Die Hantering van VerdrietVoorbeeld
Die Kortstondigheid Van Die Lewe
Die verlies van 'n geliefde laat ons dikwels besef hoe kortstondig die lewe is.
Die lewe is broos en gaan gou verby. Vir sommige sal die reis net 'n paar jaar duur. Vir ander sal dit 'n hele paar dekades duur. Vir almal sal dit egter eendag tot 'n einde kom.
As ons bewus is dat die dood onvermydelik is, moet ons onsself dissiplineer om na te dink oor hoe kort ons lewens sal wees.
Soms neem dit egter 'n leeftyd, of die verlies van 'n lewe, om ons perke te leer ken. Dis hoekom Moses in Psalm 90:12 ons vra om só te bid: "Leer ons ons dae so gebruik dat ons wysheid bekom."
Ons tel dinge wat vir ons betekenis het: geld, sporttellings, kalorieë, ens. As ons dus ons dae van waarde ag, behoort ons hulle ook te tel. Iemand wat sy kapitaal oorskat kan finansieel onverantwoordelik wees en net so kan iemand wat sy jare hier op aarde oorskat, onverantwoordelik wees. Dit is baie wys om môre as 'n geskenk hanteer, in plaas daarvan om dit as vanselfsprekend te aanvaar.
Die kortstondigheid van die lewe is 'n volslae feit wat ons nie kan ontken nie. Ons mag die onsekerheid van die lewe bepeins — die feit dat enigeen van ons môre kan sterf — maar die lewe is nie net onseker nie, dis ook baie kort.
Job sê: “Die mens, uit 'n vrou gebore, se lewe is kort en vol onrus. Hy is soos 'n blom wat oopgaan en dan verlep, 'n skaduwee wat verbygaan en nie stilstaan nie … Die mens se dae is vasgestel, U het die getal van sy jare bepaal, U het dit neergelê, en hy kan dit nie oorskry nie. U moet van hom af wegkyk en hom met rus laat totdat hy soos 'n huurling sy dagtaak afgehandel het" (Job 14:1-6).
Of, in die woorde van Moses volgens Psalm 90:10: "Ons lewe maar sewentig jaar, of, as ons baie sterk is, tagtig, en dié is vol swaarkry en leed. Dit is gou verby, ons vlieg na ons einde toe."
'n Mens wat dink dat hy 'n volwassene is, maar lewe asof hy nooit sal sterf nie, is 'n dwaas — dis wat God so iemand in die Skrif noem (Lukas 12:20).
Die besef dat die lewe kort is, behoort 'n ontnugterende effek op jou te hê. Dit behoort jou te lei om die beste gebruik van tyd te maak.
Jy kan net betekenis en vervulling vir jou lewe hier op aarde vind, as jy daarna streef om God te gehoorsaam, lief te hê en te dien.
Paulus het geskryf: "Maar al is my lewe vir my kosbaar, reken ek dit van geen belang nie as ek maar net my lewenstaak kan voltooi en die dienswerk wat ek van die Here Jesus gekry het, kan klaar maak: dit is om die evangelie van God se genade te verkondig" (Handelinge 20:24).
As jy met so 'n ingesteldheid lewe, sal jy nie hartseer of ongelukkig met God wees wanneer jou kortstondige aardse lewe tot 'n einde kom nie, maar eerder bevoorreg voel dat jou lewe bygedra het tot die opbou van God se ewige koninkryk. Dan kan jy in selfvertroue saam met Paulus sê: "... die tyd van my heengaan is naby. Ek het die goeie stryd gestry; ek het die wedloop voleindig; ek het die geloof behou. Verder is vir my weggelê die kroon van die geregtigheid wat die Here, die regverdige Regter, my in dié dag sal gee..." (2 Timoteus 4:6-8).
Ja, die lewe is kort en daarmee saam ook die geleenthede om ewige beleggings te maak. Maak dus seker dat jou lewe vir Jesus tel.
Aanhaling: "Die mense wat 'n blywende verskil in die wêreld maak, is nie hulle wat baie dinge bemeester het nie, maar wat deur Een groot ding bemeester is." John Piper
Gebed: Here, help my om die beste benutting van my lewe te maak in die wete dat my lewe kort is, sodat ek gereed sal wees wanneer die tyd aanbreek om U te ontmoet. Amen
Aangaande hierdie leesplan
Wanneer iemand vir wie ons lief is sterf, ervaar ons gewoonlik verskillende emosies. Leer in hierdie 10-dag oordenking hoe om verdriet te hanteer as ons geliefdes hierdie aarde verlaat. Die Here het hierdie lesse vir my begin leer nadat my vrou aan die einde van Junie 2021 oorlede is.
More