Die Hantering van VerdrietVoorbeeld
"Waar Was God In Al Hierdie Dinge?"
In ons donkerste oomblikke kan ons 'n lewe vol gegriefdheid leef, ons vuiste vir God bal en in 'n woedebui vra: "Waar was God toe dit gebeur het?" Of ons kan ons geloof in die heerskappy van Jesus plaas en die lewe, eerder as die dood kies.
Die rede hoekom ons met God ontevrede voel wanneer Hy nie op ons wense reageer nie, is dat ons God om ons pinkie wil draai; ons wil hê Hy moet alles doen wat ons vra; ons wil vir Hom bevele gee. Ons sê dit dalk nie in soveel woorde nie, maar dis 'n ander manier om te sê ons wil God wees, in plaas daarvan om God toe te laat om God te wees. Dis hoekom ons aanhou kla as God nie doen wat ons vra nie.
Ons almal wil wonderwerke in ons lewens hê. Wonderwerke is aangenaam; maar hulle los nie ons grootste probleem op nie. Ja, ons sou eerder 'n goeie lewe wil hê in plaas van 'n onaangename een; ons sou eerder 'n normale lewe wil lei in plaas van 'n deurmekaar een. Op die ou end sal nie een van ons soveel beheer hê as wat ons wil hê nie. Ons sal verliese lei; ons sal die dood van geliefdes in die gesig staar, ons kinders sal pyn en teleurstelling ervaar; ons lewens sal nie verloop soos ons dit beplan het nie. Die lewe sal nie wees soos ons dit voorgestel, verwag of voor gehoop het nie.
Dallas Willard skryf: "Een van die dinge wat jy in mense sal vind wat nog nie lyding ervaar het nie, is dat hulle geneig is te glo dinge moet op gepaste wyse gebeur." Hy is reg. Ons moet vooropgestelde idees laat vaar oor hoe ons ons geliefdes se dood verwag — en hoe ons verdriet gaan lyk.
Die skoonheid in al hierdie dinge is dat Jesus Christus iets meer en beter in hierdie wêreld aanbied as wonderwerke, of gesondheid en genesing. Ons hoef nie 'n opstanding uit die dood te aanskou soos Maria en Marta nie. Ons het die versekering dat God met ons is en ons kan ons vertroue in Jesus se woorde plaas: "Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld" (Matteus 28:20).
Onthou, God huil nie net saam met ons nie. Hy bring opstanding en lewe uit die dood.
In die geval van Jesus en Lasarus, is Jesus die werklike wonderwerk in die verhaal; Hy is die finale en uiteindelike antwoord op gebed. Hy is die opstanding en die lewe. Nie mond-tot-mond asemhaling nie, maar opstanding. Nie terugkeer na die vorige toestand nie, maar hernuwing. Jesus het sonde, die dood en die hel oorwin.
As ons in Hom glo — Johannes se standpunt regdeur die verhaal — sal ons lewe hê, werklike, permanente, oorvloedige, onderhoudende en ewige lewe. Wanneer ons sterf sal ons nog steeds daardie lewe ervaar. Ons kan selfs nou daardie lewe ervaar, want dit is groter as die lewe wat ons ken en die dood wat ons vrees. "Ek is die opstanding en die lewe. Wie in My glo, sal lewe, al sterwe hy ook; en elkeen wat lewe en in My glo, sal in alle ewigheid nooit sterwe nie" (Johannes 11:25-26).
Jesus het ook nog gevra: "Glo jy dit?" Dis die vraag wat ons onsself moet afvra as ons vra "Waar was God toe dit gebeur het?"
Die antwoord op hierdie vraag is dat Hy nog altyd by ons was en altyd by ons sal wees, en vir ons sy opstandingslewe aanbied. Sal jy hierdie offer aanvaar en nuwe lewe te midde van verdriet ervaar?
Aanhaling: "As pyn en lyding oor ons kom, kan ons uiteindelik sien dat ons nie net nié in beheer van ons lewens is nie, maar dat ons nooit was nie." — Timothy Keller
Gebed: Here, dankie dat U my help om te verstaan dat U naby is as ek u teenwoordigheid bevraagteken. Help my om dit in te sien en te glo. Amen.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Wanneer iemand vir wie ons lief is sterf, ervaar ons gewoonlik verskillende emosies. Leer in hierdie 10-dag oordenking hoe om verdriet te hanteer as ons geliefdes hierdie aarde verlaat. Die Here het hierdie lesse vir my begin leer nadat my vrou aan die einde van Junie 2021 oorlede is.
More