Kom Ons GaanVoorbeeld
Deur Geloof
Deur S. George Thomas
Dit was heeltemal onverwags. Nooit in 'n miljoen jaar sou hy kon droom dat God daardie dag sou opdaag en vir hom sê om 'n groot boot te begin bou omdat 'n enorme vloed gaan kom nie. Hoewel dit nog nooit voorheen gereën het nie, het Noag God geglo, en deur geloof, het hy 'n ark begin bou toe hy 480 jaar oud was. Oor die volgende 120 jaar, terwyl hy hard gewerk het om daardie boot te bou, moes daar tye gewees het dat hy gewonder het of hy hom verbeel het dat God met hom gepraat het, tye wat hy sy eie gesonde verstand bevraagteken het. Om die wêreld teen oordeel en verdoemenis te waarsku, het hom beslis nie baie gewild gemaak nie. Sy bure en familie het hom dag ná dag gespot. Maar toe, eendag, het die diere begin aankom en dit het begin reën. Noag en sy gesin het die ark binnegegaan en is gered.
Toe Abraham 75 jaar oud was, het God met hom gepraat en gesê dat Hy Abraham die vader van 'n groot en magtige volk sou maak. Hy het vir hom gesê om alles wat hy besit, op te pak en na 'n vreemde en onbekende land te gaan. Alhoewel hy nie geweet het waarheen God hom sou lei nie en ten spyte van die feit dat hy en sy vrou, Sara, oud en onvrugbaar was, het Abraham God sonder twyfel of ongeloof gehoorsaam. Deur geloof, het hy sy huis verlaat en begin reis waarheen God hom gelei het. Vyf-en-twintig jaar later het God sy belofte aan Abraham en Sara vervul met die geboorte van hulle seun Isak.
Na die dood van Moses — sy leier en mentor — is Josua, op die ouderdom van 85, deur God aangestel om die mantel van Moses oor te neem en voort te gaan om meer as twee en 'n half miljoen Israeliete na die beloofde land te lei. Die eerste plek waar hulle aangekom het, was Jerigo — 'n massiewe, versterkte stad met mure wat so dik was dat mense hulle huise bo-op gebou het. God het vir Josua gesê om al sy soldate een keer per dag vir ses dae lank om Jerigo te laat marsjeer. Op die sewende dag moes hulle sewe keer om die hele stad loop en dan hulle trompette blaas en skree. As Josua al hierdie instruksies gevolg het, het God belowe om Jerigo in sy hande oor te gee. Hoewel dit 'n onortodokse metode van oorlogvoering was, het Josua God gehoorsaam, en deur geloof, het die volk Israel om Jerigo gemarsjeer. Op die sewende dag het die mure van Jerigo tot op die grond verkrummel.
Watter een beginsel het Noag, Abraham en Josua in gemeen gehad? Volgens Hebreërs 11, toe God hulle geroep het om te gaan, het elkeen van hulle gehoorsaam deur geloof. Die Bybel definieer geloof: "... om seker te wees van dinge wat ons hoop, om oortuig te wees van die dinge wat ons nie sien nie". Elkeen van hierdie manne het daardie soort geloof met hulle eie lewens uitgebeeld. Hulle het hulle hoop op God geplaas en sy belofte aan hulle getrou geglo. Noag het jare lank gewerk sonder enige teken dat reën sou kom. Abraham het die enigste tuiste wat hy ooit geken het verlaat om te gaan waarheen God hom gelei het. Josua het onoorkomelike gevaar in die gesig gestaar en steeds die kinders van Israel in 'n optog om Jerigo gelei. Wat het gebeur as gevolg van hulle geloof? God het Noag en sy familie gered. God het vir Abraham en Sara 'n babaseuntjie gegee. God het die mure van Jerigo verwoes.
God het elkeen van daardie drie manne geroep om iets te gaan doen wat nie baie sin gemaak het nie. As gevolg van hulle geloof, het God bonatuurlik in elkeen van hulle se lewens gewerk om sy wil te volbring. Selfs toe al die skynbare bewyse die teendeel aangedui het, het hulle steeds voortgegaan om te glo dat God getrou sou wees om te doen wat Hy gesê het Hy sou doen.
Noag, Abraham en Josua was net gewone mense wat deur God geroep is om iets buitengewoon te doen. Die meeste mense sou na hulle gekyk het en gesê het dat hulle net te oud was om ooit iets groots vir God te kon doen of dat hulle omstandighede te hopeloos was om ooit in iets goeds omskep te kon word. Maar as gevolg van hulle geloof en hulle gehoorsaamheid, was God in staat om hulle op ongelooflike maniere tot sy verheerliking te gebruik.
As gelowiges dien ons dieselfde God, en Hy roep elkeen van ons om in geloof vorentoe te tree en Hom te volg waar Hy ook al lei. Raak vir 'n oomblik stil en oorweeg die volgende: Roep God jou om iets te gaan doen wat nie veel sin maak nie? Hy kan jou roep om Hom te dien deur mense in 'n ander land te gaan bedien. Hy kan jou roep om 'n verlaging in jou salaris te aanvaar om 'n ander werk te gaan doen. Hy kan jou roep om iets vir Hom te doen wat almal belaglik vind, maar wat jy weet reg is. Indien wel, tree vorentoe deur geloof en vertrou Hom om jou te help om te bereik wat Hy jou roep om te doen.
Memoriseer Vers
"Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het. En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld" Matteus 28:19–20.
Aangaande hierdie leesplan
Hierdie 21-dag oordenking van Gateway Church is bedoel om jou aan te moedig en te inspireer om Jesus se sendingopdrag uit te voer: "Gaan uit, die hele wêreld in, en verkondig die evangelie aan die hele mensdom ..." (Markus 16:15).
More