Kom Ons GaanVoorbeeld
Raai Wie Kom vir Aandete?
Deur S. George Thomas
Micah is gebore en getoë in 'n streng Christelike huis en was die grootste gedeelte van haar lewe aktief by haar kerk betrokke totdat sy op 18-jarige ouderdom weggetrek het. Oor die volgende sewe jaar het sy weggedryf van die kerk af omdat sy net nie een kon vind waar sy "tuis" gevoel het nie. Kort nadat sy 25 jaar oud geword het, het Micah deur 'n paar situasies gegaan wat haar laat besef het dat sy desperaat 'n radikale verandering in haar lewe nodig gehad het en haar honger na God begin toeneem het.
Sy het 'n paar kerke naby haar huis besoek, maar sy het afgesonder en alleen gevoel toe sy daar was. Een Sondagoggend het Micah besluit om Gateway te besoek — 'n plaaslike kerk wat sommige van haar vriende aanbeveel het. Toe sy sowat 25 minute voor die diens daar aankom, merk sy, anders as die kerke wat sy voorheen besoek het, dat die mense wat die verwelkoming by die deure behartig, haar in die oë kyk en dit het haar dadelik welkom en tuis laat voel. Micah het 'n leë sitplek voor in die kerk ingeneem en geduldig gewag vir die diens om te begin. Mike en Karen Maddox, met hul drie kinders, het in die sitplekke langs haar gaan sit en kort voor lank 'n gesprek met haar aangeknoop.
Die diens het begin en Micah was meegesleur en het betrokke gevoel gedurende die aanbidding en die boodskap. Toe die uitnodiging aan die einde kom, het Micah uit haar sitplek geglip, vorentoe gegaan en gewag dat iemand saam met haar bid. Tot haar verbasing het Karen Maddox ook na vore gekom en vir Micah gevra of sy saam met haar kan bid. Toe hulle klaar gebid het, het Karen na Micah gedraai en gesê: "As jy nie enige planne na die kerk het nie, kan jy gerus na ons huis toe kom en middagete saam met ons geniet." Micah het die aanbod met graagte aanvaar en daardie middag na die Maddox-huis gegaan. Mike en Karen het Micah soos ‘n deel van die gesin laat voel. Daardie dag het 'n verhouding begin wat haar lewe vorentoe beïnvloed het.
Alhoewel sy die diens en die tydjie saam met die Maddox-gesin terdeë geniet het, het Micah nie oor die volgende nege maande teruggegaan kerk toe nie totdat sy skielik haar werk verloor het. Daardie ondervinding het haar wêreld heeltemal geruk, en Micah het besef dat slegs God haar nou kan help. Die volgende Sondag is sy terug na die kerk waar sy die Maddox-gesin die eerste keer ontmoet het. In daardie diens het Micah besluit om afstand te doen van haar huidige lewe en volle beheer aan God oor te gee en uitsluitlik op Hom staat te maak.
Micah het gou 'n lid van Gateway geword en by die kleingroep aangesluit wat deur die Maddoxes aangebied is. Die groep het vir Micah se werksituasie gebid, en kort voor lank het sy 'n werk as grafiese ontwerper by die kerk gekry. Die vriendelikheid en gasvryheid van die Maddox-gesin was 'n voorbeeld wat Micah sedertdien gevolg het. Sy het haar eie huis oopgestel vir 'n groep jong, enkellopende dames ... alles as gevolg van een familie se sensitiwiteit vir die Heilige Gees se leiding om 'n ete-uitnodiging aan 'n jong vrou te rig.
Die Bybel vertel van iemand anders wie se lewe verander is as gevolg van 'n ete-uitnodiging. Saggeus was die hoof-belastinggaarder vir die stad Jerigo — soortgelyk aan 'n SARS-werknemer. Hy was berug daarvoor om mense te kul en het 'n fortuin versamel deur mense te veel te belas. As die mees korrupte man in die dorp, was hy beide 'n sosiale en godsdienstige uitgeworpene, en mense het hom gehaat.
Toe die nuus by Saggeus uitkom dat Jesus op pad na Jerigo is, het sy nuuskierigheid die oorhand gekry en het hy besluit om te gaan kyk waaroor al die bohaai gaan. Omdat hy 'n redelik kort man was, kon hy nie vir Jesus bo-oor die skare sien nie. Saggeus het nie gekom waar hy was sonder om vindingryk te wees nie. Toe hy rondkyk, het hy 'n wildevyeboom gesien waarvan die takke laag op die grond hang en ideaal was om in te klim. Hy het vinnig teen die boom uitgeklim, sodat hy die beste uitsig van Jesus sou hê wanneer Hy verbykom.
Terwyl Jesus verbyloop, het Hy opgekyk en vir Saggeus in die boom gesien. Omdat Jesus nie sy eie huis gehad het nie, het hy Homself oorgenooi vir 'n maaltyd by Saggeus. Die Bybel sê: “Saggeus het toe haastig afgeklim en Jesus opgewonde ontvang", dit is dus duidelik dat mense dit regtig geniet het om by Jesus te wees. Hy het nooit mense godsdienstig geoordeel of veroordeel of op hulle neergesien nie, behalwe vir diegene wat wetties, skynheilig en veroordelend was. Trouens, dit was die veroordelende mense wat 'n probleem gehad het met Jesus wat na Saggeus se huis gegaan het, maar Jesus het natuurlik nie toegelaat dat dit Hom keer nie. Gevolglik is Saggeus se hart radikaal verander. Hier was 'n man wat so skelm en korrup was soos kan kom, maar omdat Jesus Homself vir 'n maaltyd by hom genooi het, het Saggeus uiteindelik nie net die helfte van alles wat hy besit het, aan die armes weggegee nie, maar ook beloof om vier keer die bedrag terug te betaal aan enigiemand wat hy verkul het.
"Om te gaan" is geensins beperk tot die oppak van alles wat jy besit en oorsee te vertrek om stamme in die reënwoude te gaan bedien nie. Trouens, een van die doeltreffendste maniere om te dien, is om eenvoudig uit jou pad te gaan om mense oor te nooi vir aandete. Almal moet op een of ander tyd eet, nie waar nie?
Hoe moeilik is dit om na iemand te loop en te sê: "Haai, kom oor na my huis en eet hierdie week saam met my en my gesin" of "Kan ek vandag vir jou koffie koop?" Dit is regtig so maklik, en dit is altyd die moeite werd!
Elkeen van ons is geskape om God heelhartig na te streef en mekaar sonder voorbehoud lief te hê. Dit is die kern van die twee grootste gebooie — om God lief te hê; om vir ander lief te wees. God wil hê dat ons na ander moet uitreik deur ons verhoudinge met hulle. Op watter beter plek kan jy begin as om die etenstafel?
Memoriseer Vers
"… Wie onder julle ‘n leier wil wees, behoort julle dienskneg te wees. En wie die eerste onder julle wil wees, moet julle slaaf wees. Net so het Ek, die Seun van die Mens, nie gekom om gedien te word nie, maar om diens te lewer en boonop my lewe te gee as 'n losprys vir baie mense“ Matteus 20:26–28 (NLV).
Aangaande hierdie leesplan
Hierdie 21-dag oordenking van Gateway Church is bedoel om jou aan te moedig en te inspireer om Jesus se sendingopdrag uit te voer: "Gaan uit, die hele wêreld in, en verkondig die evangelie aan die hele mensdom ..." (Markus 16:15).
More