Wie is God?Voorbeeld
Wie is God? - God is groot en genadig - 1 Konings 17
Onsekerheid en onrus
Ek dink nie ons was al ooit in ons land in soveel onsekerheid en onrus gedompel nie. Die politieke gevegte in ons stede is vuil en verbete. Die sosiale onrus rondom grond en dienslewering groei by die dag. Ons regstelsel het slagvelde geword waar wydverspreide korrupsie en die grootskaalse kaping van bronne blootgelê word. Selfs die kerk beland in die gedrang waarin die vraag ten diepste is na die gesag wat die Woord van God in mense se lewens behoort te hê.
Hoe maak ‘n mens sin hiervan? Hoe kies ‘n mens koers? Hoe besluit jy wat is die regte ding om te doen?
Fokus op jou Godsbeeld
Die antwoord is om terug te keer na die fundamentele vraag na God. Jou Godsbeeld. Wie Hy is. Wat Hy doen. Wat Hy vra.
Want, jou Godsbeeld beïnvloed jou mens- en wêreldbeeld. Jou Godsbeeld bepaal hoe jy reageer op die uitdagings in die politiek en die gemeenskap. Jou Godsbeeld bepaal hoe jy reageer op die gesag wat die Woord van God in mense se lewens behoort te hê.
Dit leer die verhaal van Elia ons.
Die tyd van Agab en Isebel
Die situasie in Elia se tyd was nie soveel anders as ons eie nie. Trouens, in sekere opsigte was dit erger as vandag.
Die tyd van Agab was ‘n tyd van ernstige politieke konflik, nie soseer tussen partye in die stede nie, soos hier in ons metropole nie, maar tussen die stede en die platteland. Tussen die kleinboere en die grootboere, die konings en die grondeienaars. Geen wonder die verhaal van Nabot se wingerd word met soveel deernis in die Elia-verhale ingesluit nie (1 Kon 21). Uitbuiting en onreg, lieg en bedrieg, was aan die orde van die dag.
Die godsdienstige afvalligheid was egter die heel slegste. Die kweekskool van Isebel – by wyse van spreke – met haar priesters en profete van Baäl en Asjera het die ghitaar geslaan. Hulle het die suiwer godsdiens van Jahwe en die heiligheid van die huwelik vervang met afgodsdiens en onsedelikheid.
Isebel – dogter van EtBaäl, koning van Sidon (1 Kon 16:31) – se Godsbeeld was dié van die Kanaänitiese viervlakkige veelgodedom. Op die boonste vlak was die dronk afsydige god El en sy wellustige vrou, die godin Asjera. ‘n Onwelvoeglike spul. Op die tweede en meer aktiewe vlak was die god Baäl, die bul, die god van die natuur. Die god van die storms wat reën bring, van vrugbaarheid en nuwe lewe.
En dan ook nog sy suster Baalat, sy eweknie. Met ‘n paar ander gode, soos die afgryslike god Mot, die god van die dood. Aan wie kinders geoffer is, baie keer in ‘n seksuele rite.
Dan was daar nog twee laer vlakke van plaaslike godjies, en ‘n paar boodskappers, amper soos engele. ‘n Hele godsdienstige sisteem in die gemeenskap waardeur die Godsbeeld van die heilige God, Jahwe, en sy wil vir die lewe in gedrang gebring is.
Jou Godsbeeld bepaal jou wêreld- en mensbeeld
Dié afgodsdiens het ‘n amper onbeheerbare effek op die samelewing gehad. Want, die afgodery het tot gruwelike, afstootlike, mens-onterende onsedelikheid gelei. Seks was vryelik beskikbaar, maak nie saak watter tipe seks of met wie jy dit wou beoefen nie. Daar was priesters vir elke behoefte. En daar is waarlik niks nuuts onder die son nie. En ek bedoel dit.
Drank het vryelik gevloei. Orgie op onwelvoeglike orgie is gehou. Alles in die naam van die gode. Alles gereël deur die profete en priesters van Isebel, die onheilige godsdienstiges van hulle tyd.
Die grootste slagoffer in die gemeenskap was die huwelik, waarin kinders nie gekoester en aan die Here toegewy is nie, maar opgeoffer is ter wille van die giere en grille van hulle ouers. Getrouheid in die huwelik het amper nie bestaan nie.
