TydloosVoorbeeld
Dag 5: Versigtig en oplettend
Efesiërs 5:15-16: “Wees dus baie versigtig hoe julle lewe. Moenie soos dwase leef nie, leef wys! Benut elke geskikte geleentheid, want ons lewe in slegte tye” (NLV).
Dié verse is nie baie bemoedigend nie. Tog is dit wel waar. Daarom, soveel te meer dat ons die tyd wat ons op aarde het, fyn moet deurdink en reg aanwend. Ek het eenmaal gelees: “Vandag is jy so mooi, jonk en gesond as wat jy ooit sal wees.” Ware woorde! Elke oomblik is kosbaar, máár ons leer nie … ons besef dit net by begrafnisse.
Elke dag het verskeie geskikte geleenthede om reg te benut, om waarde toe te voeg soos byvoorbeeld: glimlag terwyl jy in ‘n winkelsentrum stap, hoekom nie? Let op na mense se reaksie. Betaal vir die senior oom en tannie se koffie terwyl hulle gesels — moontlik om net uit hul huis of kamer te kom en die lewe te sien en te ervaar. Jý is die een wat vreugde daarin sal vind.
Ja, ons leef in vreemde tye en moet daarteen waak hoe ons onsself aan die wêreld uitbeeld. Ons móét elke geleentheid benut, daarom vra ons die Heilige Gees om ons oë en ore wyd oop te maak om te kan hoor en sien wat Hy vir ons selfs binne uitdagende tye wil wys of sê.
Hierdie volgende aanhaling het hard teen die mure van my hart gebons: “Wanneer ‘n dowe mens jou sien, wat sien hy of sy? Wanneer ‘n blinde persoon jou hoor, wat hoor hy of sy?”
Gebed: Here, maak my hart, ore en oë deur u genade oop om daagliks versigtig te leef en oplettend te wees. Ons weet U loop saam met ons ook in slegte tye.
Skryf die aanhaling hierbo neer en plak dit waar jy dit elke dag kan sien.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
God is. Hy ís die begin en die einde. Hy het die heelal geskape en alles wat daarin bestaan. Hy is alomteenwoordig. Tydloos beteken dat “iets” (in dié geval God) só goed en mooi is, dat dit nie deur die samelewing geaffekteer kan word nie. Dit is waar, maar wat meer waar is, is dat ons God nooit sal kan ontleed nie. Want God ís tyd; Hy is tydloos binne ‘n wêreld wat deur horlosies en lyne in dagboeke regeer word.
More
Ons wil graag Felicia Lategan bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.felicia-lategan.com