Kom Ons GaanVoorbeeld

Let's Go

DAG 14 VAN 21

Genade Onbeskryflik Groot

Deur S. George Thomas

Amerika het 'n gevangenis probleem. Een uit elke 100 Amerikaners is vandag in ‘n plek van aanhouding of ‘n gevangenis — 'n totale bevolking van 2.3 miljoen, wat ongeveer die grootte van Houston, Texas is. Een uit elke 15 Amerikaners sal in sy of haar leeftyd in aanhouding beland of gevangenis toe gaan. 

Vir baie is die probleem van gevangenis "uit die oog, uit die hart". Hoekom sou 'n 27-jarige vrou dus wat ses syfers per jaar op Wall Straat verdien, alles laat vaar om onder gevangenes in Texas te gaan werk? Dit is eenvoudig ... sy het gevangenes deur die oë van Jesus gesien. 

Toe Catherine Rohr in die hoërskool was, is 'n goeie vriend van haar beroof, wreed geslaan, onder 'n trein ingestoot en vermoor deur twee 16-jarige seuns. Die seuns is skuldig bevind en elkeen is tot tien jaar tronkstraf gevonnis. Catherine wou destyds veel meer as "'n oog vir 'n oog" hê, sy wou hê hulle moes lewendig gebraai word ... sy wou nie hê daardie seuns moes ooit weer vryheid sien nie. Sy het misdadigers gehaat; sy het gedink hulle was 'n vermorsing van belastinggeld en 'n vermorsing van menslike lewe. 

Dit was eers nadat sy Jesus begin volg het dat haar perspektief uitgedaag is. Terwyl sy liedjies soos "Genade Onbeskryflik Groot" in die kerk gesing het, het Catherine begin wonder of haar weergawe van "genade onbeskryflik groot" onbeskryflik groot genoeg was om die sondes van diegene wat haar vriend vermoor het, ook te dek. 

Sy het haar hoërskoolloopbaan voltooi en na die Universiteit van Kalifornië in Berkeley gegaan om in Besigheidstudies te studeer. Nadat sy gegradueer het, het Catherine die arbeidsmag betree met ambisieuse planne vir sukses. Sy het vinnig haar merk in die beleggingsarena gemaak waar sy saam met 4 000 uitvoerende hoofde gewerk het en R480 miljoen in ekwiteitsbeleggings gegenereer het. As 'n driemalige marathonatleet en Kalifornië Staat Stoeikampioen, het Catherine perfek gepas in die uitmergelende sake-omgewing van Wall Straat. 

Maar tydens 'n naweek-uitstappie na Texas is Catherine bekendgestel aan 'n nog meer uitmergelende omgewing — die gevangenis. Omdat sy verwag het dat die gevangenis 'n plek sou wees vol wilde uitvaagsels wat ingehok word, was sy nie voorbereid op wat sy gesien het nie. Hierdie gevangenes was gewone mans wat passievol en honger was vir verandering. Hulle was 'n massiewe poel van onbenutte potensiaal. Sy het besef dat sake-bestuurders en gevangenes eintlik meer in gemeen het as wat meeste mense sou dink. Albei groepe was passievol en albei weet hoe om ander te bestuur om dinge gedoen te kry. Trouens, selfs die mees ongesofistikeerde dwelmhandelaars verstaan basiese besigheidskonsepte soos mededinging, winsgewendheid en risikobestuur. 

God het daardie naweek met Catherine gepraat en haar oë oopgemaak om gevangenes te sien soos Hy hulle sien. Sy het 'n geweldige geleentheid in hierdie mans gesien om hul krag te benut, om hulle op te bou om leiers in hul gemeenskap te wees. Sy het gewonder wat sou gebeur as gevangenes wat 'n diepe begeerte gehad het om te verander, toegerus kon word met die vaardighede wat nodig is om met wettige sakeondernemings te begin en dit te bedryf. 

Nadat hulle elke naweek vir ses weke heen en weer van New York na Texas gependel het, het Catherine en haar man besluit om al hul spaargeld uit hulle 401(k) aftreefonds te trek en dit alles in hierdie nuwe uitreik van hulle te plaas. Dit was nie lank voordat hulle hul goed in Manhattan opgepak het, in 'n meubelvervoer vragmotor gelaai het en na Houston op pad was nie. 

