Nie Gemaak Om Alleen Te Wees Nie - Gemaak vir Gemeenskap in 'n Eensame WêreldVoorbeeld
Week 1 — Gemaak vir Gemeenskap met God
As Beeld van God
Lees: Genesis 1:26–27
SOAP: Genesis 1:27
God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep.
Oordenking
Die bewys dat God ons vir gemeenskap ontwerp het, kan maklik in vandag se leesstuk nagespeur word. Kyk hoe dikwels die meervoudsvorm gebruik word — woorde soos “ons” of “hulle”. Daar is alreeds aanduidings van die belangrikheid van gemeenskap, samewerking en verbondenheid. Wat alreeds in die hemel aan die gebeur was, sou op aarde nagedoen word.
Teoloë debatteer oor die betekenis van die gebruik van die meervoudsvorm “ons” in hierdie gedeelte. Dit kan verwys na die Drie-eenheid, dit kan soos die koninklike “ons” gebruik word, of dit kan verwys na God en sy hemelse hof en is bedoel om lof te bring terwyl God die skeppingswerk doen. Wat ook al die korrekte weergawe is, alles dui op ‘n God wat gemeenskap hoog ag.
God het alles op die hele aarde geskep en gesê dat dit goed is — maar eers toe Hy mense gemaak het, het Hy iets na sy eie beeld geskep. Mense is geskep om, op die een of ander manier, die vorm en funksie van die Skepper te reflekteer. God, die Allerhoogste Heerser en Skepper, kies om aan mense die outoriteit te gee om oor sy skepping te heers en sy skeppingswerk voort te sit met die opdrag “wees vrugbaar en vermeerder”.
God het nie bloot alles op aarde geskep en toe weggestap om ‘n nuwe projek aan te pak nie. Hy het gebly, met Adam en Eva gepraat en saam met hulle in die tuin gewandel sodat hulle ‘n verhouding met Hom kon bou. Jy is gemaak om dieselfde gemeenskap met God te hê — om met Hom te praat, om daagliks saam met Hom te wandel en om ‘n verhouding met Hom te bou. Jy is gekies om in gemeenskap met God te wees, nie per ongeluk nie, maar doelbewus so ontwerp, van die heel begin af.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Nog nooit tevore in die geskiedenis van die wêreld was mense meer met mekaar “verbind” as ons huidige generasie nie, en tog voel so baie van ons meer eensaam as ooit. God het ons ontwerp om in gemeenskap met Hom en met mekaar te leef. In hierdie vier-weke lange studie gaan ons leer hoe ‘n Bybelse gemeenskap lyk en hoe om dit in ons lewens te kweek.
More
Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.lovegodgreatly.com/Afrikaans