Volkome OorgaweVoorbeeld
Lees: Genesis 2:18–24
SOAP: Genesis 2:18; Genesis 2:22–23
Verder het die Here God gesê: “Dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom iemand maak wat hom kan help, sy gelyke.” Die Here God neem toe 'n ribbebeen uit die mens, vul die plek met vleis op, en die ribbebeen wat Hy uit die mens geneem het, bou Hy om tot 'n vrou en bring haar na die mens toe. Toe sê die mens: “Hierdie keer is dit een uit myself, een soos ek. Daarom sal sy ‘vrou’ genoem word; sy is uit die man geneem.”
Oordenking
Vroue is doelbewus ontwerp; gemaak vir 'n spesifieke doel. God het vroue geskep omdat Hy geweet het dat sonder hulle bydrae in die wêreld, iets sou ontbreek. Soos ons in die skeppingsverhaal in Genesis lees, noem God alles wat Hy geskep het “goed”. God het egter in sy alwysheid en liefde verklaar dat iets aan sy skepping nie goed was nie: “Dit is nie goed dat die mens alleen is nie” (Genesis 2:18).
God het aan al sy skepsels die opdrag gegee om vrugbaar te wees en te vermeerder. Sonder ’n behoorlike maat kon die man nie die rol vervul wat God aan hom gegee het nie. Terwyl die man die diere name gegee het, het hy besef dat niemand soos hy was nie. Hy het 'n metgesel nodig gehad wat soos hy was, 'n metgesel wie se vorm en aard by syne pas, 'n metgesel wat hom sou weerspieël en aanvul.
Dit was slegs die vrou, ook na God se beeld gemaak, wat saam met die man kon werk om God se doel vir die mensdom te vervul.
Die vrou, Eva soos sy later genoem word, is geskep om 'n metgesel vir die man te wees. Die Hebreeuse woord wat in Genesis 2:18 as “metgesel” vertaal word, is ezer, 'n woord wat gereeld gebruik word om God te omskryf. God is 'n metgesel vir sy volk. Hy is die ezer wat in ons behoeftes voorsien, wat vir sy mense doen wat ons nie vir onsself kan doen nie. Die vrou is geskep om 'n onmisbare metgesel te wees, 'n ezer vir die man. God se goddelike doel vir die vrou was goed. Sy is geskape om te voorsien in wat in die man ontbreek het, net soos hy voorsien het in wat in haar ontbreek. Die vrou het 'n groot behoefte in die skepping vervul en hou aan om 'n ongelooflike behoefte in ons wêreld te vervul.
Net soos Eva, is jy geskep vir 'n doel groter as jouself. Jy is nodig. Jy word gekoester. Jy is geliefd. Ons wêreld sou nie dieselfde wees sonder die unieke gawes en bydraes van vroue nie. Wanneer jy voel dat jy nie genoeg is nie, onthou hoe God jou by sy ongelooflike plan vir die wêreld ingesluit het.
Soos ons ons studie saam begin, deur verhale van ons susters in die geloof te lees, kom ons vertrou God om sy hart vir sy dogters aan ons te openbaar. God het die vrou met 'n doel geskep, en Hy het elke vrou sedertdien ook met 'n doel geskep. Hy maak nie foute nie. God sien elke vrou wat Hy geskep het raak en is lief vir haar. Deur ons studie sal ons God se hart vir sy dogters ontdek en wat dit beteken om 'n lewe te lei wat volkome aan Hom oorgegee is.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Hoekom is my lewe nog so vol pyn en onsekerheid alhoewel ek ‘n volgeling van Jesus is? In hierdie ses weke lange studie gaan ons baie van die bekendste verhale van vroue in die Bybel verken en wanneer ons op ‘n nuwe manier na hulle lewens kyk, gaan ons ‘n dieper waardering ontwikkel vir die pad wat hulle geloop het.
More
Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://lovegodgreatly.com/afrikaans/