Volkome OorgaweVoorbeeld
Lees: Lukas 1:5–25; 39–45
SOAP: Lukas 1:45
“Gelukkig is sy wat glo dat in vervulling sal gaan wat die Here vir haar gesê het!”
Oordenking
Hoe vas is jou geloof as die begeertes van jou hart onvervuld is? Wat as dit voel asof jou gebede vir langer as wat jy gedink het, onbeantwoord bly? Wanneer ons van Elisabet lees, kan ‘n mens aanvanklik maklik die aanname maak dat haar lewe perfek was. Sy was met ‘n priester getroud, en was self 'n afstammeling van priesters, wat vir ‘n Jood as ‘n besondere seën beskou is. Elisabet en Sagaria was getrou, het al die gebooie en voorskrifte onderhou, en is regverdig genoem.
Elisabet kon egter nie kinders hê nie, iets wat haar gemeenskap as ‘n groot teleurstelling beskou het. Elisabet en Sagaria was reeds op gevorderde leeftyd, wat dit nog meer onwaarskynlik — vanuit ‘n menslike oogpunt feitlik onmoontlik — gemaak het dat hulle kinders sou kon hê. Tog het Elisabet deur al die jare van teleurstelling en moedeloosheid vas bly staan in haar geloof.
Op God se volmaak bestemde tyd, toe haar niggie Maria ook haar eersteling, naamlik Jesus, verwag, het Elisabet swanger geraak met ‘n seun. Hy moes Johannes genoem word. Johannes is die een wat deur God uitgekies is om die komende Verlosser, Jesus Christus, bekend te maak en die weg vir Hom voor te berei. Elisabet het God se ongelooflike krag nie net in haar eie lewe ondervind nie, sy het ook die koms van die beloofde Messias persoonlik beleef. Sy was ook die eerste persoon wat Jesus as die Messias bely het! Elisabet het besef watter vreugde dit is om deur God gebruik te word, en om uitdrukking te gee aan haar vreugde, het sy Maria geseën en was saam met haar verheug oor die kindjie wat Maria in die wêreld sou bring.
Net God kon geweet het van al die stukkies wat saamgevoeg moes word om so ‘n wonderwerk te laat gebeur, ‘n seëning wat Elisabet se lewe sou verander. Na al die jare se gewag, asook haar hoë ouderdom, was hierdie seun ongetwyfeld waarlik ‘n wonderwerk van die Here. Elisabet self kon op geen manier enigiets doen om haar onvrugbaarheid om te keer nie.
Wanneer ons ons midde-in onvrugbare, bar plekke bevind, kan dit onmoontlik voel dat ons gebede eendag dalk nog beantwoord kan word. Ons mag dalk nooit sien waar God oral aan die werk is nie. Ons mag dalk nooit verstaan waarom ons vir ‘n antwoord moes wag nie. Soos Elisabet kan ons egter kies om vas te bly staan in ons geloof. Ons kan terugkyk na alles wat God gedoen het en Hom loof vir sy getrouheid. As ons God se getrouheid onthou en Hom vir sy goedheid prys, plaas ons ons hoop in sy vermoë en bereidheid om namens ons op te tree. In Hom is niks onmoontlik nie.
Aangaande hierdie leesplan
Hoekom is my lewe nog so vol pyn en onsekerheid alhoewel ek ‘n volgeling van Jesus is? In hierdie ses weke lange studie gaan ons baie van die bekendste verhale van vroue in die Bybel verken en wanneer ons op ‘n nuwe manier na hulle lewens kyk, gaan ons ‘n dieper waardering ontwikkel vir die pad wat hulle geloop het.
More
Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://lovegodgreatly.com/afrikaans/