Geloof Bo VolmaaktheidVoorbeeld
Lees: Genesis 12:10–20; Filippense 4:19
SOAP: Filippense 4:19
En my God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens sy wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus.
Oordenking
God het aan Abram 'n belofte gegee. God het beloof om Abram tot 'n groot nasie te maak, om sy naam groot te maak, om hom te seën en deur hom al die geslagte van die aarde te seën. God het Abram 'n opdrag gegee wat verband hou met die belofte: Abram moes na die land gaan wat God hom sou wys. God het Abram na die land Kanaän gelei en hom die land gewys wat Hy eendag aan sy nageslag sou gee. Abram het God geglo en gehoorsaam.
Maar toe kom daar hongersnood. Die land wat God belowe het om aan Abram en sy nageslag te gee het opgehou om voedsel te produseer. Abram het sy vrou, Sarai, geneem en na Egipte gegaan, omdat die hongersnood so erg was. Abram het die land wat God hom gegee het verlaat en na 'n vreemde land, wat vir hom voorsiening kon bied, gegaan. In plaas daarvan om op God te vertrou om te voorsien, vertrou Abram op sy eie instinkte en reis na 'n plek waar daar voedsel is.
Abram se vrou was pragtig. Abram was bang dat die farao Sarai as sy eie vrou sou neem en hom sou doodmaak. In plaas daarvan om op God te vertrou, bedink Abram 'n plan wat Sarai in gevaar stel. Abram het baie geskenke van die farao ontvang, maar hy het die belofte van 'n erfgenaam deur Sarai in gevaar gestel.
Baie vroeg in die verhaal van Abram se lewe leer ons dat Abram nie die held van sy eie verhaal is nie - God is. God is die een wat Abram gekies het om die verlossing van die wêreld tot stand te bring. God het die land gekies waarin Abram en sy nageslag sou woon. En selfs in Abram se ongeloof en foute is God die een wat sy belofte beskerm het. God alleen is die held wat die belofte beskerm wat Hy aan Abram en Sarai gemaak het. Toe hulle pogings om hulleself te red en te beskerm misluk het, het God ingegryp om sy uitverkore volk te beskerm.
Ongeag die hongersnood of die gevaar waarin ons verkeer, ons God is altyd die Een wat red. Hy is die held van elke verhaal, ook ons eie. Hy voorsien, beskerm en herstel. Ons kan Hom vertrou in onsekerheid en in mislukking. Hy alleen sal alles voorsien wat ons nodig het.
Gebed
Vader, U alleen is die held. Vergewe my asseblief vir my ongeloof, vir die kere wat ek probeer om sake in my eie hande te neem. Gee my geduld terwyl ek op U vertrou. Gee my geloof om U te vertrou, selfs al lyk dit of dinge uitmekaar val. Ek weet U sal vir my sorg en my beskerm. Amen.
Aangaande hierdie leesplan
Wat vra God van ons? Dis ‘n vraag waarmee ons almal worstel. Al wat God vra is dat ons glo. "Geloof Bo Volmaaktheid" ondersoek die geloofslewens van Abram (later Abraham genoem) en sy seun Isak. Hulle was nie volmaak nie. Daar was talle oomblikke toe hulle dade nie met hulle geloof gestrook het nie. Abram het op die Here vertrou en die Here het hom as regverdig gereken. (Genesis 15:6)
More
Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://lovegodgreatly.com/afrikaans/