Kom Ons GaanVoorbeeld
Gered Om Te Red
Deur S. George Thomas
Gedurende die laat 1820's is 'n seun, William Booth, gebore in die stad Nottingham — 'n klein dorpie van ongeveer 50 000 inwoners in Oos-Engeland. Nadat sy pa oorlede is, kon William se familie nie die nodige fondse bymekaar kry sodat hy sy skoolopleiding kon voltooi nie. Toe hy net 13 jaar oud was, het William dus as vakleerling by die plaaslike handelaar van die pandjieswinkel gaan werk.
Alhoewel hy nie presies geweet het hoe nie, het William gevoel dat God hom vir 'n groot taak geroep het. Die jong man het dus elke boek wat hy in die hande kon kry, begin lees en homself geleer hoe om goed te praat en te skryf. Ten spyte daarvan dat William met swak gesondheid gesukkel het, het hy al die agterstrate en stegies van Nottingham deurkruis om die evangelie met ywer te verkondig. Hy het uiteindelik na Londen verhuis waar hy voortgegaan het om te preek terwyl hy ook as 'n pandjies-handelaar gewerk het. Daar het hy 'n sielsgenoot in Catherine Mumford ontmoet, 'n jong vrou met wie hy mettertyd getrou het.
Elke dag, terwyl William en Catherine deur die vuil strate van Londen geloop het, is hulle met afgryse vervul: Kroeë was vol mans en vroue wat hul hartseer probeer verdrink en hul lewens weggedrink het. Vyfjarige seuns het dronk op straat rondgestaan. Vroue, jong meisies en selfs jong seuns het hulle liggame verkoop, net om hul honger te kan stil. Aanrandings, straatrowery, verkragtings en moorde was algemeen. Armoede en siekte was die norm. Oral waar hulle gekyk het, het hulle net hopeloosheid en wanhoop gesien. William en Catherine het geweet dat 'n geestelike stryd vir die siele van hierdie mense besig was om plaas te vind en dat die Satan aan die wenkant was. Hierdie besef het hul harte gebreek, maar dit het hulle ook iets daaraan laat doen ... Dit het hulle gedring om daarteen te veg.
Die las van die verwoesting wat hulle aanskou het, het William en Catherine The Christian Revival Society — later bekend as The Christian Mission — in die krotbuurte oos van Londen van stapel laat stuur. Hulle het elke aand en op Sondagoggende dienste gehou vir die armstes en behoeftiges, insluitende alkoholiste, dobbelaars, misdadigers en prostitute. Net soos Johannes die Doper, het William 'n boodskap van bekering van sonde en 'n oproep tot heiligheid verkondig. Hy het vas geglo dat die krag van God wat in 'n persoon se hart werk, hom in 'n passievolle lewe van liefde vir God en vir ander sou verander. Sy doel was om mense na Christus te lei en hulle dan by 'n kerk te laat inskakel waar hulle geestelik tot volwassenheid kon groei. Alhoewel hulle ongelooflike teenkanting in die gesig gestaar het — hulle dienste is ontwrig deur opstokery, vuurwerke, klipgooiery en nog meer — het William en diegene wat saam met hom gewerk het, bloot die ander wang gedraai en voortgegaan om die evangelie as medestryders van Jesus Christus te verkondig.
William het mettertyd besef hy kon die krag van populêre musiek gebruik om met hervorming te help. Op 'n dag het hy ook besef dat koper-blaasorkeste ideaal was om skares te lok. As 'n ekstra bonus het dit ook gehelp om die opstokers se lawaai uit te doof. Van toe af, waar hy ook al gepreek het, op straathoeke of musieklokale, is William deur 'n koper-blaasorkes vergesel.
Hy het ook besef dat niemand op 'n leë maag kan konsentreer nie, en dus het William en Catherine sopkombuise regoor die stad begin om die armes van kos te help voorsien. Vir hulle was die aanspreek van sosiale behoeftes bloot 'n middel tot 'n veel groter doel — om mense in God se koninkryk in te lei. Alhoewel hulle aanvanklik met befondsing gesukkel het, het hulle werk vinnig verder as Londen versprei na lande regoor die wêreld — die Verenigde State, Kanada, Frankryk, Suid-Afrika, Australië, Nieu-Seeland, Indië, Swede, Switserland, Jamaika en nog vele meer. Hulle bediening het ook gegroei ... van die rehabilitasie van gevangenes tot om die verkoop van jong meisies in prostitusie aan die lig te bring.
In 'n tydperk wat die algemene siening was dat die armes hulself te blameer gehad het vir hul lot en sonde, het William 'n internasionale bewustheid van armoede en sosiale onreg gebring ... net omdat hy geglo het dat dít mense se pad na redding belemmer het. Hy het selfs oudiënsies met koning Edward VII, president William McKinley en president Theodore Roosevelt gehad.
Catherine is in Oktober 1890 ná 'n lang stryd teen kanker oorlede. Haar begrafnis is deur 36 000 mense bygewoon. Toe William op 20 Augustus 1912 oorlede is, het byna 150 000 roubeklaers sy stoet en begrafnis bygewoon. Hulle praktiese benadering tot die Christendom en die verspreiding van die evangelie het tallose regoor die wêreld geïnspireer om hulle voorbeeld te volg en hulle lewens te bied om die koninkryk van God te bou.
Vandag is die werk wat William en Catherine Booth begin het — Die Heilsleër — nog aktief in 118 lande met meer as 4.5 miljoen vrywilligers. Hulle word beskou as een van die grootste verspreiders van humanitêre hulp.
William en Catherine het besef dat die wêreld waarin ons leef 'n geestelike slagveld is en as dissipels van Christus is ons besig met 'n geestelike stryd. Hulle het verstaan dat hulle "gered is om te red"; hulle sending was dus eenvoudig — om ander siele vir Christus te wen. Hulle het trane gestort oor verlore siele en verlossing in die hele Engeland verkondig. Hulle het geglo dat dit nie genoeg is om by die deure van ons kerke te staan en mense in te nooi nie; Christene moet uitgaan — buite die mure van ons kerkgeboue — om die voorbeeld van Christus te volg deur mense te ontmoet waar hulle is.
Vandag woed die stryd nog steeds voort. Dwelms, geweld, prostitusie en misdaad teister steeds ons samelewing. Kinders ly steeds honger. Die armes is nog steeds met ons. Hopeloosheid en wanhoop is steeds op die gesigte van die gebrokenes en verlorenes. Kolossense 1:13 sê: “Hy het ons uit die mag van die duisternis weggeruk en ons onder die heerskappy gestel van sy Seun wat Hy liefhet.” God het ons verlos sodat ons die magte van die Satan kan terugstoot en sy koninkryk kan bevorder. Hy roep vandag elkeen van ons om op te tree en ons plek as sy krygers in te neem. Hy roep ons om uit te gaan; na 'n wêreld wat in duisternis verswelg word. Hy roep ons om lig in die duisternis in te bring.
Memoriseer Vers
"Mens, die Here het jou bekend gemaak wat goed is: Hy vra van jou dat jy reg sal laat geskied, dat jy liefde en trou sal bewys, dat jy bedagsaam sal lewe voor jou God" Miga 6:8.
Aangaande hierdie leesplan
Hierdie 21-dag oordenking van Gateway Church is bedoel om jou aan te moedig en te inspireer om Jesus se sendingopdrag uit te voer: "Gaan uit, die hele wêreld in, en verkondig die evangelie aan die hele mensdom ..." (Markus 16:15).
More