Volkome OorgaweVoorbeeld
Lees: Johannes 19:20–30
SOAP: Johannes 19:26–27
Toe Jesus sy moeder sien en die dissipel vir wie Hy baie lief was, wat by haar staan, sê Hy vir haar: “Daar is u seun.” Daarna sê Hy vir die dissipel: “Daar is jou moeder.” Van daardie oomblik af het die dissipel haar in sy huis geneem.
Oordenking
Maria is deur God gekies om die moeder van Jesus te wees. Sy word in die Bybel bekendgestel toe sy nog maar ‘n tiener was, maar dit is duidelik dat sy selfs met die vooruitsig van ‘n onseker toekoms, getrou was en die Here liefgehad het. Maria was teenwoordig toe Jesus sy eerste wonderwerk gedoen het, en sy het by Hom gestaan toe Hy aan die kruis vasgespyker is. God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun, wat deur Maria gedra, liefgehad en grootgemaak is, gestuur het om aan die kruis te sterf sodat ons vir ewig saam met Hom kan lewe.
Terwyl Hy sterwend was, het Jesus sy groot liefde en medelye getoon deur seker te maak dat Maria — soos die weduwee in Lukas 7 — versorg sou wees en beskerm word. Jesus het geweet Maria sou versorging nodig hê, en Hy het Johannes aangewys om vir haar te sorg soos sy eie ma. Die dissipel het haar sonder versuim in sy huis verwelkom.
Jesus het in sy laaste ure onmenslike lyding verduur. Hy is geslaan, bespot, kaal uitgetrek en aan ‘n kruis vasgespyker. Hy is op die wreedste manier denkbaar deur die Romeine gestraf. Tog was Jesus selfs te midde van sy eie verskriklike lyding, besorg oor sy moeder. Jesus het seker gemaak dat Maria versorg en veilig sou wees. Met sy optrede het Hy sy groot besorgdheid en liefde getoon vir die vrou wat Hom gedra, aan Hom geboorte gegee en Hom grootgemaak het. Daarna het Hy verklaar dat alles volgens die Skrif volbring is, sy kop vooroor laat sak en sy gees oorgegee.
Selfs toe Hy sterwend was aan die kruis, het Jesus getoon hoe lief Hy vroue het en hoeveel Hy vir hulle omgee. Jy is nie ‘n nommer vir Hom of ‘n vreemdeling wat Hy eendag in die hemel gaan ontmoet nie. Jy is ‘n geliefde dogter van God. Hy ken jou naam en het reeds lank voordat jy gebore is, geweet dat jy deel van God se familie sou wees. Wanneer dit voel asof die res van die wêreld nie omgee nie, wanneer jy voel asof jy uitgesluit of geïgnoreer word, weet dat Jesus jou raaksien. Hy het jou lief.
God se plan vir die redding en herstel van die mensdom het al voor die begin van tyd in werking getree. Toe jy Christus as jou Verlosser aanvaar het, is jy verwelkom in ‘n ewige verhouding met ‘n belofte en liefde wat vir ewig duur. Jesus het jou aangeneem om jou te beskerm en vir jou te sorg. Hy het jou net so innig lief as wat Hy vir Maria liefgehad het. Mag jy vandag, of jy jou helderste of donkerste dag beleef, Jesus se liefdevolle vertroosting, hoop en teenwoordigheid ervaar.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Hoekom is my lewe nog so vol pyn en onsekerheid alhoewel ek ‘n volgeling van Jesus is? In hierdie ses weke lange studie gaan ons baie van die bekendste verhale van vroue in die Bybel verken en wanneer ons op ‘n nuwe manier na hulle lewens kyk, gaan ons ‘n dieper waardering ontwikkel vir die pad wat hulle geloop het.
More
Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://lovegodgreatly.com/afrikaans/