Die Hantering van VerdrietVoorbeeld
Dis In Orde Om Te Rou
Wanneer iemand vir wie ons lief is sterf, ervaar ons gewoonlik verskillende emosies. Nee, dis nie verkeerd om te huil of te treur nie. Die feit dat God in beheer is en alles op die ou end sal uitwerk, verminder nie die pyn wat ons hier en nou voel nie.
God verstaan hoe erg en pynlik dit is om die dood te hanteer. 'n Goeie voorbeeld van God se siening van die dood, is die geleentheid toe Jesus vir Lasarus uit die dood opgewek het.
Wanneer Jesus by Lasarus se graf huil, wys Hy vir ons dat dit aanvaarbaar is om te treur. Hy wys vir ons dat dit nie sonde is om hartseer te voel nie. Hy wys vir ons dat ons nie skaam hoef te wees vir intense gevoelens nie.
Jesus het gehuil net soos ons huil. Hy het trane gestort net soos ons trane stort. Hy was geraak net soos ons geraak word. Jesus het gehuil en dit wys vir ons dat Hy 'n hart het. Dit wys vir ons dat ons nie 'n God dien wat niks omgee vir wat met ons gebeur nie. Moet dus nie bang wees om jou bekommernisse na God toe te neem nie.
Hebreërs 4:15 sê vir ons: "Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie." Jesus gee om wanneer ons gebroke is.
Jesus het ook getreur toe sy goeie vriend en neef, Johannes die Doper, doodgemaak is.
Sy reaksie op hierdie twee sterftes, was verskillend. Ons kan uit sy voorbeeld leer hoe om te treur.
In Matteus 14:13 lees ons, toe Jesus die nuus van Johannes die Doper se dood hoor, Hy in 'n skuit geklim en na 'n stil plek gegaan het. Jesus het getreur. Hy was hartseer toe Hy hoor wat met Johannes gebeur het. Jesus wou toe net tyd alleen deurbring, bid en dink.
Daar sal baie kere wees wanneer jy net alleen met jou smart wil wees, sake deurdink en tyd saam met God deurbring, en baie vrae vir Hom vra. Dit is heeltemal in orde.
Ons lees egter dat die skare, toe hulle hoor waarnatoe Jesus op pad was, te voet na die ander kant van die meer gegaan het om Jesus daar te ontmoet.
Het jy al ooit só gevoel? Al wat jy wil doen is om alleen te wees en te treur, maar die eise van die lewe laat jou dit nie toe nie?
Hoe het Jesus op hierdie situasie gereageer? Die Bybel sê Hy het die skare gesien, hulle innig jammer gekry, en dadelik begin om die siekes gesond te maak. Alhoewel Jesus oor die verlies van sy goeie vriend getreur het, het sy hartseer Hom aangespoor om sy bediening voort te sit. Te midde van sy emosionele pyn, het Jesus na ander omgesien in plaas daarvan om in Homself gekeer te wees. In plaas daarvan om aan sy eie hartseer te dink en te sê: "Arme Ek", kyk Hy na die skare en begin hulle dien en liefhê.
Ons moet baie versigtig wees dat ons routydperk nie in selfbejammering en afsku ontaard nie. Ons hartseer bemagtig ons om ander lief te hê en te dien. Neem al daardie hartseer, al daardie emosies wat jy ervaar, en gebruik dit om vir ander mense, wat die liefde van Jesus dringend nodig het, te wys dat jy vir hulle omgee.
Dit is dikwels die sleutel hoe om te midde van hartseer met die lewe voort te gaan. Hoe meer aandag ons aan ons eie emosies gee, hoe meer sal ons aan die verlede vashou. Wanneer ons na ander mense kyk en hulle dien, kan ons die toekoms aanpak.
Aanhaling: Ons kan net ontdek wat die woord "God" regtig beteken, as ons ons vooropgestelde idees en beelde van wie God is, in die wind slaan en dit met beelde vervang van wat die Woord sê God is, iemand wat huil saam met dié wat huil. — Tom Wright
Gebed: Here, dankie dat U my hartseer verstaan. Ek kom na U toe vir hulp en krag in my verdriet. Amen.
Aangaande hierdie leesplan
Wanneer iemand vir wie ons lief is sterf, ervaar ons gewoonlik verskillende emosies. Leer in hierdie 10-dag oordenking hoe om verdriet te hanteer as ons geliefdes hierdie aarde verlaat. Die Here het hierdie lesse vir my begin leer nadat my vrou aan die einde van Junie 2021 oorlede is.
More