Kom Ons GaanVoorbeeld
Wie is My Naaste
Deur S. George Thomas
Ons lees in Lukas 10 van 'n wetgeleerde wat aan Jesus ‘n strikvraag wou stel. Hy staan toe op en vra: “Meneer, wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry?” Jesus het na hom gekyk, en in plaas daarvan om te antwoord, het Hy self 'n vraag aan die wetgeleerde gestel: “Jy is 'n kenner van die wet. Vertel jy vir My. Wat staan in die wet van Moses geskrywe? Wat lees jy daar?” Hy antwoord: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag en met jou hele verstand, en jou naaste soos jouself.”
Nadat Jesus die skrifgeleerde vir sy antwoord geprys het, het hy vir hom gesê dat hy presies dit moet gaan doen as hy werklik die ewige lewe wil hê. Die skrifgeleerde het geen probleem daarmee gehad om God lief te hê nie, maar hy wou duidelikheid hê. Daarom het hy voortgegaan om Jesus verder te por en gevra: “En wie is my naaste?” Met ander woorde, hy het gesê: Sê vir my wie ek moet liefhê en wie ek nie hoef lief te hê nie. Wie moet ek aanvaar, en wie kan ek verwerp? Na wie moet ek uitreik, en wie kan ek net ignoreer? Is daar nie mense wat liefde verdien en ander wat nie?
Jesus het weereens nie die man se vraag direk beantwoord nie. In plaas daarvan, het Hy met 'n verhaaltjie geantwoord. Die toneel was amper komies: Die geleerde het gevra: “Wie is my naaste?” Jesus het geantwoord: “Toe 'n man eenmaal op pad was van Jerusalem na Jerigo toe ...” Kan jy jou die geleerde se frustrasie voorstel? Al wat hy wou hê, was 'n eenvoudige antwoord, en Jesus het 'n verhaal begin vertel van 'n man wat op 'n reis van Jerusalem na Jerigo vertrek het. Dit was veel meer as net 'n verhaaltjie. Daar was doel, diepte en besonderhede in hierdie verhaal wat Jesus spesifiek ingesluit het om al die verskonings te ontbloot wat ons gebruik om nie mense om ons lief te hê en met hulle in te aanraking te kom nie.
Almal wat daardie dag na Jesus geluister het, het geweet dat die pad van Jerusalem na Jerigo, 29 kilometer deur die berge gekronkel het en omtrent 1 000 meter gedaal het. Dit was beslis nie 'n pad wat jy ná donker wou aandurf nie, want dit was 'n berugte en gewilde wegkruipplek vir skelms.
Soos verwag, is die man deur rowers aangeval, kaal gestroop, bewusteloos geslaan en in 'n sloot gegooi om te sterf. Uiteindelik het 'n priester daar aangekom. Gedurende hierdie tyd in die geskiedenis, het priesters die rykste, magtigste en mees gerespekteerde posisies in die hele Israel beklee. As politieke sowel as geestelike leiers was hulle aan die toppunt van die Joodse gemeenskap. Toe hierdie priester die man sien wat met stof en bloed bedek aan die anderkant van die pad lê, het hy aan sy kant van die pad geloop om hom te vermy en verbygegaan. Die priester is gevolg deur 'n Leviet — nog 'n geestelike leier. Aangesien die man deur rowers geslaan is en uit vrees vir sy eie lewe, het hy ook haastig verbygegaan.
Nou, dit is waar Jesus iets gedoen het wat absoluut dapper was: Hy het 'n Samaritaan as die held van die verhaal bekendgestel. Dit is waarom dit so revolusionêr was: Die Jode het niks van die Samaritane gehou nie; hulle het hulle verag. Daar was soveel haat teenoor Samaritane dat die Jode eintlik liedere in hulle sinagoges gesing het oor hoe onnosel hulle was. Daar is selfs bewyse dat sommige van die gebede wat gedurende die eerste eeu in sinagoges gebid is, versoeke aan God ingesluit het om seker te maak dat die Samaritane nie toegelaat sal word om die ewige lewe te beërwe nie! Kan jy jou hulle gebede voorstel? “God, ek bid vir my vrou, my kinders, my ouers. O, en kan U asseblief nie toelaat dat enige van die Samaritane hemel toe gaan nie? Dankie. Amen.”
