EsterVoorbeeld

Week 6 / God se Plan Seëvier
God bied 'n Beter Weg
Lees: Ester 7:9-10; Spreuke 26:27
SOAP: Spreuke 26:27
"Wie ‘n gat vir ‘n ander grawe, val self daarin; die klippe wat hy gooi, sal na hom toe terugkom."
Oordenking
Dikwels sien ons 'n tema van wraak afspeel in flieks of TV-programme ─ een persoon stel 'n lokval vir 'n ander; net sodat dit op die ou end in sy eie gesig “opblaas”. Dit is maklik om dit af te maak as net nog ‘n tema vir vermaak. Die waarheid is egter dat ons in die werklike lewe in dieselfde strik kan trap. Alhoewel ons dalk nie doelbewus fisieke skade vir ander beplan nie, is ons woorde dikwels die skerpste wapen.
Skinderpraatjies, kwetsende opmerkings of om saadjies van twyfel oor iemand te saai, kan ernstige skade aan ander én aan onsself veroorsaak. Wanneer ons toelaat dat bitterheid of 'n begeerte vir wraak in ons harte wortel skiet, benadeel ons nie net diegene teen wie ons praat nie; deur hierdie gevoelens te koester beskadig ons ook ons eie siele. Met verloop van tyd kan ons vind dat ons woorde terugkom om by ons te spook, wat ons reputasie en ons verhoudings beïnvloed. Wat ons gedink het 'n oomblik van bevrediging sou wees, verander in 'n put wat ons vir onsself gegrawe het.
God bied ons egter 'n beter manier ─ 'n weg van liefde, genade en vergifnis. In plaas daarvan om wraak te neem of ons woorde te gebruik om ander af te breek, word ons geroep om God te vertrou met ons seerkry en om Hom toe te laat om die regverdige regter te wees. Wanneer ons die begeerte na vergelding laat vaar en vergifnis kies, bevry ons onsself uit die strik van bitterheid en vind ons vrede in sy liefde.
Liewe vriendin, is daar iemand teen wie jy 'n wrok koester? Is jy in die versoeking om sleg te praat van iemand wat jou seergemaak het? Neem daardie las na God toe. Vertrou Hom om die situasie te hanteer en vra Hom om eerder jou hart met sy liefde en genade te vul.
Gebed
Here Jesus, help my om my begeerte tot wraak te los en my seer in u hande te plaas. Leer my om U te vertrou met die mense wat my kwaad aangedoen het en om eerder met liefde en vergifnis te reageer. Vul my hart met u genade, en help my om daardie genade aan ander te weerspieël. Amen.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan

In 'n wêreld wat daagliks 'n uitdaging op ons geloof plaas, is dit meer belangrik as ooit om sterk en dapper te wees en op te staan vir wat reg is. Die boek Ester is tydloos en is net so toepaslik vir ons lewens vandag. Kom ons leer van Ester om te kies om dapper te wees en die regte ding te doen, te midde van onsekerheid.
More
Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: www.lovegodgreatly.com/Afrikaans