EsterVoorbeeld

Ester

DAG 41 VAN 43

Deel en Vier

Lees: Ester 9:11-22; Psalm 71:24

SOAP: Psalm 71:24

“Ek sal die hele dag deur praat van u verlossingswerk, want dié wat my ondergang soek, staan teleurgestel in hulle verwagting; hulle beland self in die ellende.”

Oordenking

Toe die Jode hulle vyande verslaan het, het hulle nie daaroor stilgebly nie. Hulle het dit gevier! Hulle het bymekaargekom om God se regverdige hulp te onthou en om Hom te loof vir die oorwinning wat Hy aan hulle gegee het. Ek kan my voorstel hoe hulle tydens die Purimfees om die tafel sit en die verhaal vertel van hoe God hulle van hulle vyande verlos het, en deel hoe Hy hulle vyande in die skande gebring het. Hulle harte moes oorgeloop het van dankbaarheid terwyl hulle hul verheug het in die God wat hulle gered het.

Wat van ons, liewe vriendin? Praat ons oor wat God in ons lewens gedoen het? Ruim ons tyd in om met ander te deel hoe Hy ons gebede verhoor het, ons gevegte geveg het en gewerk het op maniere wat ons nooit verwag het nie? Ons beweeg dikwels van een gebedsversoek na die volgende en vergeet om stil te staan ​​en na te dink oor die wonderlike maniere waarop God reeds gewerk het.

Daar is soveel krag daarin om ons verhale van God se getrouheid te deel. Wanneer ons van sy goedheid praat, gee ons Hom nie net die eer en heerlikheid wat Hy verdien nie, maar ons bemoedig ook die harte van diegene rondom ons. Kom ons wees vroue wat praat oor wat die Here in ons lewens doen! Kom ons wees doelbewus om sy goedheid te deel en Hom te loof vir alles wat Hy gedoen het.

Dink 'n oomblik hieroor na: Wat het God vir jou gedoen waaroor jy jou vandag kan verheug? Met wie kan jy dit deel? Kom ons vier saam sy getrouheid!

Gebed

Here Jesus, dankie vir die ontelbare maniere wat U in my lewe gewerk het en die vyande verslaan het wat probeer het om my skade aan te doen. Help my om U te eer deur van u goedheid te praat en te deel hoe U my gebede beantwoord het. Mag my lewe 'n weerspieëling wees van u liefde, genade en krag. Amen.

Dag 40Dag 42

Aangaande hierdie leesplan

Ester

In 'n wêreld wat daagliks 'n uitdaging op ons geloof plaas, is dit meer belangrik as ooit om sterk en dapper te wees en op te staan vir wat reg is. Die boek Ester is tydloos en is net so toepaslik vir ons lewens vandag. Kom ons leer van Ester om te kies om dapper te wees en die regte ding te doen, te midde van onsekerheid.

More

Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: www.lovegodgreatly.com/Afrikaans