TydloosVoorbeeld

Tydloos

DAG 4 VAN 5

Dag 4: U is my God!

Psalm 31:15: “Want ek vertrou op U, Here, ek sê: “U is my God!”

Die teks hierbo is een van honderde waar Dawid na God om hulp uitroep, waar Hy God se identiteit bevestig en vasgryp. Hy sê dit met ‘n vaste wete omdat sy verwysingsraamwerk hom al geleer het wié God is. Ek hoor Dawid se woorde in my gees wat uitroep: “U is my God!” — hy moes dit met diepe gevoel geuiter het.

God kan nie aan teologie, opinies, bespiegelinge, raaiskote en eie aannames vasgemaak word nie. “U is my God!” Dis ‘n duidelike stelling. ‘n Tydlose stelling, dit sal vir altyd so wees. Sý Naam is bo alle name, dié Naam waarna jy in jou tyd van benoudheid roep.

Sóveel keer hoor ek mense vra “maar waar is God? Ek bid, ek glo, ek hou vas, maar dit is asof ek teen ‘n plafon vas bid”. Soms voel dit so, inteendeel baie meer kere as wat mens wil erken. Tog, God kan nie verdwyn nie, Hy kan nie soos ‘n ster verskiet nie, Hy ís die Ster! Ons lees elders in die Woord dat God nie ‘n man is dat Hy kan lieg nie … Hy is God!

Dus moet ek en jy die besluit neem: vertrou ek of nie? Gaan ek Hom aanroep of aanhou neul om ander mense se ore? Gaan ek Hom op sy woord neem of gaan ek vashou soos Dawid wat gereeld aan God se grootheid, sy alomteenwoordigheid en sy tydloosheid lofprysing gebring het?

Gaan ek uitbasuin: “U is my God” sonder skaamte, maar met ‘n vuur binne my gees?

Gebed: Here, my gees weet wat is waarheid. Blaas asseblief die vlammetjie binne my aan!

Soms as jy nie weet wat om te bid nie, wees rustig. Daar is nie ‘n resep nie. Haal Dawid se woorde aan: “Want ek vertrou op U, Here, ek sê: 'U is my God!'”

Dag 3Dag 5

Aangaande hierdie leesplan

Tydloos

God is. Hy ís die begin en die einde. Hy het die heelal geskape en alles wat daarin bestaan. Hy is alomteenwoordig. Tydloos beteken dat “iets” (in dié geval God) só goed en mooi is, dat dit nie deur die samelewing geaffekteer kan word nie. Dit is waar, maar wat meer waar is, is dat ons God nooit sal kan ontleed nie. Want God ís tyd; Hy is tydloos binne ‘n wêreld wat deur horlosies en lyne in dagboeke regeer word.

More

Ons wil graag Felicia Lategan bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.felicia-lategan.com