Vaste Fondament - Bou Jou Lewe op die Onwankelbare Waarheid van die Woord van GodVoorbeeld
Sonde: Erfsonde
Lees: Romeine 5:12-21
SOAP: Romeine 5:12; Romeine 5:17
"Verder nog dít: Deur een mens het die sonde in die wêreld gekom en deur die sonde die dood, en so het die dood tot al die mense deurgedring, omdat almal gesondig het" (Romeine 5:12).
"Deur die oortreding van die een mens het die dood begin heerskappy voer deur hierdie een mens, maar deur die Een, Jesus Christus, is veel meer bereik: dié wat die oorvloed van genade en die vryspraak as gawe ontvang het, sal lewe en heerskappy voer" (Romeine 5:17).
Oordenking
Die leer oor erfsonde verduidelik dat sonde en die dood ontstaan het as gevolg van Adam se oortreding. Romeine 5:12 neem ons terug na die heel begin, na Adam en Eva se ongehoorsaamheid in die tuin van Eden. Deur hul ongehoorsaamheid het sonde en dood in die wêreld gekom. As gevolg daarvan het ons almal 'n sondige natuur geërf. Van die staanspoor van ons lewens af is ons geneig tot sonde en wil ons liewer doen wat ons wil in plaas daarvan om vir ons Skepper te leef en Hom te gehoorsaam.
Gelukkig is dit nie die einde van die verhaal nie. Hoewel Adam se sonde die dood gebring het, bied Romeine 5:17 'n boodskap van hoop. Dit herinner ons dat, alhoewel sonde deur Adam in die wêreld gekom het, genade en lewe deur Jesus Christus gekom het.
In ons daaglikse lewe kan ons maklik oorweldig voel deur ons onvolmaakthede en foute. Ons hou aan worstel met dieselfde ou sondige patrone. Dit is wat so mooi is oor God se genade — dit is nie iets wat ons kan verdien nie. Jesus, die sondelose, het ons sondes op Hom geneem en sy regverdigheid vir ons gegee. Wanneer ons op Hom vertrou, word ons ou, sondige natuur doodgemaak (Romeine 6:6). Ons word nuut gemaak en ontvang nuwe harte (Esegiël 36:26). Dit is nie net 'n teologiese begrip nie, maar 'n persoonlike werklikheid.
Dink net hoeveel vryheid dit meebring! Die vloek van die sonde bind ons nie meer nie. In plaas daarvan het ons 'n nuwe natuur ontvang, een wat God se wil doen. In ons daaglikse stryd met die sonde moet ons onthou dat Jesus ons sal vergewe en in staat stel om te doen wat reg is. Ons moet Hom net vra.
Gebed
Dierbare Jesus, dankie dat U die straf vir my sondes betaal het. Help my om die diepte van u genade te begryp en volkome op u kragtige geregtigheid (vryspraak) te vertrou. Dankie dat U my vrygemaak het van die vloek van die sonde en my regverdig in u oë gemaak het. In u Naam. Amen.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Hunker jy na 'n dieper, meer onwankelbare geloof? Begeer jy 'n sterker fondament in jou wandel met God? In hierdie sesweeklange Bybelstudie gaan ons 30 fundamentele waarhede van die Christelike geloof ondersoek. Elke dag gaan jy in 'n Bybelse waarheid delf, van God se natuur en die outoriteit van die Skrif, tot die belangrikheid van gehoorsaamheid en die hoop op die opstanding.
More
Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://afrikaans.lovegodgreatly.com/