AfgesonderVoorbeeld
Wees Lief vir Ander
Lees Romeine 12:9–21
SOAP Romeine 12:9–10
Oordenking
Ek weet dat ons, as vroue, almaI baie rolle het en die balle van tallose verantwoordelikhede in die lug moet probeer hou. Ons dae is vol oomblikke wat liefde en deernis vir onsself en ook vir ander vereis. Dit is egter maar moeilik om met ‘n opregte hart lief te hê veral wanneer ons oorweldig, seergemaak of ongewaardeerd voel.
Dis juis dan wanneer ons moet onthou dat ons vermoë om ander opreg lief te hê van God kom en nie uit onsself nie. God is die bron van alle liefde en wanneer ons sy liefde deur ons laat vloei, kan ons ander met ons hele hart liefhê, selfs wanneer dit moeilik is om liefdevol te voel.
Wanneer dit moeilik voel om ander lief te hê, begin deur te fokus op klein liefdesdade wat ‘n groot impak kan maak. Stuur ‘n bemoedigende teksboodskap vir ‘n vriend of vriendin wat ‘n moeilike tyd deurmaak. Bied vir ‘n buurvrou hulp aan met haar kruideniersware. Verras jou man of gesinslid met ‘n klein liefdesdaad. Dit is in sulke alledaagse oomblikke dat ons ons liefde vir ander kan wys en God se liefde deur ons kan laat skyn.
Maar nog belangriker as die uiterlike dade is die hart waarmee jy dit doen. As jy sukkel om ander lief te hê, vra God om van sy grenslose liefde in jou hart uit te stort. Hy sal jou help om diegene om jou opreg en toegewyd lief te hê. As ons toelaat dat God se liefde ons harte volmaak, sal dit van nature oorloop in ons verhoudings, wat dit makliker maak om ander bo onsself te ag.
Liewe vriendin, weet dat jy nie alleen op hierdie reis is nie. Leun op God se genade. Dit is ‘n proses vir ons elkeen. Ons almal sukkel soms om ander met ons hele hart lief te hê, maar die pragtige waarheid is dat ons ‘n liefdevolle God het wat altyd met ons is en altyd gereed is om ons te lei en te bemagtig. Ek bid vandag dat jy sy liefde vir jou sal aangryp en dat liefde in die lewens van diegene om jou sal oorspoel.
Gebed
Liewe Jesus, help my om ander lief te hê soos U wil hê dat ek hulle moet liefhê. Gee my die liefde wat ek aan ander moet gee. Help my om ander waarlik lief te hê, veral op die dae wanneer ek voel of ek nie meer liefde het om te gee nie. Help my om vrygewig te wees met die liefde wat U my gee en ander te eer in my strewe om U met my lewe te eer.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Voel dit asof die wêreld al verder weg van God af beweeg? Is dit vir jou moeilik om te weet hoe om die mense in jou lewe lief te hê sonder om beïnvloed te word deur die veranderinge in 'n wêreld wat uit pas is met God?
More
Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://liefgodgrootliks.wordpress.com/