Volkome OorgaweVoorbeeld

Volkome Oorgawe

DAG 1 VAN 43

Welkom

Welkom by ons studie: Volkome Oorgawe.

“Hoekom voel dit of my lewe tans so moeilik is? Hoekom kan alles nie vir my maklik wees nie? Ek het gedink as ek ‘n Christen word, sal al my probleme oor wees.”

"Hoekom is my lewe nog so vol pyn en onsekerheid alhoewel ek ‘n volgeling van Jesus is?”

Baie van ons is ‘n valse evangelie gevoer. Ons het geglo dat as ons Christene word, gaan ons lewens eensklaps maklik raak, of so het ons minstens gehoop. Niks kan egter verder van die waarheid af wees nie. God het nie vir ons of vir enige van die vroue van wie ons in die Bybel lees (soos Maria, Hanna en Ester) ‘n lewe sonder pyn belowe nie. Nie een van hulle het maklike lewens gehad nie. Elkeen moes deur pyn gaan. Elkeen moes haar lewe deur geloof leef en nie deur wat sy sien nie. Elkeen moes kies om God te vertrou toe sy nie verstaan het nie.

Elke vrou moes haar lewe in volkome oorgawe leef terwyl sy ‘n groter doel in die pyn probeer raaksien het. Hulle verhale het verskil, maar ongeag waardeur hulle gegaan het, het hulle nooit alleen daardeur gegaan nie. God was by hulle in elke vallei en op elke bergtop. Hy het elke gebed gehoor en hulle pyn gevoel. Hulle was nooit alleen nie, en jy is ook nie.

In hierdie ses weke lange studie gaan ons baie van die bekendste verhale van vroue in die Bybel verken, en wanneer ons op ‘n nuwe manier na hulle lewens kyk, gaan ons ‘n dieper waardering ontwikkel vir die pad wat hulle geloop het.

Wat is S.O.A.P.?

Hier by "Love God Greatly Afrikaans", gebruik ons die "SOAP"-metode vir ons Bybelstudies. Die "SOAP"-metode maak dit vir jou moontlik om dieper te delf in die verse en meer te sien as wanneer jy net eenvoudig die verse lees en dan aangaan. Ons wil jou aanmoedig om jou tyd te gebruik om die daaglikse verse te "S.O.A.P." en self te sien hoeveel meer jy uit jou daaglikse stiltetyd sal kry.

Wat beteken "S.O.A.P."?

S – Die S staan virScripture– jy skryf die teksverse neer ... jy sal verbaas wees om te sien wat God aan jou in sy Woord sal openbaar deur net tyd te maak om die verse neer te skryf!

O – Die O staan vir Observation– wat sien jy in die verse wat jy lees? Wie is die gehoor? Is daar ‘n herhaling van woorde? Watter woorde staan vir jou uit?

A – Die A staan virApplication– Dit is wanneer die Woord van God persoonlik word. Wat sê God vandag vir my? Hoe kan ek dít wat ek nou net gelees het, in my eie lewe toepas? Is daar iets wat ek moet doen? Watter veranderinge moet ek maak?

P – Die P staan virPrayer. Bid die Woord van God terug na Hom toe. As Hy gedurende hierdie tyd iets aan jou in sy Woord geopenbaar het, bid daaroor. Bely as Hy vir jou sonde in jou lewe gewys het.

Inleiding:

Die lewe kan moeilik voel. Wanneer ons ons lewens eerlik in oënskou neem, kan ons dalk wonder: Is dit regtig wat God vir my beplan het? Is ek werklik binne sy wil? Indien wel, hoekom is my lewe so moeilik? Ek het gedink sodra ek 'n kind van God word, sou my lewe sonder stryd wees. Hoekom voel dit of my gebede onbeantwoord bly? Hoekom voel dit of ek deur een beproewing reguit in 'n ander een in loop? Hoekom is my lewe gekenmerk deur gebrokenheid en pyn? Hoekom kan my lewe nie maklik wees nie?

Ons het almal al van tyd tot tyd hierdie vrae in die een of ander vorm gevra. Ons is almal van die pad af gedwing deur verraad, hartseer en gebrokenheid. Ons word daagliks daaraan herinner dat hierdie wêreld nie ons tuiste is nie, en tog is ons hartseer oor wat ons nie het nie. Ons is geskep vir soveel meer, en ons smag daarna om ‘n stukkie hemel op aarde te ervaar. So wanneer die lewe moeilik raak, wanneer die antwoorde op ons gebede wegbly en wanneer pyn ons lewens binnedring, worstel ons met hoe ons gedink het ons lewe sou wees in vergelyking met die werklikheid van nou.

Ons vind vroue met soortgelyke verhale regdeur die Bybel. Hulle het elkeen deur hulle eie pyn, twyfel en bekommernis gegaan. Hoewel hulle verhale elkeen uniek is, was hulle volkome oorgegewe lewens gekenmerk deur 'n mengsel van hoop en hartseer. Nie een van hulle het 'n maklike lewe gehad nie. Elkeen moes deur pyn worstel. Elkeen moes God vertrou in die onbekende. Elkeen moes lewe deur geloof, nie deur wat hulle sien nie. Elkeen moes kies om in God se goedheid te glo te midde van hulle onbeantwoorde gebede.

Elkeen moes in die wete van God se soewereiniteit en die lewe se gebrokenheid leef.

En dít was God se wil vir hulle lewens:

"Verbly julle in die hoop; staan vas in verdrukking; volhard in gebed” – Romeine 12:12.

Was hierdie vroue volmaak? Nee, maar al hierdie vroue het een ding in gemeen gehad: 'n verhouding met God.

En as jy jou geloof in Christus geplaas het, het jy ook ‘n verhouding met God.

Ons lewens word dalk nie gekenmerk deur gemak nie, maar maak geen fout nie, dit word gekenmerk. Gekenmerk deur God se liefde. Gekenmerk deur God se voorsiening. Gekenmerk deur God se salwing.

Staan ​​dus sterk in jou geloof my liewe vriendin. Moenie bang wees nie, al bewe die wêreld. God is met jou. God is vir jou, en God het 'n groter doel met die pyn. Kies om jou lewe met volkome oorgawe aan sy wil te onderwerp. Soos die vroue in die Bybel wat ons voorafgegaan het, is God met ons, en in Hom vind ons ons krag, maak nie saak wat oor ons pad kom nie.

“Ek het die Here altyd by my: omdat Hy by my is, sal ek nie struikel nie” – Psalm 16:8.

Dag 2

Aangaande hierdie leesplan

Volkome Oorgawe

Hoekom is my lewe nog so vol pyn en onsekerheid alhoewel ek ‘n volgeling van Jesus is? In hierdie ses weke lange studie gaan ons baie van die bekendste verhale van vroue in die Bybel verken en wanneer ons op ‘n nuwe manier na hulle lewens kyk, gaan ons ‘n dieper waardering ontwikkel vir die pad wat hulle geloop het.

More

Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://lovegodgreatly.com/afrikaans/