TydloosVoorbeeld
Dag 1: Verstaan? Ek weet net.
Prediker 3:11: “Hy het alles mooi gemaak, Hy het aan die mens ‘n visie gegee van die ewigheid. Tog kan mense nie die volle omvang van God se werk, van begin tot end, verstaan nie” (NLV).
In hierdie teksvers word bevestig dat die mens nie die omvang van God kan begryp nie. Dit is té groot. Waar begin 'n mens? Hoe prosesseer ons die legio beskrywings van God? Sy omvang is oneindig!
Wanneer ek aan God dink, voel my brein oorweldig in die wete dat álles wat ek is of enigiets waaroor ek nadink, droom, beplan en leef, vir Hom geen verrassing is nie. Hy is daagliks by my en ook alreeds vooruit. Prediker sê God het aan ons die visie van die ewigheid gegee, maar ek moet in alle eerlikheid bieg dat ek nie dink ek selfs dít in ‘n verstaanbare of verteerbare begrip kan verpak nie.
Ewigheid. Oneindigheid. Geen komma of punt nie. Soos asem wat aanhou blaas, onophoudelik, sonder moeite. Ek kan vele teksverse aanhaal met verwysing tot die “ewigheid” maar wat ek wel weet, is dat ek daarvan deel wil wees. Vir ewig in sy teenwoordigheid en om te sweef in die stroom van sy asem.
Dit is mý visie van ewigheid en tydloos. Niks wat vashou of onderdruk nie. Geen menings of seer nie. Geen vrae meer nie omdat die ewigheid deel gaan wees van my tydlose teenwoordigheid binne-in sý tydloosheid.
Gebed: Vader, wie kan U ten volle verstaan of ontleed? Daar is geen mens wat U in ‘n voorlegging kan verpak nie. U is … ek wil saam met U die ewigheid beleef — daar waar U nog altyd is!
Dink na oor hoe jý God (probeer) verstaan. Gesels met Hom en aanvaar dat Hý “tyd” is!
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
God is. Hy ís die begin en die einde. Hy het die heelal geskape en alles wat daarin bestaan. Hy is alomteenwoordig. Tydloos beteken dat “iets” (in dié geval God) só goed en mooi is, dat dit nie deur die samelewing geaffekteer kan word nie. Dit is waar, maar wat meer waar is, is dat ons God nooit sal kan ontleed nie. Want God ís tyd; Hy is tydloos binne ‘n wêreld wat deur horlosies en lyne in dagboeke regeer word.
More
Ons wil graag Felicia Lategan bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.felicia-lategan.com