Vaste Fondament - Bou Jou Lewe op die Onwankelbare Waarheid van die Woord van GodVoorbeeld
Jesus Christus: Wederkoms
Lees: Jesaja 25:8-9; Openbaring 1:7
SOAP: Jesaja 25:8-9; Openbaring 1:7
“Hier sal die Here God die dood vir ewig vernietig, en die trane op almal se gesigte afvee. Oor die hele aarde sal Hy die smaad verwyder wat sy volk aangedoen is. Die Here het dit gesê. Wanneer dit gebeur, sal elkeen sê: Kyk daar, dit is ons God, ons het op Hom vertrou, Hy het ons gered. Dit is die Here! Ons het op Hom vertrou. Laat ons bly wees en juig omdat Hy ons gered het” (Jesaja 25:8-9).
“Kyk, Hy kom met die wolke, en al die mense sal Hom sien, ook hulle wat Hom deurboor het; en al die volke van die aarde sal oor Hom in selfverwyt weeklaag. Ja, dit is seker!” (Openbaring 1:7).
Oordenking
Die wederkoms van Christus staan as 'n baken van hoop vir gelowiges, wat die weg deur die beproewings en verdrukking van hierdie wêreld verlig. Jesaja 25:8-9 gee 'n pragtige visioen van hierdie belofte waar ons eendag vir ewig en altyd by ons Verlosser sal wees. Daar sal nie meer seer, hartseer of trane wees nie. Alles sal nuut- en reggemaak word terwyl ons in God se volmaakte koninkryk leef.
Hierdie komende gebeurtenis verseker ons dat die dood nie die finale sê het nie. Jesus sal terugkeer en sy ewige koninkryk vestig en opstanding en volmaakte geregtigheid bring (Openbaring 1:7).
Alhoewel ons nie weet wanneer dit sal gebeur nie en nie die tyd kan voorspel nie, kan ons vertrou dat al God se beloftes waar en seker is.
Ons hoop is stewig gewortel in die sekerheid van Jesus se wederkoms. Terwyl ons wag, is ons gevul met afwagting en gereedheid (Titus 2:13). Ons sien nie net uit na die koninkryk wat Hy sal vestig nie, maar om by die Koning self te wees.
Die verwagting van Christus se wederkoms behoort ons daaglikse lewe te beïnvloed. Elke oomblik dra ewige betekenis. Ons gebede, koninkrykswerk en evangelisasie is 'n integrale deel van God se plan vir daardie heerlike dag. Terwyl ons smag na sy wederkoms, is ons optrede en getrouheid van kardinale belang om ons volharding tot sy koms te ontwikkel.
Gebed
Dierbare Jesus, dankie vir die belofte van u wederkoms. Help my om in gretige afwagting van daardie dag te leef en elke oomblik vir u koninkryk te laat tel. Versterk my geloof en vul my met hoop terwyl ek op u wag. In u Naam. Amen.
Aangaande hierdie leesplan
Hunker jy na 'n dieper, meer onwankelbare geloof? Begeer jy 'n sterker fondament in jou wandel met God? In hierdie sesweeklange Bybelstudie gaan ons 30 fundamentele waarhede van die Christelike geloof ondersoek. Elke dag gaan jy in 'n Bybelse waarheid delf, van God se natuur en die outoriteit van die Skrif, tot die belangrikheid van gehoorsaamheid en die hoop op die opstanding.
More
Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://afrikaans.lovegodgreatly.com/