekom?
  • Hoe het God jou in die verlede gedurende tye van belydenis ontmoet?
  • Op watter maniere kan jy belydenis beoefen om nader aan God se hart te kom?
  • Hoe sien jy die rol van belydenis in persoonlike evangelisasie?

    

Dag 5Dag 7

Aangaande hierdie leesplan

Spiritual Disciplines & Evangelism

Die geestelike dissiplines speel 'n spesifieke rol in die Christelike ervaring — dit lei gelowiges om meer soos Jesus te word in hul gedagtes, woorde en dade. Hoe maak dit deel uit van ons roeping om die liefde van Jesus aan ander te toon en te bewys? Hierdie leesplan sluit agt van die geestelike dissiplines in om jou te help groei in geloof, sodat dit na ander toe sal oorloop!

More

Baie dankie aan The Billy Graham Center by Wheaton College wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting, besoek gerus: http://www.billygrahamcenter.org