Volkome OorgaweVoorbeeld

Volkome Oorgawe

DAG 6 VAN 43

Lees: Lukas 7:11–17

SOAP: Lukas 7:13

Toe die Here haar sien, het Hy haar innig jammer gekry en vir haar gesê: “Moenie huil nie!”

Oordenking

Jesus en sy dissipels het na die dorp Nain gereis. By die ingang van die stad het hulle 'n begrafnisstoet van 'n weduwee se enigste seun teëgekom. Weens haar seun se dood was hierdie vrou heeltemal hulpeloos — alleen, sonder sorg of beskerming. Bo en behalwe die hartseer oor die verlies van haar seun, was sy onseker oor haar eie toekoms, want in die eerste eeu kon vroue in Israel nie maklik vir hulleself sorg nie. Hierdie vrou het beide haar man en haar enigste seun verloor, wat haar sonder middele van beskerming of voorsiening gelaat het.

Dit is interessant dat Lukas, wat bekend is daarvoor dat hy op besonderhede en feite fokus, 'n oomblik van emosie in hierdie verslag ingesluit het. Hy het Jesus se deernis erken. Alhoewel Jesus wonderwerke kon doen om in die vrou se fisieke en finansiële welstand te voorsien, het Hy gekies om haar diepste behoefte aan te spreek — haar seer hart.

Jesus het nader gegaan ​​en die draagbaar aangeraak, hoewel dit Hom seremonieël onrein gemaak het op grond van die Ou Testamentiese wet. Toe, sonder woorde wat beïndruk of ‘n dramatiese seremonie, het Hy die jong man beveel om op te staan, en hy het! Almal wat die wonderwerk aanskou het, was in verwondering.

Jesus is so lief vir ons dat Hy nie net medelye met ons het nie, maar Hy is bereid om nader te kom, om in die gemors saam met ons te wees, om ons te ontmoet net waar ons is sonder om te verwag dat ons dinge eers moet uitpluis. Hy ken die verlange van ons harte, Hy het medelye met dít wat ons laat huil, Hy sal nie sommer verbystap nie.

In die Evangelie van Lukas word daar niks genoem van die vrou se geloof, gehoorsaamheid of sosiale status nie. Daar word nie eens vir ons vertel wat haar naam is nie. Wat ons wel sien, is Jesus se sorg vir haar. Jesus het geweet hoe haar lewe sou wees sonder 'n man om vir haar te sorg. Hy het haar intiem geken omdat Hy haar geskape het en Hy bly die held van haar verhaal. Jesus was die een wat barmhartig was, die een wat haar lewe binnegetree het en 'n wonderwerk gedoen het. Nie as gevolg van enigiets wat sy gedoen het nie, maar as gevolg van wie Hy is.

Waar in jou gebrokenheid is dit vandag vir Jesus nodig om in te tree? As jy alleen is, onseker is van jou toekoms, hartseer of verlore voel te midde van deurmekaar omstandighede, lê dit alles voor die Here neer. Hou op om jou eie planne te volg en maak ruimte vir God om jou lewe binne te tree en iets onverwags te doen. Hy gee om vir jou soos wat Hy vir hierdie naamlose vrou omgegee het — ten volle, volkome en perfek.

Dag 5Dag 7

Aangaande hierdie leesplan

Volkome Oorgawe

Hoekom is my lewe nog so vol pyn en onsekerheid alhoewel ek ‘n volgeling van Jesus is? In hierdie ses weke lange studie gaan ons baie van die bekendste verhale van vroue in die Bybel verken en wanneer ons op ‘n nuwe manier na hulle lewens kyk, gaan ons ‘n dieper waardering ontwikkel vir die pad wat hulle geloop het.

More

Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://lovegodgreatly.com/afrikaans/