Volkome OorgaweVoorbeeld

Volkome Oorgawe

DAG 12 VAN 43

Lees: Josua 2; Hebreërs 11:31; Jakobus 2:14–26

SOAP: Hebreërs 11:31

Omdat Ragab, die prostituut, geglo het, het sy die verkenners vriendelik ontvang en het sy nie omgekom saam met dié wat aan God ongehoorsaam was nie.

Oordenking

Ragab is deur God aangewys om ‘n rol te speel in ‘n plan wat sy nooit in haar leeftyd in vervulling sou sien gaan nie; sy het groot krag, dapperheid en geloof aan die dag gelê. Ragab het die lewens van Israelitiese spioene gered wat gestuur was om die stad Jerigo te verken. Later het Ragab ‘n seun met die naam Boas gehad, wat met ‘n vrou met die naam Rut getroud is, wat ‘n seun met die naam Isai sou hê. Isai het die vader van Koning Dawid geword, en na hom het daar ‘n lang lyn nakomelinge gekom totdat ‘n baba met die naam Jesus gebore sou word.

Die mans en vroue wat in Hebreërs 11 genoem word (dikwels die “geloofshelde” genoem) word nie vermeld as gevolg van hulle rustige, gemaklike lewens nie. Hulle was in der waarheid mense wat getrou gebly het ten spyte daarvan dat hulle nie die vervulling van God se beloftes gesien het nie. Hulle het gekies om God te volg terwyl dit moeilik was, toe hulle teenkanting van ander gekry het, en toe dit behels het dat hulle moeilike of gevaarlike keuses moes maak.

Die veilige keuse vir Ragab sou gewees het om die Israelitiese spioene aan die koning van Jerigo uit te lewer, of om, sodra hulle weg was, die koning omtrent hulle planne in te lig sodat haar stad op hulle aanval voorbereid kon wees. Verhale van die ongelooflike dinge wat God vir sy volk gedoen het, het egter by die mense van Jerigo uitgekom. Ragab het geweet dat wanneer God vir sy volk veg, niks Hom kon stuit nie.

In geloof het Ragab die spioene versteek. Met krag het sy die koning se manne oortuig om op ‘n ander plek na hulle te gaan soek. Met waagmoed het sy die Israelitiese spioene gevra om haar en haar familie se lewens te spaar. Ragab het hulle nie probeer ompraat om van plan te verander en ‘n ander stad aan te val nie. Sy het haar nie uit die voete gemaak voordat die Israeliete teruggekeer het nie. In plaas daarvan het sy standvastig gebly, haar vooropgestelde plan uitgevoer en vas geglo dat God se mense hulle woord sou hou.

As jy ‘n volgeling van God is, was dit nog nooit 'n waarborg dat jy ‘n gemaklike, rustige lewe gaan geniet nie. Wat ons wel belowe is, is dat God met ons sal wees, wat ons ook al in die gesig moet staar. Ragab het ‘n rooi tou in haar venster vertoon om die Israeliete te herinner aan die belofte van genade en redding wat die verkenners aan haar gemaak het. Net so herinner die bloed van Jesus ons dat God ons van ons sondes skoon was, en vir ewig verlossing en redding aan ons bied.

Mag ons vroue wees wat God so innig liefhet dat ons bereid is om sterk en dapper te wees soos Ragab, terwyl ons kies om te veg vir ‘n geloof wat ons in lyn bring met God en sy Woord, en glo dat Hy altyd sy beloftes sal nakom.

Dag 11Dag 13

Aangaande hierdie leesplan

Volkome Oorgawe

Hoekom is my lewe nog so vol pyn en onsekerheid alhoewel ek ‘n volgeling van Jesus is? In hierdie ses weke lange studie gaan ons baie van die bekendste verhale van vroue in die Bybel verken en wanneer ons op ‘n nuwe manier na hulle lewens kyk, gaan ons ‘n dieper waardering ontwikkel vir die pad wat hulle geloop het.

More

Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://lovegodgreatly.com/afrikaans/