Kinders se AdventhuisVoorbeeld

Children's Advent House

DAG 1 VAN 25

Kinders se Adventhuis

Deur: Tara Davis

Geseënde Kersfees liewe vriende! Soek jy 'n Christus-gesentreerde Adventaktiwiteit om saam met jou kinders te doen? Jy het een gekry! Hierdie Kinders se Adventhuis sal elke dag gedurende Advent 'n brokkie waarheid en prag by jou kinders se lewens voeg!

Jy kan dit so eenvoudig of ingewikkeld maak as wat jy wil, soek net die Here op om te ontdek wat Hy in hierdie Kerstyd vir julle wil doen! Elke Adventdag sal 'n Skrifgedeelte hê wat jy kan lees en 'n prentjie vir jou kind se "huis" om in te kleur. 

*Jy kan die inkleurhuis uitdruk wat onderaan vandag se oordenking is. 

Ons weet jy is 'n besige mamma, dus het ons elke week twee oop dae ingeruim met slegs 'n venster of deur wat jou kind hoef in te kleur. Gebruik hierdie oop dae om, indien nodig, die dae wat dalk oorgeslaan is in te haal. Ons het ook eenvoudige Skrifgedeeltes en gebede spesiaal vir jou op die oop dae ingesluit, wat jou kan help om jou hart gedurende hierdie Kersfees op Jesus gevestig te hou.

Aan die einde van elke dag se oordenking is daar 'n opsionele aktiwiteit om die Skrifgedeelte vas te lê. Doen gerus net soveel daarvan as wat jy wil! Nou kom ons by die prettige voorbereiding!

Voorbereiding: Ons beveel aan dat jy die volgende voorbereidings vir hierdie prettige aktiwiteit tref. Onthou, jy kan die aktiwiteit aanpas deur net soveel daarvan te doen as waarvoor jy tyd het!

1. Druk 'n kopie van die dubbelblad Adventhuis vir elkeen van jou kinders uit (jy sal dit onderaan vandag se oordenking kry).

2. Maak merkpenne of kryte bymekaar waarmee jou kind daagliks dele van die huis kan inkleur.

3. Koop 'n sak lekkers sodat jy elke dag vir jou kind 'n bederfie kan gee terwyl jy die daaglikse vers lees. Die Woord van God is "soeter as heuning in die mond" (Psalm 119:103) — gee dus vir jou kind gedurende hierdie Kersfees 'n soet voorsmakie vir die Skrif!

4. Kyk vooruit na die daaglikse aktiwiteite en besluit watter jy wil doen en kyk watter voorrade jy moet bymekaar maak.

5. Jy is nou reg om te begin!

Lees: Op 1 Desember (of selfs die vorige dag as jy dit so sou verkies), kan jy die volgende inleidende paragrawe vir jou kind lees:

Dit begin vandag! Dis die eerste dag van Advent! Kan jy glo dis al amper Kersfees? Dit is so 'n spesiale tyd van die jaar! Het jy al ooit 'n Kersfees gemmerbroodhuis gesien wat met alle soorte heerlike lekkers versier is, wat blink van die suiker en byna gloei van al die Kersfees opwinding? Ons siele is ook net soos 'n huis, 'n skouspelagtige herehuis met baie kamers. Elke kamer van ons huis is leeg en wag om gevul te word, en jy moet besluit hoe jy dit gaan doen!

Heel eerste gaan ek jou vertel van ons wonderlike hemelse Vader wat ons vreeslik baie liefhet. Hy het jou so lief dat Hy sy Seun gestuur het om jou van jou sonde te red en te nooi om vir Jesus te volg en vir ewig by Hom te lewe! Hierdie liefdevolle Vader wil graag hê dat jy die kamers van jou huis met sy pragtige skatte moet vul. Ons lees in Spreuke 24:3-4 (ABA): "Iemand wat wysheid het, kan 'n huis bou. As hy verstandig is, dan kan hy die huis sterk bou sodat dit vas staan. As hy weet hoe om dit te doen, dan kan hy die kamers volmaak met baie kosbare en mooi goed." Om die kamers van jou huis met die Here se skatte te kan vul, moet jy dus wysheid soek! Raai waar kry ons wysheid? In die Bybel! Terwyl jy die Woord van God lees, wat sy brief aan jou is, sal jy elke kamer in jou siel se huis met die pragtigste skatte denkbaar vul! Skatte wat skyn van liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid en geloof!