Deeglik bewus van die Jode se diepgewortelde haat vir die Samaritane, was Jesus se doel om 'n Samaritaan die held van sy verhaal te maak, beide doelbewus en betekenisvol. Toe die Samaritaan op die gewonde man afkom, was hy diep geroer deur medelye. Hy het die man se wonde skoongemaak en aan hom noodhulp gegee. Terwyl hy hom op sy eie donkie gehelp het, het die Samaritaan die man na die volgende dorp geneem (wat heel waarskynlik 'n Joodse dorp was) waar hy vir hom 'n kamer by 'n herberg bespreek het en daarvoor betaal het.
Om sy verhaal te eindig, draai Jesus na die wetgeleerde en vra: “Wie dink jy was 'n naaste vir die man wat aangeval is?” Terwyl hy na die grond kyk, kon die wetgeleerde homself nie eens sover bring om te sê: “Die Samaritaan” nie. In plaas daarvan, het hy gemompel: “Die man wat aan hom medelye bewys het.” “Dis reg,” het Jesus geantwoord. “Gaan maak jy ook so.”
Wat is dus die groot verskil tussen die priester, die Leviet en die Samaritaan? Dit kom alles neer op een woord … deernis. Toe hy die gewonde man sien, het die Samaritaan nie gesê die man moes "van beter geweet het nie", dat enigiemand wat dwaas genoeg was om met gevaar te flankeer deur op die ruwe pad van Jerusalem na Jerigo te reis, verdien het om die gevolge van hul eie swak keuses te dra. Nee, hy het hom opgetel en na 'n plek van genesing gebring.
Vra jouself vandag af: “Wie is my naaste?” Dit is diegene wat beroof is deur die boewe en skelms van die wêreld — in vrees, wanhoop, hartseer, pyn, armoede, siekte, haat, hopeloosheid, ellende is — geslaan en vir dood agtergelaat is. Hulle is om elke hoek en draai — uit alle vlakke van die samelewing. Niemand is vrygestel nie. Niemand word onaangeraak gelaat nie.
Hou ons onsself op 'n afstand? Gee ons voor dat ons nie hul pyn sien nie en gaan haastig met ons lewens aan? Dink ons by onsself: “Ek bid net vir hulle” en gaan dan aan op ons pad? Of sal ons toelaat dat ons harte in medelye geroer word? Sal ons ophou waarmee ons besig is — selfs al is dit iets goeds, iets geestelik — en kniel langs diegene wat seerkry … diegene wat verlore en alleen is … ons arms om hulle sit en hulle dra na 'n plek waar hulle lewe, hoop en genesing kan vind?
Vra God om jou hart te versag teenoor diegene om jou — teenoor jou buurman, jou medewerkers, diegene met wie jy in aanraking kom. Vra Hom om liefde en deernis in jou op te wek vir hulle en hul behoeftes. Vra Hom om jou die moed en wysheid te gee om saam met hulle te wandel en hulle hoop en lewe te bied.
Medelye is die vermoë om verby die arrogansie van sondige mans en vroue en binne-in die gebroke siele van mense te kan sien … binne-in die hart wat desperaat die genade van God nodig het.
~ Matt Chandler
Memoriseer Vers
"Maar hoe sal hulle Hom aanroep as hulle nie in Hom glo nie? En hoe sal hulle in Hom glo as hulle nog nooit van Hom gehoor het nie? En hoe sal hulle van Hom hoor sonder dat daar iemand is wat die boodskap bring? En hoe sal hulle die boodskap bring as hulle nie gestuur word nie? Daarom sê die Skrif: "Hoe lieflik klink die voetstappe van hulle wat die Goeie Boodskap bring!" Romeine 10:14–15 (NLV).
Aangaande hierdie leesplan
Hierdie 21-dag oordenking van Gateway Church is bedoel om jou aan te moedig en te inspireer om Jesus se sendingopdrag uit te voer: "Gaan uit, die hele wêreld in, en verkondig die evangelie aan die hele mensdom ..." (Markus 16:15).
More