Geen wonder daar het ‘n droogte uitgebreek nie. Waar die Here nie gedien word nie, sluit hy die hemel, in ‘n doelgerigte poging om mense tot inkeer te bring. En waar dit eeu na eeu voortgaan, sluit hy later die aarde vir sulke mense en dryf hulle uit, soos hy dit aanvanklik gedoen het met die Intog van Josua.
Elia herstel hulle Godsbeeld
Op die toneel verskyn skielik die enigmatiese figuur Elia, amper zenkrecht von oben, soos ‘n weerligstraal vanuit die hemel. En hy openbaar vir ons die regte Godsbeeld. Direk in stryd met die Godsbeeld van Isebel en haar lamsak van ‘n man Agab.
Elia se naam gee ons alreeds ‘n idee van wie sy God is. Elia. “My God is Jahwe.” En regdeur die verhaal roep hy Israel op om ‘n keuse te maak vir dié God. Om nie langer op twee gedagtes te hink nie, maar ‘n keuse te maak. As Baäl god is, kies dan vir hom. As Jahwe God is, kies dan vir hom. Maar weet dan, julle sal die gevolge dra.
Wie is hierdie God?
Deur vier verhale ontvou die prentjie van God hier in hoofstuk 17.
1. Die droogte. Elia kondig die droogte aan op geen onseker wyse nie: “So seker as die Here leef, die God van Israel in wie se diens ek staan, daar sal die volgende paar jaar geen dou of reën val nie, behalwe as ek so sê.”
Die droogte kom dus nie deur ‘n weervoorspelling nie. Nee, deur ‘n aankondiging van sy profeet. Vir drie jaar. ‘n Uitmergelende droogte. Oor die hele land. Net op grond van God se woord. Want, God is in beheer van die kosmos.
En Baäl kyk op sy neus. Die god van die storms is stil. Geen donderwolke. Geen reënwolke. Die normale gang van die natuur is verbreek. En die volk besef, Baäl is eintlik ‘n niksnuts. ‘n Wasempie. ‘n Newelwolk. Hy bestaan nie.
Daarmee wys Elia dat die droogte God se reaksie is op die chaos op politieke en godsdienstige terrein. Hy wys dat God groot is. Dat Hy kan optree. Dat die kosmos onder sy beheer is. Dat daar niemand saam met Hom God kan wees nie.
Maar Hy wys ook dat Hy die Enigste God is. Daar is nie ‘n god soos Baäl nie. Hy het geen beheer nie. Hy kan niks vermag nie. Hy is ‘n skim van ‘n god. Een wat in nie-bestaan vervlugtig.
2. Die kraaie. Dit is nie net die natuur wat onder God se beheer is nie. Selfs die diere is onder sy beheer. Só sorg Hy vir sy profeet wat hy beveel om hom te gaan versteek by die Kritspruit, anderkant die Jordaan. Daar sou hy water uit die spruit kon drink. En daar het God het die kraaie beveel om vir hom te sorg. God vra nie net gehoorsaamheid nie. Hy beloon dit ook. Hy kan vir sy profeet sorg, want Hy is genadig.
Terwyl Agab moet skarrel om water vir sy mense en diere te kry, sit Elia by die Kritspruit, anderkant die Jordaan. Die Here versteek Elia daar by ‘n goeie waterbron. En die kraaie bring vir hom brood en vleis. Elke oggend. Elke aand.
God is dus groot in die kosmos. Hy bring droogte. Hy kan die natuur beheer. God is ook groot in die kleine. Hy stuur die kraaie om vir sy profeet te sorg. Met brood en vleis. Twee keer ‘n dag.
3. Die meel en die olie. Selfs die kanne en die kruike van die weduwee van Sarfat is onder sy beheer: “So sê die Here die God van Israel: Die meel in die kruik sal nie opraak nie, en die olie in die kan sal nie minder word nie, totdat die Here laat reën het op die land.” God kan ook dáár in die vreemde land van Sidon vir sy profeet sorg. Só goed is God.
En Hy wys ook dat die huwelik vir hom kosbaar is. Dat Hy ver sal gaan om Hom oor die weduwees en die wese te ontferm, die vaderloses. Hy word die Vader van die weduwee van Sarfat en haar kind.
En later sal God weer reën gee om die droogte te breek soos Elia voorspel het. Sodat die normale siklus van die weerpatrone en die plant-en-oes siklus weer sy lewegewende werk kan doen. Maar op God se terme, nie op Baäl s’n nie.
