Vaste Fondament - Bou Jou Lewe op die Onwankelbare Waarheid van die Woord van GodVoorbeeld

Vaste Fondament - Bou Jou Lewe op die Onwankelbare Waarheid van die Woord van God

DAG 17 VAN 43

Week 3 / Wat Het Jesus Gedoen?

esus Christus: Sondelose Lewe

Lees: Hebreërs 4:14-16; 1 Petrus 2:21-25

SOAP: Hebreërs 4:15; 1 Petrus 2:22

“Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie” (Hebreërs 4:15).

“Hy het geen sonde gedoen nie en uit sy mond het daar nooit 'n leuen gekom nie” (1 Petrus 2:22).

Oordenking

Jesus se lewe is ‘n perfekte kombinasie van Goddelikheid en menslikheid, wat deur sy sondelose lewe uitgebeeld is. Hebreërs 4:15 verseker ons dat Jesus sondeloos gebly het alhoewel Hy in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp is.

Hoekom is Jesus se sondelose lewe so noodsaaklik vir ons geloof? Eerstens, het sy sondelose lewe Hom in staat gestel om die volmaakte offer vir ons sondes te wees. Ten einde vir die mensdom se sondes te betaal, moes Jesus vlekkeloos wees, sonder enige sondevlek. Net soos die Israeliete volgens die wet van Moses ‘n vlekkelose lam as ‘n offer vir hul sondes moes bring, staan Jesus in as ons vlekkelose lam. Nog belangriker, sy offer was eens en vir altyd. Ons hoef nie soos die gelowiges van die Ou Testament aanhoudend sonde-offers te bring nie. Jesus het dit gedoen en dit was genoeg.

Verder was Jesus se sondelose lewe nodig om God se wet volkome te vervul. Romeine 5:18-21 verduidelik dat net soos een oortreding gelei het tot veroordeling van almal, lei een daad van gehoorsaamheid tot vryspraak van almal. Jesus se hele lewe was ‘n daad van gehoorsaamheid, wat met sy offerdood aan die kruis ‘n hoogtepunt bereik het. Deur sy sondelose lewe het Jesus ons sonde vir sy geregtigheid verruil, sodat ons vrygespreek voor God kan staan (2 Korintiërs 5:21).

Jesus se sondelose lewe dien as ‘n kragtige voorbeeld vir ons. Alhoewel ons nooit sal regkry om aan hierdie kant van die hemel sondeloos te lewe nie, wys sy voorbeeld vir ons die belangrikheid daarvan om na heiligheid te strewe en om op God se krag staat te maak om versoeking te weerstaan. Jesus se lewe herinner ons dat ons nie op hierdie reis alleen is nie, maar dat ons bemagtig word deur die Heilige Gees wat ons lei en daagliks in ons werk om meer soos Christus te word.

Gebed

Dierbare Jesus, dankie dat U ‘n sondelose lewe gelei het en die volmaakte offer vir ons sondes geword het. Help my om te begryp hoe belangrik u volmaakte gehoorsaamheid en strewe na heiligheid in my lewe is. Help my om u voorbeeld na te volg en ‘n lewe te lei wat U vereer. In u Naam. Amen.

Dag 16Dag 18

Aangaande hierdie leesplan

Vaste Fondament - Bou Jou Lewe op die Onwankelbare Waarheid van die Woord van God

Hunker jy na 'n dieper, meer onwankelbare geloof? Begeer jy 'n sterker fondament in jou wandel met God? In hierdie sesweeklange Bybelstudie gaan ons 30 fundamentele waarhede van die Christelike geloof ondersoek. Elke dag gaan jy in 'n Bybelse waarheid delf, van God se natuur en die outoriteit van die Skrif, tot die belangrikheid van gehoorsaamheid en die hoop op die opstanding.

More

Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://afrikaans.lovegodgreatly.com/