Volkome OorgaweVoorbeeld
Lees: Eksodus 2:1–10
SOAP: Eksodus 2:3
Langer kon sy hom nie wegsteek nie. Daarom het sy vir hom 'n biesiemandjie gekry en dit met klei en pik dig gemaak. Sy het die seuntjie daarin neergelê en dit tussen die riete aan die kant van die Nyl gesit.
Oordenking
Die Farao was bedreig deur die Israeliete se krag en getalle. Alhoewel hulle die Egiptenare se slawe was, het hulle gedy toe die Farao verwag het dat hulle uitmekaar sou val. Hoe meer die Israeliete onderdruk is, hoe meer het hulle vermeerder. Die Farao het nie gevoel dat vroue hom bedreig nie, en tog het die bose plan wat hy probeer instel het, misluk weens die optrede van vroue.
In sy eerste poging om die Israelitiese bevolking te beperk, het die Farao twee vroedvroue gevra om elke Hebreeuse seun wat gebore word dood te maak. Maar hierdie vroue het God meer gevrees as wat hulle die gevolge van ongehoorsaamheid aan 'n aardse leier gevrees het, en hulle het nie sy bevele gehoorsaam nie.
Toe Moses te oud was om langer weggesteek te word, het sy ma hom na 'n plek geneem waar die moontlikheid dat hy gevind sou word, groot was. Sy het hom sorgsaam beskerm deur hom in 'n drywende, waterdigte mandjie neer te lê en het hom in geloof tussen die riete in die rivier geplaas. Moses het na 'n gebied gedryf waar vroue waarskynlik klere sou was of bad. Toe die prinses, die dogter van die einste Farao wat hom ter dood veroordeel het, vir Moses ontdek het, het sy medelye met hom gehad. Haar deernis het haar vasberadenheid versterk om hierdie hulpelose kind te red.
'n Ander jong vrou, Moses se suster, het aangebied om 'n vrou te vind om die baba wat die prinses gevind het, te voed. Nadat sy eers haar seun weggesteek het en hom toe in geloof laat gaan het, het Moses se ma hom weer terug ontvang, hom gevoed en hom in haar eie huis versorg.
Baie vroue het 'n belangrike rol in die redding van Moses gespeel en uiteindelik in God se plan om sy volk te red. Die vroedvroue het God gedien en geweier om die Farao se bevele te gehoorsaam. Moses se moeder en suster was baie lief vir hom en het 'n plan gemaak om sy lewe te red. Farao se dogter het groot deernis getoon en 'n hulpelose baba gered.
Moses se ma kon nie geweet het wat God vir haar jong seun beplan het nie. Sy het gedoen wat sy gedoen het om haar kind se lewe te red. Sy kon nie geweet het dat God Moses sou aanstel om die een te wees om sy uitverkore volk uit die hande van hulle onderdrukkers te red nie. Alhoewel dit waarskynlik gelyk het asof sy haar kind sou verloor, het Moses se ma steeds in geloof opgetree.
Soms is dit maklik om te sien wat die gevolge van ons geloofsdade is. Soms het ons geen idee watter impak ons op ons vriende, bure of familielede sal maak wanneer ons in onderdanigheid aan God lewe nie. Tog, ongeag die uitkoms, is 'n lewe van geloof altyd die risiko werd.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Hoekom is my lewe nog so vol pyn en onsekerheid alhoewel ek ‘n volgeling van Jesus is? In hierdie ses weke lange studie gaan ons baie van die bekendste verhale van vroue in die Bybel verken en wanneer ons op ‘n nuwe manier na hulle lewens kyk, gaan ons ‘n dieper waardering ontwikkel vir die pad wat hulle geloop het.
More
Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://lovegodgreatly.com/afrikaans/