4. Die seun. Toe die seun van die weduwee van Sarfat sterf, wek God hom uit die dood uit op. Elia se indringende gebed word deur God verhoor. Wat vir ons sê dat God getrou is. Hy los die weduwee nie aan haar eie genade oor nie. Hy hou die familie in stand ten spyte van die uitdagings wat hulle deur die afsterwe van die man die hoof moes bied. God gee lewe vir haar kind. God is getrou.
God is groot en genadig
God is dus groot. Onmeetbaar groot. Hy is die God van die kosmos en die kraaie, die kanne en die kruike, selfs van die lewe en die dood.
En dié God se genade strek baie ver. Daar is die genade van ‘n oase by die Kritspruit. Water, brood en vleis. Die genade van ‘n tuiste by die weduwee van Sarfat. Water, meel en olie. Die genade van ‘n seun wat vir die weduwee uit die dood uit opgewek word. Die genade van reën wanneer God sy seën weer uitgiet met die mag van die Baälprofete gebreek op die berg Karmel. God is genadig.
Hy bied sy genade vir almal aan
Maar wat ons ook moet raaksien, is dat hierdie genade ook telkens aan Agab en Isebel aangebied word. Die droogte is ‘n woord van God aan Agab om tot inkeer te kom. Die tuiskoms van Elia by die weduwee van Sarfat in heidense gebied en die opwekking van haar seun is ‘n woord van God aan Agab dat God lewe gee vir dié wat Hom verwelkom. Die vuur uit die hemel op die berg Karmel is ‘n teken dat God bestaan en dié beloon wat Hom soek.
Agab en Isebel weier God se genade
Maar, helaas. Agab kry dit nie reg om hierdie genade te ontvang in sy lewe nie. En hy sterf uiteindelik buite God se genade. Op sy vlug weg van ‘n latere oorlog het: “Iemand ... losweg ’n pyl afgeskiet, en dié het die koning van Israel getref tussen die skubbe van sy harnas en die borsplaat.” (1 Kon 22:34).
En Isebel is deur twee paleisamptenare van die hoogte van haar paleis afgegooi na haar dood onder in die straat. Daar het sy gelê met haar gesig mooi opgemaak terwyl die honde haar bloed oplek. Vermoor weens die hoerery en toordery van haar afgodsdiens, sê Jehu (2 Kon 9).
God is in beheer van lewe en dood. Nou en tot in ewigheid.
Elia herstel ons Godsbeeld
Elia wil dus ons oë oopmaak. Hy wil ons Godsbeeld herstel. Hy wil ons groter laat dink oor God. Hy wil hê ons moet sy genade raaksien. Sy goedheid. Sy getrouheid. Sy liefde en trou.
Maar, Elia is ook helder daaroor dat ons dit beter kan raaksien midde in die chaos wat ons in hierdie lewe beleef. Midde in die droogte.
- Daar by die Kritspruit waar die kraaie vir Elia kos bring en hy wegkruip vir die woede van Agab en Isebel.
- Daar by die weduwee van Sarfat waar ‘n wonderwerk nodig is om genoeg olie en meel te hê om te kan oorleef.
- Daar waar ‘n kind sterf en nóg ‘n wonderwerk nodig is om hom na die lewe toe terug te bring.
- Daar waar hy alleen staan op die berg Karmel met ‘n oormag van 450 profete van Baäl teenoor hom. En hy moet vertrou dat God vuur uit die hemel sal bring. En later die droogte sal breek.
Dit is waar alles begin, by jou visie op God. Wie Hy is. Wat Hy doen. Wat Hy vra. Waarheen Hy met ons op pad is. Ek nooi jou uit vir ‘n reis die volgende jaar op dié pad om God beter te leer ken soos Hy Hom in die Skrif aan ons openbaar.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Werk deur antwoorde op 52 kernvrae oor God, Christus en die Gees. Elke week het 7 bydraes oor ‘n kernvraag. Dag 1: ‘n Antwoord uit die Bybel met besprekingsvrae. Dag 2-5: Vier verdere bydraes uit die Bybel. Dag 6: Bydraes uit die belydenisskrifte. Dag 7: 'n Boodskap. Die bydraes is gerig op alle gelowiges. Jy kan dit gebruik vir jou stiltetyd of kleingroep.
More
Ons wil graag Bybelskool.com bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.bybelskool.com/