TydloosVoorbeeld
Dag 3: Té groot om te begryp
Jesaja 46:9-10: “Dink aan wat lank gelede gebeur het. Ek is God. Daar is geen ander nie. Ek is God. Niemand is soos Ek nie. Ek maak bekend wat gaan gebeur nog voor dit gebeur. Wat Ek besluit, voer Ek uit. Wat Ek wil doen, doen Ek” (NLV).
Lees weer die twee verse hierbo. Ek voel die kragtige bevestiging van God se woorde oor Homself. Hy staaf dit kort en kragtig. Hy speel nie met woorde nie, dit is gewoonlik ons as mense wat dit gereeld en maklik doen. Hy sê dit soos dit is!
Ek lees die verse vir ‘n vierde keer. Ek … is … God! Wat skryf 'n mens oor hierdie hemelse heilige woorde? Hoe probeer ek verduidelik wat hier bedoel word? Slegs die Heilige Gees kan jou diepste hartsnaar roer om jou tot die besef te bring met Wié jy te doen het. Kan my brein dit ooit slegs een present verstaan?
Tydlose woorde van ewigheidswaarde. Woorde wat uitgeskryf is in die hemelruim, wat uitgebeitel is op kliptafels, wat in ons harte gegraveer word en die beste van alles … ons name wat in God se handpalm gegraveer is, vir altyd! Geen tyd verbonde aan daardie onderneming nie. ‘n Tydlose belofte met geen punt na die sin nie.
Gebed: Vader, ek staan verstom … daar is niémand soos U nie.
Skryf by elke Maandag in jou dagboek die volgende woorde: “U is God. Ek is u kind met ‘n tydlose verbintenis wat nooit verval nie”.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
God is. Hy ís die begin en die einde. Hy het die heelal geskape en alles wat daarin bestaan. Hy is alomteenwoordig. Tydloos beteken dat “iets” (in dié geval God) só goed en mooi is, dat dit nie deur die samelewing geaffekteer kan word nie. Dit is waar, maar wat meer waar is, is dat ons God nooit sal kan ontleed nie. Want God ís tyd; Hy is tydloos binne ‘n wêreld wat deur horlosies en lyne in dagboeke regeer word.
More
Ons wil graag Felicia Lategan bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.felicia-lategan.com