Volkome OorgaweVoorbeeld
3Lees: Romeine 16:1–2; 1 Korintiërs 12:12–26
SOAP: 1 Korintiërs 12:12
Net soos die liggaam 'n eenheid is en baie lede het, en soos al die lede saam, al is hulle baie, een liggaam vorm, so is dit ook met die liggaam van Christus.
Oordenking
In Paulus se brief aan die Romeine maak hy melding van verskeie mense wat belangrike werk vir die Here gedoen het. Dit maak die brief persoonlik en vereer diegene wie se diens moontlik ongemerk verby gegaan het. Paulus het gelowiges van verskillende agtergronde, sosiale stande, rasse en geslagte ingesluit, met groot eenheid in die verskeidenheid.
Paulus het die kerk in Rome gevra om Febe te verwelkom, want sy was 'n groot hulp vir hom. Sommige geleerdes meen dat die brief van Paulus aan die kerk in Rome, aan Febe toevertrou was en dat sy dit moes aflewer. Hoewel daar onsekerheid is oor haar spesifieke rol binne die vroeë kerk, het haar geloof en diens, nie haar titel nie, Paulus se bediening beïnvloed.
Febe het maniere gevind om die gawes wat God aan haar gegee het te gebruik om sy koninkryk te dien. Sy het unieke gawes gehad, en sy het dit gebruik om Paulus en die vroeë kerk te dien. Alhoewel Febe slegs in 'n paar verse van die Nuwe Testament genoem word, was haar werk vir die evangelie nie onbeduidend nie. Soos Febe, kan God se mense 'n ongelooflike impak vir die evangelie maak wanneer ons die unieke gawes wat Hy aan elkeen van ons geskenk het, ten volle aanvaar en gebruik.
1 Korintiërs 12 beskryf die kerk as 'n menslike liggaam om vir ons te wys hoekom elke persoon met hulle unieke gawes nodig is. As die hele liggaam net een orgaan/ledemaat was: 'n oog, 'n oor, 'n voet, 'n arm, sou dit nutteloos wees. Dit vereis elke lid, van die grootste orgaan tot die kleinste beentjie, met klein verbindings, briljante kommunikasie en doelbewuste samewerking, om die liggaam te laat funksioneer. Elke lidmaat van die kerk het 'n unieke gawe wat spesifiek ooreenstem met hulle temperament, agtergrond en ervaring. Ons hoef nie ons gawes met dié van ander te vergelyk nie, aangesien elke lid van die liggaam van Christus uniek, waardevol en onvervangbaar is.
God het jou ontwerp om 'n pragtige lid van die liggaam van Christus te wees. Sonder jou en jou unieke gawes sal die liggaam van Christus nie tot sy volle potensiaal kan funksioneer nie.
Neem vandag tyd om die gawes wat God vir jou gegee het te lys en vra Hom in gebed om te openbaar waar en hoe Hy wil hê jy Hom met daardie gawes moet dien. Wees dan bedag op die unieke geleenthede wat God bied terwyl jy stappe van geloof neem om sy mense te dien, te lei, te onderrig, aan te moedig en lief te hê op die manier wat Hy uniek vir jou ontwerp het om te doen.
Aangaande hierdie leesplan
Hoekom is my lewe nog so vol pyn en onsekerheid alhoewel ek ‘n volgeling van Jesus is? In hierdie ses weke lange studie gaan ons baie van die bekendste verhale van vroue in die Bybel verken en wanneer ons op ‘n nuwe manier na hulle lewens kyk, gaan ons ‘n dieper waardering ontwikkel vir die pad wat hulle geloop het.
More
Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://lovegodgreatly.com/afrikaans/