Kom Ons GaanVoorbeeld
Om Ons Vyande Lief Te Hê
Deur S. George Thomas
Patrick is op 16-jarige ouderdom ontvoer gedurende 'n seerower aanval en van sy familie in Brittanje af weggevoer, na Ierland geneem en as die slaaf van 'n onbeskaafde en barbaarse Ierse hoofman verkoop. Patrick is die onbelangrike en alledaagse taak toegewys om na sy heer se skape om te sien, en is gedwing om maande se eensaamheid in die onherbergsame heuwels van Ierland te verduur met niks anders as skape om hom geselskap te hou nie. In sy stryd om die uitmergelende koue te oorleef en desperaat sy immer teenwoordige hongerpyne te probeer stil, het Patrick hom gekeer na die enigste plek waar hy kon vra om hulp ... God.
Patrick het in weelde grootgeword as die seun van 'n edelman, maar het nie toe veel tyd daaraan gewy om aan God te dink nie. Alhoewel hy in 'n Christelike huis grootgeword het — sy pa was 'n diaken in die kerk en sy oupa 'n ouderling — was sy geloof nie vir hom werklik nie. Nou het sy droewige omstandighede en oorweldigende eensaamheid daartoe gelei dat hy na die enigste Bron gekyk het wat hom krag en vertroosting kon gee. Net soos Dawid, die skaapwagter-seun soveel jare tevore gedoen het, het Patrick sy dae en weke van afsondering deurgebring deur sy hart voor God uit te stort. Hy skryf: “Om kuddes te versorg, was my daaglikse werk, en ek het gedurende die daglig voortdurend gebid. My liefde en agting vir God het al meer geword — sodat my geloof gegroei het en ek ook van die Gees in my bewus geword het. Op een dag het ek soveel as ‘n honderd gebede opgesê en ná donker byna net soveel, selfs terwyl ek in die woud of op die berg gebly het. Ek sou wakker word en bid voor dagbreek — deur sneeu, ryp, reën — omdat die Gees kragtig in my was.”
Dit het sewe lang jare voortgeduur totdat God een nag vir Patrick in 'n droom gesê het sy gebede is verhoor en dat hy moet opstaan en gaan, want 'n boot het gewag om hom terug huis toe te neem. Hoewel hy nie eens naby die see was nie en geen benul gehad het watter rigting hy moes loop nie, het Patrick in geloof vertrek en net God se leiding gevolg. Hy het vir meer as 320 kilometer geloop, en is nie een keer voorgekeer of ondervra nie, totdat hy by die see aangekom het waar 'n boot in die baai geanker was.
Die kaptein van die boot het Patrick met agterdog bejeën toe hy vir ‘n geleentheid na Engeland gevra het en bloot geweier om hom aan boord toe te laat. Patrick het toe weggeloop en begin bid. Nog voordat hy selfs sy gebed kon voltooi, het een van die skip se bemanningslede agter hom aangehardloop gekom en hom gevra om terug te kom. Die kaptein het skielik van plan verander en het nou uit sy pad gegaan om in al Patrick se behoeftes te voorsien.
Patrick se reis huis toe was lank en moeilik, maar na 'n paar jaar het hy uiteindelik teruggekeer na sy ouers se verwelkomende arms. Hy het probeer om homself weer in sy ou lewe te vestig, maar al het hy hard probeer, kon Patrick net nie van die mense vergeet wat hom vir sewe jaar lank gevange gehou het nie.
Een nag terwyl Patrick geslaap het, het hy 'n visioen gehad van 'n Ierse man wat hom wink om na Ierland terug te keer omdat hulle hopeloos verlore in duisternis was en desperaat die lig van God se waarheid nodig gehad het. Hoewel sy ouers hom gesmeek het om in Brittanje te bly, het Patrick verkies om God se oproep te gehoorsaam om terug te gaan na die land van sy gevangenskap sodat hy die lig van die evangelie kon bring aan 'n volk wat in duisternis verlore was. Omdat Christus sy lewe vir hom gegee het, het Patrick geglo dat hy niks minder kon doen nie.
Patrick het alle reg gehad om in die gemak van sy ouerhuis te bly, omring deur sy gesin, maar deur sy lewe en vryheid in God se hande te plaas, het hy teruggegaan na Ierland om die boodskap van God se liefde en vergifnis te verkondig aan diegene wat dit nog nooit gehoor het nie ... aan die mense wat sy vyande was. Hy het deur die hele land gereis en duisende bekeerlinge gedoop, nuwe gelowiges onderrig, talle kerke gestig, kerkleiers opgelei, pastore geordineer, teen ongeregtigheid geveg en sendelinge en evangeliste uitgestuur. As gevolg van Patrick se gehoorsaamheid aan die Here, is 'n hele volk geëvangeliseer en die verloop van die geskiedenis verander. Uiteindelik het 'n vloed van sendelinge uit Ierland gekom en dwarsdeur Skotland, Engeland en die res van Europa versprei, wat 'n groot herlewing tot gevolg gehad het. Trouens, tussen 650 en 850 n.C. is meer as die helfte van alle bekende Bybelse verklarings deur die Iere geskryf.
Die Bybel vertel die verhale van twee mans wat hulle in soortgelyke omstandighede as Patrick bevind het. God het hulle geroep om sy boodskap na hulle vyande te neem. Maar elkeen het op heeltemal verskillende maniere gereageer. Daar was Jona wat gekies het om God se opdrag om na Nineve te gaan, geïgnoreer en in die teenoorgestelde rigting weggehardloop het. Sy ongehoorsaamheid het daartoe gelei dat hy deur 'n groot vis ingesluk is. Daarteenoor, toe die Here in 'n visioen vir Ananias geroep het om sy vyand Saulus te gaan opsoek — 'n man wat daarvoor bekend was om enigiemand wat Jesus gevolg het te agtervolg en dood te maak — om vir sy genesing te bid, het Ananias gekies om te gehoorsaam, God te vertrou en te gaan. Deur Ananias se gehoorsaamheid het God in die lewe van Saulus ingekom, wat Paulus geword het, die man wat later meer as die helfte van die Nuwe Testament geskryf het.
Alhoewel dit nooit maklik is nie, is Jesus se opdrag: "seën die mense deur wie julle vervloek word; bid vir die mense deur wie julle sleg behandel word" (Lukas 6:28). Dit is nie 'n beleefde voorstel of versoek nie. Dit is 'n opdrag.
Jou "vyand" kan jou buurman wees, 'n moeilike medewerker, of selfs 'n eens goeie vriend wat jou verraai het. Ongeag wie dit is, vra die Here om jou te wys hoe jy sy liefde vandag aktief aan hulle kan bewys. Gaan dan uit en volg sy leiding.
Memoriseer Vers
"Julle is die sout vir die aarde. Maar as sout verslaan het, hoe kry ‘n mens dit weer sout? Dit is niks meer werd nie. Dit word buitekant weggegooi, en die mense vertrap dit. Julle is die lig vir die wêreld. 'n Stad wat op 'n berg lê, kan nie weggesteek word nie" Matteus 5:13–14.
Aangaande hierdie leesplan
Hierdie 21-dag oordenking van Gateway Church is bedoel om jou aan te moedig en te inspireer om Jesus se sendingopdrag uit te voer: "Gaan uit, die hele wêreld in, en verkondig die evangelie aan die hele mensdom ..." (Markus 16:15).
More