Ons God Wat Ons Opsoek - Om Ons Na Hom Terug Te Lei. 'n Studie van Vyf Klein ProfeteVoorbeeld

Ons God Wat Ons Opsoek - Om Ons Na Hom Terug Te Lei. 'n Studie van Vyf Klein Profete

DAG 12 VAN 29

Gebede Vanuit die Diepte

Lees: Jona 1:17-2:10

SOAP: Jona 2:2

“In my nood het ek tot die Here geroep, en Hy het my gebed verhoor.

Diep in die doderyk het ek hulp gevra, en U, Here, het my gehoor.”

Oordenking

Jona was op die laagste punt in sy lewe, letterlik en figuurlik. Dit sou vir hom maklik gewees het om God te blameer en verbitterd te raak. In plaas daarvan het Jona besef dat dit deur sy eie toedoen was dat hy in die maag van ‘n groot vis beland het. Let op wat Jona doen. Hy roep uit in gebed.

Jona stort sy hart voor die Here uit. Sy gebed is rou en opreg. En wat doen God? Hy hoor en antwoord.

In ons donkerste valleie hoor God ons gebede. Hy gee vir ons om en reageer, miskien nie onmiddellik of op die manier wat ons verwag nie. Maar Hy hoor altyd.

Party van ons bevind ons dalk in die diepte as gevolg van ons eie optrede. Indien wel, roep uit na Jesus. Hy wil ‘n verhouding met jou hê. Geen sonde is te groot vir die kruis en Christus se genade nie. Al wat jy moet doen, is om in geloof te bid en om vergifnis te vra.

God verlos verlorenes of dié wat in die diepte vasgevang is. Jou laagste oomblikke of seisoene van die lewe is nie tevergeefs nie. Daar is hoop in Jesus te vind.

Ander bevind hulle dalk in die diepte as gevolg van moeilike lewensomstandighede of ander se toedoen. Weet dat jy nie alleen is nie. Jy is nie vergeet nie. Hierdie seisoene kan lank en uitmergelend voel, maar dit is nie die einde van jou verhaal nie. Dawid skryf in Psalm 23: “Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my” (Psalm 23:4). Roep uit na God in jou seer en pyn. Dit sal Hom nie onkant vang nie. Vertrou op Hom om jou krag vir elke dag te gee.

Jona se gebed het sy hart weer op God ingestel sodat hy gereed sou wees om God se opdrag om na Nineve toe te gaan, getrou uit te voer. Mag jou gebede vandag vir jou vrede en vertroue bring in die enigste plek waar ware lewe te vinde is, in Christus. Net soos Jona se verhaal nog nie klaar was nie, is joune ook nie.

Gebed

God, ek het U nou nodiger as ooit. Die lewe is moeilik en pynlik en ek het u vrede en krag vandag nodig. Dankie dat U ‘n God is wat hoor, omgee en antwoord. Mag ek net op U staatmaak om my deur die donker valleie te help kom. Amen.

Aangaande hierdie leesplan

Ons God Wat Ons Opsoek - Om Ons Na Hom Terug Te Lei. 'n Studie van Vyf Klein Profete

God se Woord bied ‘n boodskap van hoop. Selfs te midde van sonde en swaarkry, hou God nooit op om ons op te soek en na Hom terug te lei nie. In hierdie Bybelstudie gaan ons in die boeke van die klein profete delf om God te sien wat ons opsoek en wat beide getrou en regverdig is. Hierdie dagstukkies sal jou help leer hoe ‘n lewe van gehoorsaamheid lyk.

More

Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: www.lovegodgreatly.com/Afrikaans