Alhoewel jy tot al die versierings en geskenke aangetrokke voel, wil ek jou aanmoedig om Jesus met jou hele hart te soek en ook te leer om sy Woord lief te hê! Jesus het jou so baie lief; jy is sy kosbare kind en Hy wil hê jy moet Hom met Kersfees en elke dag regdeur die jaar opsoek! Ons sal dus elke dag oor die volgende 25 dae 'n paar woorde uit die Bybel lees en jy kan dan 'n kamer in jou Kersfeeshuis inkleur. Al hierdie kamers is met die ware skatte van Kersfees gevul! Terwyl jy elke prentjie inkleur, wil ek hê jy moet dink aan God se liefde vir jou en dat Hy baie wonderlike skatte het wat jy in Hom kan kry!

Instruksies vir die aktiwiteit:

Dag 1: Lees Openbaring 5:11-13 

Miskien klink dit soos 'n vreemde plek om die Kersverhaal te begin, maar dis tog die beste plek! Sedert die tyd toe sonde die wêreld in die tuin van Eden binnegekom het, tot nou toe, was daar niemand wat ons van ons sonde en die dood kon red nie. Ons het 'n Verlosser nodig gehad! Ons het God nodig gehad om ons verhouding met Hom reg te maak. God het ons so lief dat Hy nog altyd 'n plan gehad het om ons te red! Hy het as 'n baba na die wêreld gekom, net soos 'n kosbare, volmaakte lammetjie. Hy het grootgeword en was 'n man wat nooit 'n enkele verkeerde ding gedoen het nie. Hy het sy lewe gegee sodat ons siele, wat bepaal wie ons is, vir ewig saam met Hom kan lewe, selfs nadat ons liggame sterwe. In hierdie verse wat ons pas gelees het, is daar miljoene engele en lewende wesens wat vir Jesus prys en uitroep: "Die Lam wat geslag was, is waardig om die mag en rykdom, die wysheid en sterkte, die eer, heerlikheid en lof te ontvang" (Openbaring 5:12). Dit is waaroor Kersfees regtig gaan! Net soos die engele, kry ons 'n geleentheid om ons lewens te lei met die doel om vir Jesus lief te wees en Hom te dien! Wat 'n kosbare skat is aan ons gegee! Hou in gedagte, terwyl ons oor die volgende paar weke van die Kersverhaal leer, dat dit nie sommer net 'n storie is nie, maar 'n geskenk wat jou hele lewe sal verander!

Aktiwiteit: Dink aan 'n geskenk wat jy graag met Kersfees vir Jesus wil gee. Dit kan wees om graag meer met Hom te praat, 'n besluit om die Bybel te lees en meer van Hom te leer, om jou broers en susters met vriendelikheid te behandel, om ander van Jesus te vertel, om 'n hart van dankbaarheid te hê of enigiets anders! Soek enige houer wat jy kan versier as jou geskenkhouer vir Jesus. Wanneer jy oor die volgende paar dae besluit het wat jou geskenk aan Jesus gaan wees, kan jy dit op 'n stukkie papier skryf, in die geskenkhouer sit en met Hom daaroor praat. Jy kan die Here vertel hoe jy Hom graag tydens hierdie Kersfees van nader wil volg!

*Klik hier om die "Kinders se Adventhuis" inkleurblad uit te druk! 


Dag 2

Aangaande hierdie leesplan

Children's Advent House

Liewe Mamma, voel dit of Kerstyd altyd in groot opwinding en chaos by jou verbyglip? Hierdie jaar kan dit anders wees. Ontdek hierdie Kersfees die kosbare liefde van Christus saam met jou kinders! Die Kinders se Adventhuis is 'n pragtige 25-dag leesplan, toegerus met 'n Adventhuis wat jy kan uitdruk. Dit sal help om jou kinders se harte op die Here te rig, en hierdie die mees betekenisvolle Kerstyd tot dusver te maak!

More

Ons wil graag "Help Club for Moms" bedank, wat hierdie leesplan verskaf het. Besoek asseblief https://helpclubformoms.com vir meer inligting