Volkome OorgaweVoorbeeld
Lees: Galasiërs 3:24–29
SOAP: Galasiërs 3:28
Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal één.
Oordenking
Daar is absoluut niks wat ons in ons eie krag of deur ons werke kan doen om verlossing te verdien nie. Dit is 'n gawe van God, 'n gratis geskenk aan diegene wat in Jesus Christus as Here glo. Dit is nie eksklusief vir die magtiges, rykes, opgevoedes of elite nie. Die lewensveranderende krag van die evangelie is vir almal beskikbaar. Die oomblik wanneer iemand Christus as hul Verlosser aanneem, word hy of sy 'n kind van God. Die evangelie is gevul met goeie nuus en vol krag om mure af te breek.
Vir baie Joodse gelowiges in die vroeë kerk was die wet van die Ou Testament al wat hulle geken het. Voor Christus was redding vir heidene beskikbaar as hulle Jode geword het deur in God te glo en die wet te volg. Die wet het die riglyne vir geloof verskaf totdat God 'n nuwe verbond tot stand gebring het, en sy Seun gestuur het om aan die kruis te sterf as offer vir almal. Christus is die rede waarom verlossing nie meer gaan oor heidene wat Jode word voordat hulle God kan volg nie. In Christus is almal wat glo deel van een liggaam. Daar is nie meer hindernisse tussen Jood en nie-Jood, vry mense en slawe, of mans en vroue nie.
Waar die wêreld verskille wil uitwys en verdeeldheid wil skep, bied die evangelie eenheid. Waar die wêreld sê jou gawes is nie genoeg nie, jou omstandighede sluit jou uit, jou geslag beperk jou, of jou finansies definieer jou, nooi God jou om deel te wees van iets anders. Hy verwelkom jou gawes, omdat Hy die een is wat dit geskep het. Hy sien jou omstandighede raak en loop saam met jou daardeur en laat alles ten goede meewerk vir jou en tot sy eer. Hy verlustig Hom in sy kinders en in die manier waarop Hy jou doelbewus en opsetlik geskep het.
Jesus het jou lief, nie oor wat jy het of wat jy kan bied nie, maar omdat jy 'n kind van God is. Jy is uitverkies. Jy word geken. Jy is nie 'n fout, 'n mislukking of 'n ongerief nie. Wanneer jy jou geloof in Christus geplaas het, word jy geheel en al in die familie van God verwelkom.
Alle gelowiges is een in Christus, en niemand word uitgesluit uit die geleentheid om Hom as hulle Verlosser aan te neem nie. Terwyl jy poog om ander in die liggaam van Christus met jou unieke gawes te bemoedig, onthou dat ons almal in Christus verwelkom en aanvaar word. Sy offer breek mure af wat die wêreld oprig. Almal is een in Christus Jesus.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Hoekom is my lewe nog so vol pyn en onsekerheid alhoewel ek ‘n volgeling van Jesus is? In hierdie ses weke lange studie gaan ons baie van die bekendste verhale van vroue in die Bybel verken en wanneer ons op ‘n nuwe manier na hulle lewens kyk, gaan ons ‘n dieper waardering ontwikkel vir die pad wat hulle geloop het.
More
Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://lovegodgreatly.com/afrikaans/