Vaste Fondament - Bou Jou Lewe op die Onwankelbare Waarheid van die Woord van GodVoorbeeld
Jesus Christus: Kruisiging
Lees: Jesaja 53:5; 1 Petrus 3:18
SOAP: Jesaja 53:5; 1 Petrus 3:18
“Oor óns oortredings is hy deurboor, oor óns sondes is hy verbrysel; die straf wat vir ons vrede moes bring, was op hom, deur sý wonde het daar vir ons genesing gekom” (Jesaja 53:5).
“Ook Christus het een maal vir die sondes gely, die onskuldige vir die skuldiges, om julle na God te bring, Christus wat as mens doodgemaak is, maar deur die Gees lewend gemaak is” (1 Petrus 3:18).
Oordenking
Die kruisiging van Jesus Christus is die kern van die Christelike geloof. Dit is deur sy dood aan die kruis wat ons die grootste uitdrukking van God se liefde en die weg na ons verlossing vind. Van die begin af het God ‘n plan gehad om sy volk deur ‘n Verlosser vry te maak (Genesis 3:15). Jesus se dood was nie ‘n fout of ‘n plan B nie. Inteendeel, Jesus het gewillig na die kruis gegaan om ‘n grusame dood te sterf sodat jy en alle mense verlos kon word en regverdigheid by ons hemelse Vader kon verkry.
Elke sonde verdien regverdige straf en betaling. Jesus se posisie as die Seun van God asook sy sondelose en gehoorsame lewe het sy offer vir eens en vir altyd voldoende gemaak.
Die kruisiging was nie net ‘n tragiese gebeurtenis nie; dit was die vervulling van God se verlossingsplan. Jesus het gewillig sy lewe neergelê en die las van ons sondes gedra. Hierdie onselfsugtige liefdesdaad het voldoen aan die geregtigheid van God, wat nie sonde kan oorsien nie. Deur ons sondes te dra, het Hy gewilliglik die straf wat ek en jy verdien op Hom geneem. Jesus het dit moontlik gemaak om vergifnis te ontvang en in ‘n regverdige verhouding met God versoen te word.
Deur geloof in sy dood en opstanding, verkry ons nuwe harte, vrede en genesing (Jesaja 53:5).
Die kruisiging openbaar ook die wonderbare diepte van God se liefde vir ons — Hy was gewillig om sy eie Seun prys te gee om ons te red. Hierdie genadedaad is die fondament van ons geloof en die versekering van ons verlossing.
Gebed
Dierbare Jesus, dankie vir u wonderbare offer. Help my om die diepte van u liefde en die belangrikheid van die kruisiging te begryp. Mag ek my lewe leef in dankbaarheid vir die verlossing wat ek deur u dood aan die kruis ontvang het. In u Naam. Amen.
Aangaande hierdie leesplan
Hunker jy na 'n dieper, meer onwankelbare geloof? Begeer jy 'n sterker fondament in jou wandel met God? In hierdie sesweeklange Bybelstudie gaan ons 30 fundamentele waarhede van die Christelike geloof ondersoek. Elke dag gaan jy in 'n Bybelse waarheid delf, van God se natuur en die outoriteit van die Skrif, tot die belangrikheid van gehoorsaamheid en die hoop op die opstanding.
More
Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://afrikaans.lovegodgreatly.com/