Die Hantering van VerdrietVoorbeeld

Handling Grief

DAG 9 VAN 10

Twee Voorbeelde Van Verdriet

In 1921 het David en sy vrou Svea Flood, 'n jong paartjie met 'n tweejarige seun, as sendelinge Kongo toe gegaan.

Kort na hulle daar aangekom het, het sy vrou, Svea, malaria opgedoen. Te midde van haar siekte het sy uitgevind dat sy swanger is en vir 'n aantal maande het sy erge koors gehad.

Uiteindelik het Svea se malaria so erg geraak dat sy bedlêend geword het en binne 'n week nadat sy geboorte geskenk het aan 'n gesonde babadogter, is sy oorlede.

David Flood was erg geskok deur sy vrou se dood. Terwyl hy langs die graf met sy jong seun staan, het hy sy babadogter in die modderhut hoor huil. Skielik het bitterheid sy hart gevul. 'n Woede het in hom posgevat wat hy nie kon beheer nie. In hierdie woedebui het hy uitgeroep: "God, waarom het U dit toegelaat? Ons het hiernatoe gekom om in u diens te staan! My vrou was so beeldskoon en talentvol. Hier lê sy nou dood, op 27-jarige ouderdom."

"Ek het nou 'n tweejarige seun en 'n babadogter wat ek nie kan versorg nie. God, U het my gefaal. Wat 'n vermorsing van die lewe!"

Hy het sy pasgebore dogter vir ander sendelinge gee om te versorg en snerpend gesê: "Ek gaan terug Swede toe. Ek het my vrou verloor en kan verseker nie vir hierdie baba sorg nie. God het my lewe geruïneer." Hy het hawe toe gegaan en nie net sy roeping verwerp nie, maar ook vir God self.

Baie, baie jare later het sy dogter hom in 'n vervalle gebou gevind, omring deur 'n klomp drankbottels. Hy was toe 73 jaar oud en het aan diabetes gely. Hy het ook 'n beroerte gehad en daar was katarakte op albei sy oë.

Prys God dat hierdie ontmoeting met sy dogter hom tot berou gebring het. Hy het na die Here teruggekeer voordat hy dood is. Sy hele lewe was egter eintlik 'n vermorsing.

In die 1900's het Lettie Cowman en haar man, Charles, as sendelinge Japan toe gegaan.

Na 16 jaar van daaglikse byeenkomste, toesig hou oor 'n Bybelgenootskap en 'n organisasie, en preektoere in Korea en Sjina, het Charles se gesondheid ingegee. Charles en Lettie het dus na Amerika toe teruggekeer.

In Kalifornië het Charles 'n hartaanval gehad en sy toestand het verder versleg. Lettie het haar geliefde Charles vir die volgende ses jaar verpleeg. Na 'n lang stryd het Charles in September 1924 heengegaan. 

Vir Lettie was Charles se dood hartverskeurend. Sedert hul kinderjare het Charles alles vir haar beteken. Hulle het 'n sprokieshuwelik gehad en was totaal en al toegewyd aan mekaar. Sy het so in haar dagboek geskryf: "Dis hel op aarde!" Lettie het gebid dat God Charles moes genees. Hoekom het Hy nie? Het daar nie honderde mense vir Charles se genesing tot God gebid nie? Waar was Hy?

Lettie het na die Woord van God gegaan om hulp. Sy het ervaar dat God vir haar vra of sy eerder haar man gesond wou sien of dat sy wil in haar lewe geskied. Lettie het ure lank die Bybel en boeke gelees oor lyding en bemoediging. Sy het baie waarhede uit hierdie boeke neergeskryf. Min het sy geweet dat sy hierdie werk vir ander en nie net vir haarself doen nie, want as gevolg van mev. Cowman se ervarings en gebroke hart, en die honderde woorde van wysheid wat sy uit die boeke gekry het, is "Strome in die Dorsland" gebore. Vir meer as 90 jaar was "Strome in die Dorsland" nog nooit uit druk uit nie en is meer as ses miljoen eksemplare in verskeie tale verkoop.

Jy kan God toelaat om jou smart te gebruik om ander lewens aan te raak, of jy kan jou lewe opmors. Die keuse is joune. 

Aanhaling: "Onthou, jy het net een lewe. Dis al. Jy is vir God gemaak. Moet dit nie verspeel nie." — John Piper

Gebed: Here, help my om U nooit te verlaat of my lewe te verspeel as gevolg van die verlies van 'n geliefde nie. Help my om nie my lewe te vermors nie, maar U toe te laat om my verdriet tot u eer te gebruik. Amen. 


Dag 8Dag 10

Aangaande hierdie leesplan

Handling Grief

Wanneer iemand vir wie ons lief is sterf, ervaar ons gewoonlik verskillende emosies. Leer in hierdie 10-dag oordenking hoe om verdriet te hanteer as ons geliefdes hierdie aarde verlaat. Die Here het hierdie lesse vir my begin leer nadat my vrou aan die einde van Junie 2021 oorlede is.

More

Ons wil graag Vijay Thangiah bedank wat hierdie leesplan verskaf het. Vir meer inligting, besoek asb: https://www.facebook.com/ThangiahVijay