Vaste Fondament - Bou Jou Lewe op die Onwankelbare Waarheid van die Woord van GodVoorbeeld

Vaste Fondament - Bou Jou Lewe op die Onwankelbare Waarheid van die Woord van God

DAG 10 VAN 43

Week 2 / Wat is Sonde? Wie is Jesus?

Sonde: Wat is sonde?

Lees: Romeine 6:21-23

SOAP: Romeine 6:23

"Die loon wat die sonde gee, is die dood; die genadegawe wat God gee, is die ewige lewe in Christus Jesus ons Here."

Oordenking

Het jy al ooit gewonder wat die ware prys van sonde is? Romeine 6:23 herinner ons daaraan dat sonde op die dood en skeiding van God uitloop. Ons sien dit die eerste keer in Genesis 3 toe Adam en Eva se sonde daartoe gelei het dat hulle uit die tuin van Eden verban is, in die wete dat hulle eendag sou sterf.

Sonde is meer as net 'n lys van oortredings. Dit is enigiets wat ons dink, sê of doen wat teen God se heilige wet in opstand kom. Elke keer as ons leuens vertel, steel, uit selfsug of wellus optree, oortree ons God se gebooie. Dit is nie dat ons bloot kies om te sondig nie, maar ons is sondige wesens en nie in staat om goed te doen nie. Ons moet gered word.

Gelukkig voorsien God, in sy groot barmhartigheid, vir ons 'n manier om met Hom versoen te word. Hy het sy Seun, Jesus Christus, gestuur om ons sondes te dra en die regverdige straf daarvoor aan die kruis te betaal. Vir diegene wat in Hom glo, het Jesus sy geregtigheid vir ons gegee wat ons sondes wegneem en ons die ewige lewe bied. Dit is 'n vrye genadegawe.

Elke sonde is uiteindelik teen God, en dit laat 'n spoor van verwoesting en hartseer agter. Wanneer ons sy heiligheid erken, sien ons ons sonde soos dit werklik is.

As Christene is ons uit die greep van die sonde verlos, hoewel die aanwesigheid daarvan nog steeds in ons lewens voelbaar is. Terwyl ons ons sondes betreur en daadwerklik daarteen stry, moet ons onthou om ons krag van die Heilige Gees te verkry. Wanneer Jesus weer kom, sal daar nie meer sonde, lyding en dood wees nie. Hy sal die sonde vernietig en ons gaan dan vir ewig in volmaakte eenheid met God leef.

Onthou, Jesus het die straf vir ons sondes gedra. Deur Hom het jy oorwinning oor sonde. Gryp hierdie waarheid aan en laat dit jou help om versoeking te weerstaan en in gehoorsaamheid aan God te leef.

Gebed

Dierbare Jesus, dankie dat U die waarheid omtrent sonde geopenbaar het en aan my 'n manier voorsien om deur U vergewe te word. Help my om my sonde te sien soos dit is en in berou na U te kom. Versterk my deur u Gees om versoeking te weerstaan en so te leef dat U vereer word. In u Naam. Amen.

Dag 9Dag 11

Aangaande hierdie leesplan

Vaste Fondament - Bou Jou Lewe op die Onwankelbare Waarheid van die Woord van God

Hunker jy na 'n dieper, meer onwankelbare geloof? Begeer jy 'n sterker fondament in jou wandel met God? In hierdie sesweeklange Bybelstudie gaan ons 30 fundamentele waarhede van die Christelike geloof ondersoek. Elke dag gaan jy in 'n Bybelse waarheid delf, van God se natuur en die outoriteit van die Skrif, tot die belangrikheid van gehoorsaamheid en die hoop op die opstanding.

More

Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://afrikaans.lovegodgreatly.com/