Die pad vorentoe was nie maklik nie. Haar vriende in New York het gedink sy is gek, en die tronk beamptes in Texas het saamgestem. Hulle het vir haar gesê: "Hierdie ouens het hulp nodig om 'n brief aan hul ma's te skryf. Hoe gaan jy hulle leer om 'n sakeplan te skryf?” Toe, op hul heel eerste nag in Houston, het diewe by hul meubelvervoer vragmotor ingebreek en weggekom met alles wat hulle besit het, behalwe die klere wat hulle aangehad het. 

Maar Catherine het nie moed verloor nie. God het duidelik met haar gepraat, en sy was op 'n missie. 

In 2004 het Catherine die Gevangenis Entrepreneurskap Program van stapel gestuur wat invloedryke veroordeelde misdadigers identifiseer wat 'n diepe begeerte het om te verander. Hulle is dan in kontak gebring met die land se top bestuurders, MBA-studente en politici wat die mans in die tronk waardevolle sake-vaardighede geleer het. Dit het sedertdien verbysterende resultate opgelewer. Diegene wat die program deurgegaan het, het 'n indiensnemings koers van 98% en 'n terugkeer-na-gevangenis koers van minder as 10% getoon. Vir Catherine gaan dit nie oor die statistieke nie. Dit gaan oor die uitbreiding van genade en om mense te help om ware, blywende lewensverandering te ervaar. 

Catherine het haar lewe en talente aan God oorgegee, en daarom doen Hy wonderlike dinge deur haar. Mans wat voorheen moordenaars, bendeleiers en dwelmhandelaars was, het nou MBA grade en is sake-bestuurders, professionele persone en pastore. Hulle lewens is verander. 

Die Bybel belowe: “Iemand wat aan Christus behoort, is 'n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom.” Daardie "iemand" sluit gevangenes in. Gedurende sy 33 jaar hier op aarde het Jesus die meeste van sy tyd saam met die samelewing se uitgeworpenes deurgebring — skelm tollenaars, prostitute en ander sondaars. Hy het hulle die genesing van sy vergifnis en vriendskap aangebied en gesê: "Dié wat gesond is, het nie 'n dokter nodig nie, maar dié wat siek is.” As Jesus vandag op aarde was, sou ons Hom waarskynlik in tronke gevind het — terwyl Hy tyd saam met selfs die mees veragte misdadigers en uitgeworpenes deurgebring het. Hoekom? Want Hy het gekom "om die verlorenes te soek en te red.” As Jesus se verteenwoordigers op aarde hier en nou, is ons ook geroepe om die boodskap van sy wonderlike genade te deel en te vertrou dat niemand — dit maak nie saak hoe ver hy of sy geval het nie — buite die bereik is van Christus se liefde en krag om herskep te word nie. 

Is jy bereid om te gaan waar Jesus sou gaan? Dit kan deur gebed wees, om na die families van diegene in die tronk uit te reik, gevangenes te besoek om die boodskap van die goeie nuus aan hulle te verkondig of 'n organisasie wat gevangenes en hulle gesinne bedien, finansieel te ondersteun. Vra God om jou te wys hoe jy vandag 'n bydrae kan lewer. 

Memoriseer Vers

“Julle is die sout vir die aarde. Maar as sout verslaan het, hoe kry 'n mens dit weer sout? Dit is niks meer werd nie. Dit word buitekant weggegooi, en die mense vertrap dit. Julle is die lig vir die wêreld. 'n Stad wat op 'n berg lê, kan nie weggesteek word nie" Matteus 5:13–14.

Dag 13Dag 15

Aangaande hierdie leesplan

Let's Go

Hierdie 21-dag oordenking van Gateway Church is bedoel om jou aan te moedig en te inspireer om Jesus se sendingopdrag uit te voer: "Gaan uit, die hele wêreld in, en verkondig die evangelie aan die hele mensdom ..." (Markus 16:15).

More

Ons wil graag dankie sê vir Gateway Church wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting, besoek gerus: https://gatewaypeople.com