Vaste Fondament - Bou Jou Lewe op die Onwankelbare Waarheid van die Woord van GodVoorbeeld
Sonde: Menslike Verdorwenheid
Lees: Romeine 3:9-23
SOAP: Romeine 3:10-12
"Daar staan immers geskrywe: 'Daar is nie een wat regverdig is nie, selfs nie een nie, daar is nie een wat verstandig is nie; daar is nie een wat na die wil van God vra nie. Almal het afgedwaal, almal het ontaard. Daar is nie een wat goed doen nie, selfs nie een nie.'"
Oordenking
Dit is belangrik om te weet dat die leer van algehele verdorwenheid 'n uitbreiding is van die leer van die sonde. Dit is 'n leer wat belangrik is om te verstaan omdat dit ons help om beter te verstaan hoe nodig ons Jesus het. Romeine 3:10-12 herinner ons dat sonde elke deel van ons lewens raak — ons gedagtes, emosies, optrede en verhoudings.
Algehele verdorwenheid daag die algemene opvatting uit dat mense van nature goed is. Dit wys eerder vir ons dat ons sondigheid stelselmatig en wydverspreid is. Wanneer ons ons lewens aan God se heilige standaard meet, sien ons dat wat ons op menslike vlak as goed mag beskou, ver tekortskiet. Geen hoeveelheid menslike goedheid kan ooit vergoed vir ons sonde of ons binne bereik van God se heiligheid bring nie. Sonde het ons ten diepste besmet, en daarom is ons nie in staat om op ons eie goed te doen nie, hoe hard ons ook al probeer.
Dit is hier waar die prag van die evangelie die helderste skyn. Ten spyte van ons onvermoë om onsself te red, tree God in met sy barmhartigheid en genade. Barmhartigheid is om nie te kry wat ons verdien nie, en genade is om te kry wat ons nie verdien nie. God reik in liefde na ons uit, en bied verlossing en herskepping deur geloof in Jesus Christus (Efesiërs 2:8-9).
Dit is belangrik om te onthou dat ons pogings nie ons sondeprobleem kan oplos nie. Net God kan ons harte verander. Deur sy genade gee Hy vir gelowiges die gawe van die Heilige Gees wat in ons woon, sodat ons deur sy werk en ons gehoorsaamheid in staat gestel word om goed te doen en 'n regverdige lewe te lei.
As Christene moet die begrip van algehele verdorwenheid ons lei om deernis te hê vir diegene wat Jesus nie ken nie. Hulle optrede word beïnvloed deur hulle sondige natuur. Dit behoort ons aan te spoor om die evangelie met dringendheid en liefde te deel. Ons weet net God kan ware verandering en vryheid van sonde teweegbring.
Gebed
Dierbare Jesus, dankie vir u genade. Help my om die diepte van my sonde en die grootheid van u barmhartigheid te begryp. Verander my hart en lewe deur u Gees. Gebruik my om u liefde en waarheid te deel met diegene wat U nie ken nie. In u Naam. Amen.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan
Hunker jy na 'n dieper, meer onwankelbare geloof? Begeer jy 'n sterker fondament in jou wandel met God? In hierdie sesweeklange Bybelstudie gaan ons 30 fundamentele waarhede van die Christelike geloof ondersoek. Elke dag gaan jy in 'n Bybelse waarheid delf, van God se natuur en die outoriteit van die Skrif, tot die belangrikheid van gehoorsaamheid en die hoop op die opstanding.
More
Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://afrikaans.lovegodgreatly.com/