TydloosVoorbeeld
Dag 2: Mistigheid
Jakobus 4:13-14: “Kom nou, julle wat sê: 'Vandag of more sal ons na dié en dié stad toe gaan en ‘n jaar lank daar bly, ons sal sake doen en wins maak.' Julle weet nie eers wat die lewe môre vir julle inhou nie! Julle is soos die oggendmis – dis vir ‘n rukkie sigbaar, en dan is dit weer weg” (NLV).
Een oggend terwyl ek besig was om my hare te stilleer, spuit ek haarsproei om elke haartjie mooi in plek te hou. Terwyl die haarsproei so wyd oor my kop hang, dink ek “kyk hoe lyk ek, so in die mis (en deur die mis!), en sekondes later is die “mis” net weg. Nie meer tasbaar of sigbaar nie.
Dis ‘n tydelike oplossing tot my haredos en voorkoms. Soos die dag verloop begin ek heel anders lyk; hitte verlep die keurig versorgde hare. Die sproei hou nie vir altyd nie, dis slegs ‘n klein rukkie sigbaar.
Om te beplan en georganiseerd te wees is goed en wys. Om ‘n goeie rentmeester van jou tyd te wees is baie indrukwekkend, maar ongelukkig bevestig die Woord dat ons soos oggendmis is, net ‘n asemteug – dit is so te sê niks! Tydloos … los van tyd, vinnig verby, onsigbaar.
Nie te lank gelede nie, het ek die nuus ontvang van ‘n skoolvriendin wat ernstig siek is. Binne enkele dae is sy oorlede. Netso. Vinnig. Sy het net drie dae vantevore met haar mooi glimlag nog iets ouliks op Facebook geplaas. Haar asem is uitgeblaas. Die sproei het verdwyn. Sy het waarskynlik vakansieplanne gehad of wou dalk nog daardie week by haar kinders gaan kuier het — dit was moontlik in haar dagboek aangeteken.
Tydlose planne. Vasgemaak aan die wind. Ons almal doen dit met goeie bedoelinge.
Gebed: Hemelse Vader, ek probeer besef wat die teksvers beteken. Ek weet net dat ek in elke asemteug wat U my toelaat, vir U baie nodig het. Leer my deur u Gees om my tyd nuttig aan te wend.
Jou elektroniese skedule of dagboek is vol blokkies, kleure en lyne. Neem ‘n doelbewuste besluit om ruimte te skep vir ‘n "asem-tydgleuf" saam met Jesus. Jy weet nie of dit jou laaste gesprek ooit gaan wees nie.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
God is. Hy ís die begin en die einde. Hy het die heelal geskape en alles wat daarin bestaan. Hy is alomteenwoordig. Tydloos beteken dat “iets” (in dié geval God) só goed en mooi is, dat dit nie deur die samelewing geaffekteer kan word nie. Dit is waar, maar wat meer waar is, is dat ons God nooit sal kan ontleed nie. Want God ís tyd; Hy is tydloos binne ‘n wêreld wat deur horlosies en lyne in dagboeke regeer word.
More
Ons wil graag Felicia Lategan bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.felicia-lategan.com