Die Hantering van VerdrietVoorbeeld
Hoop Te Midde Van Verdriet
God kan nog steeds met 'n MAAR tussenbeide tree!
Toe Hy hoor dat Lasarus siek is, was Jesus se reaksie as volg: “Hierdie siekte sal nie op die dood uitloop nie, maar op die openbaring van die wonderbaarlike mag van God, sodat die Seun van God daardeur verheerlik kan word.”
Na twee dae het Hy reguit vir hulle gesê: “Lasarus is dood, en om julle ontwil is Ek bly dat Ek nie daar was nie sodat julle in My kan glo. Maar kom ons gaan na hom toe.”
Hy het getalm voor Hy gegaan het, "sodat hulle kon glo." Die vertragings van God het altyd 'n doel. Hy wil ons na 'n dieper geloof neem. Hy het alreeds vir hulle bewys gelewer dat Hy mense kan genees; nou het Hy hulle geleer dat Hy oor die dood mag het. Dit was slegs moontlik as Hy vertoef het.
Is dit moontlik dat God in sy tydsberekening en in sy oënskynlike afwesigheid, jou iets groter wil leer, iets meer betekenisvol, iets wat jy nog nie weet nie?
Kan jy nederig genoeg wees om dit te aanvaar? Kan jy glo dat as God groot genoeg is om iets te skep, Hy groot genoeg is om 'n rede te hê hoekom Hy toelaat dat jy lyding ervaar wat jy nie kan verstaan nie? Kan dit jou help om te vertrou, in die wete dat God se liefde, geregtigheid en opperheerskappy volmaak is en dat Hy die einde en die begin sien en weet wat Hy doen, al kan jy dit nie verstaan nie?
Het jy vir jou geliefde se herstel gebid en tog het jou geliefde gesterf?
Jy mag dink dat alles verby is. MAAR God sê nog steeds: "My Naam sal daardeur verheerlik word." Glo jy dit?
In Johannes 17:24 lees ons woorde, wat by nadere ondersoek en biddende oordenking, ons na aan die hart behoort te lê wanneer 'n geliefde sterf. Dink diep na oor Jesus se begeerte: “Vader, Ek wil graag hê dat waar Ek is, hulle wat U My gegee het, ook by My moet wees, sodat hulle my heerlikheid kan sien, die heerlikheid wat U My gegee het omdat U My al voor die skepping van die wêreld liefgehad het."
Hy begeer dat sy mense by Hom sal wees. Jesus is totaal en al gelukkig en tevrede as Hy vanuit die hemel regeer, maar volgens sy gebed in Johannes 17, het Hy 'n sekere onvervulde begeerte: dat sy mense by Hom sal aansluit in die woonplek wat Hy alreeds vir hulle voorberei het (Johannes 14:2-4).
Wanneer 'n geliefde wat die Here ken, sterf, moet ons eerstens en hoofsaaklik onthou dat die Vader Jesus se gebed beantwoord het. God is oppermagtig ook oor ons geliefdes se dood en Hy het 'n doel wat ons dalk nooit sal verstaan nie, maar ons kan aan die waarheid vashou dat Jesus tot sy Vader gebid het om sy mense tuis te bring. Wanneer 'n Christen sterf, gee die Vader toe aan sy Seun se versoek.
Ten minste kan ons dit sê: Wanneer 'n geliefde sterf, kry Jesus baie meer as wat ons verloor het.
Ja, ons het iets verloor. Ons sal nooit weer saam met daardie geliefde kan kuier nie. Die grootte van die verlies laat ons dikwels sprakeloos. Die verlies is egter nooit te groot vir Jesus om te sê: "Vader, Ek wil graag hê dat waar Ek is, hulle wat U My gegee het, ook by My moet wees, sodat hulle my heerlikheid kan sien."
Ons stort dalk trane wat emmers sal vul, maar daardie trane wat by ons wange afloop, sal van vreugde blink as ons besef dat ons geliefde se dood niks meer as 'n antwoord op Jesus se gebed is nie.
Hier sien ons hoop.
Aanhaling: Christene sê nooit vaarwel nie, net totsiens — Woodrow Kroll
Gebed: Here, ek dank U dat ons te midde van ons verdriet kan hoop dat ons ons geliefdes binnekort weer sal ontmoet. Amen.
Aangaande hierdie leesplan
Wanneer iemand vir wie ons lief is sterf, ervaar ons gewoonlik verskillende emosies. Leer in hierdie 10-dag oordenking hoe om verdriet te hanteer as ons geliefdes hierdie aarde verlaat. Die Here het hierdie lesse vir my begin leer nadat my vrou aan die einde van Junie 2021 oorlede is.
More