EsterVoorbeeld

'n Ander Weg
Lees: Ester 9:23-10:3
SOAP: Ester 10:3
“Die Jood Mordegai was tweede in bevel onder koning Ahasveros. Hy was hoog in aansien by die Jode en gewild by al sy volksgenote. Hy het hom vir die welvaart van sy mense beywer en die veiligheid van al hulle nakomelinge verseker.”
Oordenking
Mordegai se lewe is so 'n pragtige voorbeeld van nederige diens. Hy het nie roem of erkenning gesoek nie, maar tog is hy geëer en verhef vanweë sy toewyding aan die welsyn van sy mense. Daarteenoor het Haman se trots en ambisie tot sy ondergang gelei. Terwyl Haman gesmag het na mag en eer, het Mordegai stilweg tot voordeel van ander gewerk, en dit was Mordegai wat uiteindelik gevier is.
Wat 'n kragtige les vir ons! In 'n wêreld wat dikwels selfbevordering en ambisie waardeer, wys Mordegai vir ons 'n ander weg – een van nederigheid, diens en soeke na die beswil van ander. Sy hart was in lyn met God se voornemens, en hy was bereid om namens sy volk te praat en op te tree. En daarom het God hom vereer op 'n manier wat Haman se skelmstreke nooit kon bereik nie.
Liewe vriendin, waar roep God jou om namens sy mense te werk? Is daar iemand in jou lewe wat aanmoediging nodig het, iemand wat jou stem nodig het om vir hulle te pleit? Soos Mordegai, is ons geroep om die welsyn van ander te soek, nie vir persoonlike gewin nie, maar uit liefde en gehoorsaamheid aan God. Wanneer ons met 'n nederige hart dien, sien God ons getrouheid raak, en Hy is die Een wat ons op sy perfekte tyd eer.
Kom ons wees vroue wat poog om op te bou, vrede te spreek en ten goede te werk van diegene rondom ons, met die vertroue dat God in en deur ons lewens vir ons beswil en sy eer werk.
Gebed
Here Jesus, dankie dat U ten goede van u mense werk. Dankie vir die verhaal van Ester en die manier waarop dit ons herinner dat U altyd by ons is, ons lei en ons beskerm. Help my om met 'n nederige hart te dien, soos Mordegai, en om die welsyn van ander te soek. Mag ek my lewe lei om u koninkryk te bevorder en eer aan u naam te bring. Amen.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan

In 'n wêreld wat daagliks 'n uitdaging op ons geloof plaas, is dit meer belangrik as ooit om sterk en dapper te wees en op te staan vir wat reg is. Die boek Ester is tydloos en is net so toepaslik vir ons lewens vandag. Kom ons leer van Ester om te kies om dapper te wees en die regte ding te doen, te midde van onsekerheid.
More
Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: www.lovegodgreatly.com/Afrikaans